Hoe kleiner die plek, hoe groter sy geheime. Lekespeurder Ludo Labuschagne sit saam met ’n vriendin af na die Overberg. Kort voor lank verdwyn mense daar tussen neus en ore. Net om weer hul opwagting te maak. As lyke … Die spanning kring uit. Aanvalle. Afpersing. ’n Berekende blik agter ’n gemoedelike plattelandse glimlag.
François Bloemhof is in die 1960's in die Paarl gebore. Hy het in 1991 op die Suid-Afrikaanse literêre toneel verskyn as De Kat-pryswenner met sy debuutroman "Die nag het net een oog". Sy volgende drie boeke was almal op 'n manier spanningsverhale, voor moeilik klassifiseerbare tekste soos "Storieboek", "Hostis" en "Klipgooi".
Omdat jonger lesers van sy boeke gehou het, het hy ook spesifiek vir hulle begin skryf, met soveel sukses dat hy 'n ruk lank net daarop gekonsentreer het. Hy het gou 'n klomp ATKV-Veertjies ('n kompetisie waarin jong lesers self hul wenboeke aanwys) op sy rak gehad, asook pryse vir die tienermark, insluitend vir "Slinger-slinger" en "Nie vir kinders nie" (in Tafelberg en Sanlam se Jeuglektuurwedstryd) en "Stad aan die einde van die wêreld" (in die Maskew Miller Longman Literêre Kompetisie).
Nadat hy vyf jaar lank nie vir die volwasse mark iets gelewer het nie, het Bloemhof teruggekeer na die genre waarmee hy begin het met "Spinnerak", met Alma van der Pool as die heel eerste vrouespeurder in Afrikaanse fiksie. Sy maak weer so in "Jagseisoen" (2007).
Met verwysing na wat Alfred Hitchcock eenmaal gesê het, het Bloemhof al opgemerk: "Party mense skryf 'slices of life'. Ek het nog altyd 'slices of cake' verkies."
François Bloemhof was born in the 1960s in Paarl. He made his debut on the South African literary scene in 1991 by winning the De Kat prize for his novel "Die nag het net een oog". His next three books were all thrillers of some sort, before he published largely unclassifiable works like "Storieboek", "Hostis" and "Klipgooi".
Because younger readers liked his books, he began to also write specifically for them, with such success that he became sidetracked for a while. He soon had a host of ATKV-Veertjies (a competition in which young readers select the winning books themselves) as well as prizes for the teenage market, including for "Slinger-slinger" and "Nie vir kinders nie" (in the Tafelberg/Sanlam Youth Literature Competition) and "Stad aan die einde van die wêreld" (in the Maskew Miller Longman Literary Competition).
After a five-year layoff from the adult fiction market, Bloemhof returned to the genre in which he started with "Spinnerak", featuring Alma van der Pool, the first ever female detective in Afrikaans fiction. She returned in "Jagseisoen" (2007).
With reference to a one-time comment by Alfred Hitchcock, Bloemhof has remarked: "Some people write slices of life. I've always preferred slices of cake."
As April 1984 ʼn klankbaan gehad het, sou dit “Shaddap your face” van Joe Dolce Music Theatre naas die jeugdige David Scobie se “Gypsey Girl” as hoofsnitte gehad het. Dis nou as ek kon gekies het. Dit was die seisoen van die groot romanse tussen die beeldskone Diana Spencer en haar prins, die aanslag op Ronald Reagan se lewe, en die nikotien-krakende stem wat aankondig: “Lexington, thaaaaaaaaat’s the one!”
Dis teen hierdie agtergrond wat die selfaangestelde privaat speurder, Ludo Labuschagne, homself in die Bredasdorp-omgewing bevind. En waar Ludo is, is daar moeilikheid. Mense verdwyn lewendig en word morsdood gevind. Hy begin krap en geraamtes tuimel uit kleindorpse kaste.
Ludo se aanhangers is welbekend met die feit dat hierdie knapie sku is vir werk. Ook dat hy ‘n besondere uitkyk op die lewe het en dit tydig en ontydig met sy lesers in die eerste persoon narratief deel. Ongefilterd. Sy beskrywings van mense wat sy pad kruis is sardonies in die oortreffende trap. ‘n Vervelige karakter se gesig “...is soos ‘n dorre landskap waarop jy desperaat na voetspore of enige ander tekens van menslike lewe soek.” (105), ‘n suurknol se kop is “...rond soos ‘n mosbolletjie. Donker ogies. ‘n Knopie van ‘n neus en ‘n smal mondjie wat beteken sy kan net klein happies kos vat op ‘n slag. Alles saamgegooi in die middel van haar gesig. Moeder Natuur moes dringend elders wees.” (107), en ‘n ampsdraer se snor “...is nie eweredig nie... Dis asof die harige wurm nie beïndruk was met wat hy in Kaptein Louw Niemand se regteroor aangetref het nie, en nou na die ander een toe op pad is.” (134)
Newekarakters kry wel ‘n beurt om as fokalisator op te tree, selfs ‘n hond word die voorreg nie ontsê nie, maar, ooreenkomstig die skrywer se belofte in die voorwoord, kry niemand ‘n tweede kans nie. Dis is tog Ludo se storie. Oudergewoonte deel Ludo sy kennis met die leser en systap derhalwe die tradisionele Agatha Christie ontknoping waarvan tereg gesê kan word: “Hercule Poirot het partykeer clues wat die leser nie het nie. Wat help dit dan? Die oplossing kom van nêrens.” (32) Die lees van die boek is analoog aan ‘n intieme gesprek tussen die leser en Ludo, met ‘n tikkie verbeelding kan die leser ervaar hoedat hy vertroulike waarnemings agter ‘n bakhand sit en fluister.
Hierdie roman volg grootliks die suksesresep van sy drie voorgangers, met een belangrike uitsondering: Daar word geen beloftes van ‘n opvolg gemaak nie. Terug na die voorwoord, waar die skrywer self verduidelik dat lekkerkry, in watter gedaante ook al, moet eindig terwyl dit nog lekker is. In die geval van ‘n boekreeks, moet die leser verkieslik ‘n bewonderaar bly, eerder as om in ‘n tongklikkende simpatiseerder met die skrywer/karakter te ontaard omdat die eindfluitjie op dowe ore geval het.
As hierdie Ludo se swanesang was, is dit ongetwyfeld ‘n hoogtepunt wat ‘n encore verdien. ⭐️⭐️⭐️⭐️⭐️ #Uitdieperdsebek
Ek het nie vir Ludo Labuschagne “ontmoet” in boek een van hierdie reeks nie, eers in die derde boek, Blou moord (#3). Dit het gevolg op Die duiwel maak my hart so seer (#1) en Kry vir jou (#2). Hy is ’n knaap van vier en twintig, wat nog, in sy eie woorde, op sy ma se nek lê. Sy pa en ma is vervreemd maar nie amptelik geskei nie. Daar is ’n oom Dippie in die prentjie, maar hy en Ludo het nie erg aan mekaar nie. Die unieke resep van die reeks is dat dit geplaas word in 1981, met grepe uit die wêreldgeskiedenis en plaaslike gebeure van daardie era, kompleet met gewilde musiek, lirieke waarvan telkens opduik. Ludo beplan om as lekespeurder, elke maand ’n saak op te los, sake wat by hom kom aanmeld. Die skrywer se inleidende hoofstuk maak reeds vir interessante leesstof oor hierdie, maar ook sy vorige reekse. ’n Verdere kenmerk van die Ludo-reeks is dat hy in die eerste persoon vertel, maar ander karakters ook kans kry om te fokaliseer. Dit gee uiteraard ’n wyer perspektief en skep spanning. Ludo loop ontvoerings, pornografie, afpersing en moord, selfs aanranding en noue ontkomings op die lyf wanneer hy in April op Bredasdorp sy vierde #wiedoenit begin ondersoek. Ek het gevoel die aanloop was effens lank, met sy pogings om sy pa en ma weer aan’t gesels te kry, maar daarna neem die storie ’n gemaklike pas aan. Persoonlik het ek die verteltrant geniet, deurspek met fyn humor. Ek kon ook goed identifiseer met die tagtigs, waar ons self jonggetroudes was, met basaartafels, telefoonhokkies en kassette. ’n Speurverhaal met ’n (baie duidelike) verskil wat ek kan aanbeveel as jy nie noodwendig ’n moderne aanslag verwag in jou leesstof nie. En ook nie ’n held wat alles onder beheer het nie, want daarvoor loop daar heeltemal te veel dinge skeef.
Ek het uitgesien na hierdie boek! Bloemhof se 'Blou Moord' was die eerste van sy boeke wat ek ooit gelees het, en ek was dadelik 'n aanhanger. In 'Oor jou Dooie Liggaam' kry ons weer te doen met Ludo Labuschagne - 'n meer besadigde weergawe.
Bloemhof se skryfstyl is vir my baie vermaaklik. Hy het 'n skerp sin vir humor en sy taalvaardigheid laat hom toe om lekker te speel met woorde (soos die dorp se loslyfie wat hy die 'dorpsmatras' gedoop het, wat skynbaar hard gewerk het om genoegsame ondervinding op te doen🤣). Die balans tussen drama, emosies, humor en verskeie storielyne is so goed dat dit my geboei het tot die (baie verrassende) ontknoping. Nog iets wat ek geniet het is dat hy telkens aan die begin van 'n gedeelte na geskiedkundige gebeure uit die era verwys het vir konteks. Natuurlik het ek die lirieke uit gewilde musiek uit dieselfde era ook geniet en telkens die woorde gesing in plaas daarvan om dit net te lees. Ek het op geen oomblik 'n idee gehad wíe die skuldige is nie! Net gewonder waar is die 2e baba...
Ludo is terug, en sy speurvernuf is nou al gelsyp - of so het hy gedink. Maar draai die kwansuise rustigheid van die platteland hom nie dalk 'n rat voor die oë nie? Kan jy ooit seker wees dat jy régtig iemand ken? Francois het my, soos in die verlede om sy pinkie gedraai met die lekker, gemaklike vloei van die storie. En sy 'curve ball'-slot het my wind uitgeslaan. Hy sê nou wel dis Ludo se laaste avontuur - maar mens kan hoop, kan mens nie? Francois, vir dié een kry jy van my af 10 uit 10.
Oor jou dooie liggaam het beslis 'n einde wat mens nie verwag het nie. Hierdie is nie regtig my beste speurverhaal nie. Daar is te veel opvullers wat nie veel met die werklike storielyn te doen het nie. Dit maak dat dit 'n langdradige leesery afgee, terwyl mens eerder meer van die werklike storielyn wil weet.
Wat 'n perfekte einde vir 'n vars en 'anderste' reeks! Hierdie een het my hardop laat sê 'huh' aand die einde, en ek kan nie wag om binnekort sommer weer al 4 boeke te lees nie. Sommer vir die lekker. Gooi jou glas wyn, kry die kombers... Hierdie een gaan jy nie wil neersit nie.