Sy sal notas maak oor haar kinders, besluit 'n vrou voor haar jongste se geboorte. “Voor ek vergeet. Voor hulle groot is, weg, in 'n oogwink.” Sy lê oomblikke vas: die vrae sonder antwoorde, gebedjies, 'n eerste wisseltand, sywurms, huisvergaderings, die huiskat wat kleintjies kry en drome van eendag. Sing, Mamma, sing is haar opgaaf van die frustrasie, weekheid, verwondering, trots en benoudheid wat elke ma ken. Dis haar kennismaking met ouers se grootste vrees en verlies wanneer die jongste op byna agt en dertig sterf.. Die boek sluit aan by die genre van die moeder-memoir en die subgenre van verlies.
“Ek wil wegkyk uit sy helder oë. Jou kind se pyn dwing jou terug. Ouerskap het die skerpste angels.” (p.198) Met deernis en eerlikheid skram Theresa Papenfus nie weg van die hartseer en strydvrae rondom die lewe en sterwe van haar jongste seun nie. Maar sy deel ook die vreugdes van moederskap en die dinamika binne haar gesin van vyf. Wat hierdie biografie/autobiografie verder besonders maak, is die slim aanbieding van die teks. Dit word verdeel in korter stukke, wat die lees gemaklik voortdu en keer dat, soos soms met my gebeur as ek nie-fiksie lees, die aandag begin dwaal. Verder wissel dit af tussen die ma se belewenis en waarnemings, en aanhalings van plasings wat Braam gedoen het op verskeie whatsapp-groepe, onder andere hulle gesin s’n. Ook notules van gesinsvergaderings. Terwyl daar vertel word van hartverskeurende teleurstelling en lyding, maak die skrywer haarself geensins skuldig aan sentimentaliteit nie. Die teks is gestroop en eerlik, maar raak jou ten diepste. Die titel is ontleen aan ’n bittere toneel wat my keel laat toetrek het, maar my ook laat besin het oor dankbaarheid en opnuut laat besef het dat mens niks as vanselfsprekend mag aanvaar nie. Ek het die boek, uitgegee deur Litera, aangekoop na aanleiding van die resensie wat Anschen Conradie daaroor geskryf het en kan dit met vrymoedigheid aanbeveel as jy kans sien vir die goeie sowel as die slegte van ouerskap en die gesin, met die klem om ’n ma se belewing
Lisensies word vir soveel dinge benodig: om te mag bestuur, om ‘n televisie te mag koop en te besit, om vis te mag vang, om te mag jag, om ‘n hond te mag aanhou, om ‘n vuurwapen te besit... Die lys is eindeloos. Vreemd genoeg is daar geen sodanige reël wat ouerskap betref nie, geen toets om te slaag nie, geen vooraf goedkeuring nie, geen hersieningsprosedures nie. Daaruit voortspruitend is daar die aanname dat ouerskap iets is wat natuurlik kom vir almal, dat daar een of ander instink is wat as gids optree, dat wysheid saam met die baba opdaag. Was dit maar so.
Verskeie werke, beide fiksie en feite, en ‘n mengsel daarvan, oor ouerskap is al deur die jare gepubliseer. Moederskap, eerder as vaderskap, maak die meerderheid daarvan uit. ‘n Klein persentasie hiervan hanteer die trauma van ‘n kind se dood, en diegene wat dit wel doen, fokus meestal op die rouproses, eerder as op die herinneringe. Juis dit onderskei hierdie boek van die res; dis die verhaal van ouerskap, gefokus op moederskap, met al sy vreugdes en hoogtepunte, wat met die uiterste laagtepunte gekonfronteer word, die verhaal van ‘n ma se reis deur haar kinders se lewens – en sterfte.
Drie kinders, boonop woelige seuns, in die huis is geen geringe uitdaging nie: “Die dag val deur die gleuwe tussen skottelgoed en doeke en stukkende speelgoed en skrape.” (5) Maar daar is ook die wyshede uit die mond van die suigelinge wat sag in die hart tot rus kom: “As Pa of Ma my dra, reën dit net ‘n bietjie. As julle nie by is nie, word ek sopnat.” (43)
Maar selfs die grootse liefde word die koue hand van die donker nie gespaar nie en die ontredderde impak van die slegste van slegte nuus word evokatief en gestroop as volg beskryf: “Dit val soos ‘n klip in my maag... Hoe. Is. Dit. Moontlik. Dis nie waar nie. Iewers maak iemand die domste fout... Sulke goed gebeur nie met ons nie.” (102) Die sterwensoomblikke getuig van ‘n rou seer ver verby woorde: “Die blou is weg. Ek sien net swart.” (254) en daarna: “Ons sal altyd tussen die skerwe leef, soekend na iets van jou.” (255)
Hierdie intieme memoir omsluit alle sintuie, die reuk van mislukte beskuit, die klank van kinderliedjies, en die tasbaarheid van ‘n trooskombersie. Dis ‘n ode aan die lewe self, die verhaal van ‘n gesin wat ‘n hand met slegs vier vingers geword het, die notule van ‘n geleefde lewe wat sal eggo en getuig selfs wanneer niemand anders meer onthou nie.