Die verdwyning van ’n doodgewone ou wat verskriklike dinge oorgekom het – en ’n nog erger ding aangevang het – en sy drome oor ’n eiland en ’n eienaardige waterwese ... en ’n nuwe begin. Elke voortvlugtige is ’n ontdekkingsreisiger en elke reisiger ’n vlugteling, en Adam Richter was geen uitsondering nie. Daar was wraak by die dam en ’n storm op die see en smokkelaars en hippies en gewone tortelduiwe en enorme vlermuise, en later ’n hardkoppige rooikop – onder andere.
Sy lewe was nie een lang, uitgerekte verhaal soos die van meeste ordentlike mense nie. Eerder ’n bondel erg teenstrydige stories, in chaos verweef. Van hulle was naïef en onskuldig. Van hulle wreed en donker en verskriklik en selfs boos ... maar van hulle so beautiful soos die bewegings van Lamu se laaste doegong. Dis moeilik om te glo dat so iemand rêrig bestaan, sou die mense later sê, want vreemde dinge het gebeur. Dinge wat hom soos ’n onsigbare magneet noord sou trek, seelangs, die laaste wildernis in. Want Adam het ’n geheim gehad, so groot dat hy eers moes doodgaan en wegraak voor hy kon opstaan en oor begin.
Jaco Strydom is die leier van Echo Jeugontwikkeling ('n Organisasie sonder winsoogmerk met o.a. 13 huise vir jongmense in nood) en is deeltyds gekoppel aan Villieria Gemeente. Hy is 'n rubriekskrywer vir verskeie publikasies. Meer 200 van sy artikels en rubrieke het die afgelope tien jaar verskyn in onder andere Beeld, Rapport, Finesse, Kerkbode, Maroela Media, Taalgenoot en Weg. Hy is ook 'n gereelde blogger (besoek sy blog: "Aanderkant die doringdraad"). Sy boeke Confessions oor Kerkwees is in 2018, en Leef Lig in 2021 gepubliseer.
Jaco het vir 'n tyd lank in Indië gewoon en was betrokke by verskeie projekte in Suid-Asië en Afrika.
Een van Jaco se stokperdjies is roei, hy onderneem deur die jare 'n aantal solo-reise na afgelëe plekke met sy kayak (roei onder andere solo vir meer as 'n maand lank vanaf Vaaldam tot by die see, ook talle soortgelyke reise na plekke in Transkei, Mosambiek, Tanzanië, Noord Pakistan, Andaman eilande . . .). Jaco is o.a. Brand Ambassador vir Fluid Kayaks.
Hy is van die oortuiging dat gereelde afsondering in die natuur net so belangrik is as om in gemeenskap te lewe.
Jaco het in Randburg gematrikuleer en gestudeer by die Noord Wes Universiteit en die Universiteit van Pretoria, hy woon tans in Villieria, Pretoria.
Adam Richter was ‘n dubbele moordenaar; een moord was in belang van geregtigheid, die ander noodsaaklik vir sy oorlewing. Daarom moes hy in Suid-Afrika sterf, sodat Daka in Lamu kon voortleef. Adam was die tiener wat voortydig moes grootword, die een wat Sindy in stilte liefgehad het, en Daka die voortvlugtige.
Adam se verhaal word in die derde persoon vertel, van sy ma se kankerdood, sy pa se onbetrokkenheid, die insident met die duif, en Sindy se vernedering, tot die gruwels van die Farber-broers, en die gevolge daarvan. Adam is deurentyd ‘n ontwykende en afsydige karakter. Die verteller beskryf sy dade en motiewe bykans klinies, monochroom en objektief, selfs in sy dagboekinskrywings: “ Elkeen is ‘n moordenaar in sy hart. Al wat dit vat om jou hande in beweging te bring, is ‘n baie goeie rede en ‘n baie slegte dag.” (105) Ook wanneer sy pa sterf, word dit as ‘n koue feit weergegee: “April daardie jaar is Adam se pa skielik aan ‘n hartaanval oorlede.” (100)
Wanneer Adam egter as Daka op die vlug slaan, is dit in die eerste persoon narratief en neem die teks ‘n volkleurgedaante aan, nie net wat omgewingsbeskrywings betref nie, maar ook ten opsigte van genre wanneer ‘n bildungsroman in ‘n avontuurlike reisbeskrywing verander. Die spanningslyn word nie afgeskeep nie; ‘n doelbewuste onderspeling van die insident wat Adam noop om Daka te word, hou die wolf voor die deur deurgaans lewendig en dra by tot die impak van die slottonele.
Adam se metamorfose tot Daka vind metaforiese neerslag in sy verhouding met rot-karakters. Aanvanklik sinoniem met monsters (163) word ‘n rot later die verpersoonliking van stabiliteit en kameraadskap. Die vaal en middelmatige Adam ontwikkel in ‘n spitsvondige Daka wat opmerk: “Flip, noudat ek dood is, word ek skielik raakgesien.” (201)
Die ooreenkomste tussen Adam/Daka en die skrywer is opvallend en vermaaklik, beide is avonturiers met ‘n besondere voorliefde vir die see en vir skryf, lees en boeke. Daka bely: “Skryf is my thing” (132), versamel en lees boeke sover as wat hy gaan en filosofeer wanneer hy aan sy eie roman werk: “Jy kan jouself nie uit ‘n storie skryf nie... as jy weer sien, is die karakter weer jy. Indien nie die bekende jy nie, dan die versteekte jy.” (183)
In Adam was daar reeds ‘n voorspel tot Daka, en in Daka ‘n eggo van Adam. Wat is, was reeds, en sal weer wees. En hierdie roman illustreer dit by uitstek.