Jump to ratings and reviews
Rate this book

Bessie se hangkasbiblioteek

Rate this book
Bessie Botha, deesdae weduwee Botha, woon saam met haar broer, Willem, op ’n kleinhoewe buite Bloemfontein. 1974 was tot dusver nie ’n goeie jaar nie, en om alles te kroon is oorlede Stefaans se welgestelde broer en sy jong neus-in-die-lug vrou op pad om te kom kuier.
Wanneer die veertienjarige Annatjie de Villiers weer een Sondag ná kerk langs die treinspoor staan en flikkers gooi vir al wat ’n treindrywer is, besluit Bessie om die tiener onder haar vlerk te neem. 

324 pages, Kindle Edition

Published June 7, 2024

22 people are currently reading
28 people want to read

About the author

Madelein Rust

20 books40 followers
Madelein Rust se liefde vir die geskrewe woord begin in die klein skoolbiblioteek van Brandwag Primêr in Bloemfontein, waar sy pousetye die een boek na die ander verslind. Sy slyp haar skrywerstande reeds op skool, waar sy uitblink in stelwerk en opstelkompetisies. As jong ma sluit sy aan by die Bloemfonteinse Skrywersvereniging, waar sy ’n aantal pryse wen in die vereniging se jaarlikse skrywerskompetisie vir amateurskrywers.

Sy waag haar hand aan romantiese kortverhale, en haar twee pogings in dié genre, Tango in die Kuberruim en Skarlakenvrou, verskyn in Huisgenoot. Een van haar kortverhale, Joy, verskyn in Bateleur Boeke se In ’n Neutedop, gevolg deur Die dag toe oom Willem geval het in Maskew Miller Longman se Literary Awards Edition publikasie, Sussie Veer is dood en ander verhale.

Ratings & Reviews

What do you think?
Rate this book

Friends & Following

Create a free account to discover what your friends think of this book!

Community Reviews

5 stars
70 (59%)
4 stars
39 (33%)
3 stars
8 (6%)
2 stars
1 (<1%)
1 star
0 (0%)
Displaying 1 - 15 of 15 reviews
Profile Image for Anschen Conradie.
1,497 reviews86 followers
July 5, 2024
#BessieSeHangkasbiblioteek – Madelein Rust
#HumanEnRousseau

My eerste tjorretjie was ‘n bottelgroen 800cc Daewoo Matiz, genaamd Bessie. Maar sy moes nie vlak gekyk word nie, op ‘n dag wat die perde uitgebreek het, het ek twaalf kinders in haar gelaai gekry om te help. Formidabele dame.

Haar naamgenoot is net so. Bessie Botha se plot (oftewel kleinhoewe, afhangende van met wie jy praat) buite Bloemfontein huisves ‘n menigte siele, maar die hoofhuis is effens eensaam. Haar man, Stefaans, is oorlede, en haar broer, Willem, se epilepsie-swaard perk sy lewe drasties in. Snags, wanneer Maria na haar werksdag terug is by haar eie familie, wat ‘n gewelddadige eggenoot insluit, is Bessie alleen met haar herinneringe aan ‘n man wat haar vertroue in die liefde geskok het, ‘n ander man wat haar tot lewenslange boetedoening gedwing het, en die oneindige verlange na haar enigste kind wat te vroeg gesterf het.

In die daglig van 1974 is dit egter ‘n heel ander scenario; dan is onse Bessie se neus oral: die buurdogter, Annatjie, se flikflooiery met die treindrywers moet aangespreek word, dominee moet help met die kleine Adolfie wat die woordeskat van ‘n duiwel, maar die klavierhande van ‘n engel het, Maria se familiekrisisse moet dringend aandag kry, die dowe Klein-Jaap wat hoogstens “nogga-nogga” kan uitkry, moet gehelp word, en daar moet huis gehou word met die moeilike gaste: Ronald wat, blink van die medaljes, daagliks El Alamein herleef, en die snobistiese Valerie wat die plotlewe as antagonisties teenoor haar sensitiewe konstitusie ervaar.

Bessie se kuur vir alle probleme is te vinde in haar spaarkamer se hangkas. Anders as Tannie Maria van Ladismith wat eetgoed uitdeel, deel sy toepaslike boeke uit, maar waarsku telkens dat dit gelees én terugbesorg moet word. Ou gunstelinge soos Susanna M Lingua, Ena Murray, Audrey Blignault, James Hadley Chase, en Dricky Beukes, tesame met die gedaantes van Marius Weyers en Sandra Prinsloo wie se beelde sy op die inryteater se skerm deur haar venster kan sien, vestig die gees van die tyd waarin die roman afspeel.

Die humor wat voortspruit uit misverstande, kleindorpse ingesteldhede en die magdom diere, onder andere ‘n aggressiewe hoenderhaan. Klein Bliksem, die kraai, en ‘n dapper muis genaamd Plinius die Ouere, oorheers egter nie die verhaallyn nie. Ernstige temas word met deernis aangespreek: Die verwerping van ongehude moeders, die trauma van gesinsgeweld, depressie, selfdood, alkoholisme, armoede, huweliksontrou, apartheidswetgewing, en ongeneeslike siekte, word vernuftig ingeweef.

Skynheiligheid word ontmasker in geen onsekere terme nie: “Want as sulke mense hemel toe gaan, wil ek nie daar wees nie.” (253), en lewenswyshede word uitgedeel: “Moenie dat die pyn veroorsaak dat jy meer vir die dooie gee as vir die lewendes teenoor wie jy ‘n verantwoordelikheid het nie.” (201); deurentyd versag en verlig deur fyn humor, soos ‘n radio wat ter wille van fatsoenlikheid, harder gesit moet word nadat suksesvolle huweliksadvies uitgedeel is. (101)

Die saamstap op Bessie se onthoupad herroep die lief en leed van ‘n klein gemeenskap in die tyd van houtstowe, Valiants, inryteaters, aanmaakkoeldrank, tuisgebakte koekies, dikwielfietse, en laagwaterbruggies; die kortsigtigheid, veroordeling en naïwiteit wat daarmee saam gegaan het, maar ook die samehorigheid en onbaatsugtige naasteliefde.

NB-Uitgewers/Publishers

⭐️⭐️⭐️⭐️⭐️ #Uitdieperdsebek
Profile Image for Amanda.
1,162 reviews
July 26, 2024
In Bessie se hangkasbiblioteek, delf Madelein Rust diep in haar grootwordjare en die herinneringe aan haar kuiers by haar ouma op die plot in Estoire, buite Bloemfontein. Dit is die jaar 1974, die tydsgees daarvan uitmuntend deur die skrywer vasgevang, die tyd van Valiants, Holdens, Morris Minors, inryteaters, Aga-stowe, radios en landlyne met individuele luitone.
Daar is al gesê dat hierdie roman herinner aan Koöperasiestories, maar ek het dit beleef as veel meer as ’n kontreiverhaal. Die raakvat van die pynlike sosiale kwessies, die geloofwaardigheid van die karakters, die kompleksiteite van verhoudings, die vreugdes maar ook die diepste hartseer en ontnugteringe, maak van hierdie boek een wat ek nie wou neersit voor die laaste bladsy nie.
In Bessie se spaarkamerhangkas kry sy raad vir elke krises, in die vorm van boeke wat sorgvuldig gekies word, altyd met die voorbehoud dat dit nie met vuil hande hanteer word nie, en moet terugkom op ’n bepaalde tyd. Annatjie kry ’n boek oor die feite van die lewe, die dominee, Alida en Valerie kry boeke wat hulle kortsigtigheid moet aanspreek. Ironies genoeg het dit nie noodwendig altyd die gevolg wat Bessie in haar voortvarentheid voorsien nie.
In ’n gesprek met Ilse Salzwedel wat op Netwerk24 beskikbaar is, deel Madelein interessante feite wat die verhaal lieflik inkleur, soos onder meer die inspirasie vir die karakter Adolf Hitler Rautenbach, oftewel Adolfie, die geniale klein musikant wat klassieke musiek op gehoor speel. Daar is ook meer inligting oor Willem, Bessie se broer, ’n pragtige karakter wat die uitdagings van epilepsie moet hanteer.
Hoewel daar heelwat komiese insidente is, moet dit saamgelees word met die ernstige temas wat soos in 1974, steeds relevant is. Gesinsgeweld, verkragting, alkoholisme, depressie, klasse- en rasseaangeleenthede, snobisme, om maar ’n paar te noem. Bessie het natuurlik nie raad vir elke sosiale probleem nie, maar haar geaardheid van omgee en regmaak wat verkeerd is, noop haar keer op keer om uit te reik, op tone te trap en soms verstommende resultate te kry.
Bessie se hangkasbiblioteek is volgens die skrywer, die hoogtepunt van haar skrywersloopbaan. Nadat ek dit verslind het, kan ek heeltemal verstaan waarom sy so voel. ’n Boek wat nie in ’n bepaalde genre-boksie gedruk kan word nie, een wat die skrywer uitgedaag het om weereens haar vermoë te toets om weg te beweeg van die rillers wat aanvanklik aan haar bekendheid en gewildheid besorg het. ’n Waardige toevoeging tot my versameling van Madelein Rust-boeke, perfek vir diegene wat nie hou van “blood and gore” nie.
Die roman is uitgegee deur Human & Rousseau, ’n druknaam van NB Uitgewers en is wyd beskikbaar, aanlyn en in goeie boekwinkels.
Profile Image for Christina Rothfusz.
972 reviews26 followers
January 8, 2026
Ek het na die boek geluister instede van lees en daar is niks beter as om in jou moedertaal na so 'n mooi storie te luister nie. Dit word voorgelees deur Daneel Van Der Walt en was fantasties.

Bessie Botha is nou "Die Weduwee Botha", maar ook, vir almal in die distrik net MAM. Die een wat na almal omsien wat oor haar pad kom, dier of mens, dit maak geen verskil aan Bessie se enorme hart, sy ontferm haar oor elk - selfs al kom so bemoeisiek voor.

Toe sy 'n sondag middag vir Annatjie de Villiers sien flikkers gooi vir elke treindrywer weet sy die kind het hulp nodig, sy is so verantwaardig dat sy sommer dadelik die 14 jarige nader gryp en vir haar 'n boek oor die bytjies en blommetjies in die hand stop.

Want in die hangkas in Bessie se gaste kamer het sy 'n boek vir elke probleem en sy deel dit gaaftelik met almal, met streng instruksies om dit nie te verniel en presies wanneer die boek moet terugkom.

Daar is soveel onvergeetlike karakters, Annatjie trek veral aan die hartsnare, maar so ook klein Adolfie met die mond van 'n seerower maar die musiek talent van 'n engel.

Dis 'n storie wat jou laat lag, huil en kop knip soos wat jy karakters uit jou eie kinderdae herken.
Profile Image for Julia.
568 reviews19 followers
September 28, 2024
sjoe, was dit nou 'n goeie storie. ek dink dis goed as 'n skrywer 'n boek skryf buite hulle gewone genre. hierdie een het beslis gewerk.
Profile Image for Roelia (Roelia Reads).
427 reviews1 follower
October 22, 2024
Bessie se hangkasbiblioteek deur Madelein Rust is 'n diep menslike en meesleurende verhaal wat jou deur die geskiedenis van die 1970s op 'n kleinhoewe buite Bloemfontein neem. Die storie draai om Bessie, 'n weduwee wat saam met haar broer, Willem, in die hoofhuis bly. Bessie se hangkasbiblioteek dien as 'n toevlugsoord waaruit sy boeke kies wat 'n oplossing vir enige krisis bied.

Met elke bladsy wat jy omblaai, word meer van Bessie se agtergrond en die mense in haar lewe onthul. Die buurdogter, Annatjie, ontdek haar liefde vir lees en begin boeke leen uit Bessie se biblioteek, ondanks die probleme in haar eie familie. Die karakters is ryk en diep ontwikkel, met unieke probleme en oplossings wat naatloos ingeweef is in die narratief.

Wat hierdie boek so besonders maak, is die manier waarop dit 'n verskeidenheid sosiale kwessies aanspreek, van armoede en gesinsgeweld tot apartheid en klasverskille. Madelein Rust se skryfstyl is so treffend dat dit jou hardop laat snik en lag, met humoristiese misverstande en skynheilige kleindorpse denke wat deur die storie loop. Die nostalgie en tydgees van die era is perfek uitgebeeld, wat dit 'n werklik unieke leeservaring maak.

Bessie se deernis en goeie bedoelings, sowel as die verskeie mense oor wie sy haar ontferm, het sommer diep in my hart gekruip. Dit is 'n hartroerende maar ook lighartige storie wat die leser nie net vermaak nie, maar ook aan die dink sit oor die komplekse verhoudings en sosiale kwessies wat in die boek aangespreek word.

As jy op soek is na 'n boek wat die menslike ervaring met al sy ingewikkeldhede en skoonheid verken, is Bessie se hangkasbiblioteek 'n moet-lees. Dit is 'n boek wat nie in 'n spesifieke genre-boksie gedruk kan word nie, maar een wat die skrywer se vermoë om dieper te delf en weg te beweeg van haar vroeë rillers ten volle demonstreer. Dit is 'n waardige toevoeging tot enige boekrak en 'n verhaal wat lank by jou sal bly.

Dankie aan Exclusive Books en Tandem Collective vir die #saamlees geleentheid! AD PR-product
Profile Image for Janien Nel.
11 reviews1 follower
November 4, 2024
'n Storie oor 'n weduwee met 'n werf vol diere en 'n hart van goud.

Bessie Botha, deesdae weduwee Botha, woon saam met haar broer, Willem op 'n kleinhoewe buite Bloemfontein. Tot dusver was 1974 nie 'n goeie jaar nie, en om alles te kroon is oorlede Stefaans se welgestelde broer en sy jong neus-in-die-lug vrou op pad om te kom kuier.

Bessie het haar spaarkamer se hangkas in 'n biblioteek omskep en uit hierdie kas los sy talle probleme op deur die gepaste boeke uit te deel.

Klein dorpie verhale is my gunsteling, en hierdie een het nie teleurgestel nie. Bessie ontferm haar oor al wat leef en beef en sodoende steek sy dikwels haar neus in ander se sake, maar dit kom waarlik uit 'n plek van liefde en omgee. Die feit dat die dominee ook by elke saak betrek word is vir my so eie aan klein dorpies.

Hierdie was nou regtig 'n pragtige, hartverblynde verhaal. Ek sal dit beslis vir enige iemand aanbeveel.

"As die water in die leivoor afkom en dis jou leibeurt, bou 'n mens nie keerwalle nie."
Profile Image for Jacoleen.
57 reviews
July 27, 2025
Iets van alles. Lag, trane. Mooi beskrywings. Jy raak sommer gou-gou lief vir baie van hierdie karakters en 'n paar waarmee mens self kan identifiseer

Definitief 'n boekrakboek,wat gekoester miet word en net uitgeleen word vir iemand wat so mooi sal koester en vashou soos jy.
Ek moes tweemal seker maak is hierdie dié Madelein Rust boek? ( Gewoond aan 'n ander genre waarin sy skryf)

Uitstekend! som ek hierdie ene op, al wil ek en kan ek nog psalms sing oor hierdie dieper lees boek wat alle emosies aanraak.

So het die titel van die boek ook soveel waarde.Liefde vir boeke,regte boek vir die regte tyd vir 'n spesifieke persoon Ek vee my trane af . Haal my boekmerker uit in die vroë, vroë oggend ure het ek klaargelees. Vlieg oor 'n paar uur terug na my Afrikaanse eie land.

Hierdie ene het ek so lank voor gewag en uitgehou om eers te lees tydens my Amerikaanse kuiertjie My vashou aan Afrikaans in 'n swaar aksent staat.. Hierdie was 'n waarlik geniet lees, tussen kuiers deur.

'n Baie lekker lees, terugdink aan die 70's En dit kry my volle 5 uit 5.
Hoogs aanbeveel.
Profile Image for Nicolene Smith.
159 reviews3 followers
July 6, 2024
Ek was skepties oor Madelein Rust se nuutste... Dis immers nie krimi nie (en by gesê "Die 13de Kaart" is een van my gunsteling boeke).

Ek het die boek begin lees en 'n paar dae aan hom gelees... Die boek get my irreteer. Hoe kan mense so inmengerig wees? Hoe kan mense so kortsigtig wees? Hoe kan mense so oordeel? En toe besef ek: sy skets' n klein dorpie gemeenskap perfek! Of dit nou 1974 is, of 2024.

Maar net soveel wat sy die irretasies reggekry het,
het sy die hart van 'n klein dorpie ook reggekry.

Beslis 'n juweel van 'n boek wat in elke hangkas biblioteek' n plek moet hê.
216 reviews12 followers
August 14, 2024
'n Baie goed geskryfde boek. Hoekom? Elke karakter het hul eie probleme en oplossings wat goed inmekaar geweef is sonder dat dit langdradig was. Die diep menslike ondervindings wat gebruik word het gemaak dat ek nie die boek sommer neersit nie. Bessie en haar broer Willem is beide sterk mense op hul eie manier. Hul het mekaar baie goed aangevul en mekaar ondersteun.Mens kon ook nie regtig die uiteinde voorspel totdat die laaste bladsy gelees is nie. Pragtige menslike en ook christelike boek.
Profile Image for Rachelle.
51 reviews
November 5, 2024
'n Eg menslike storie, vanuit Bessie - Mam - se oogpunt vertel. Teen die agtergrond van die 1970's, ontmoet ons 'n gemeenskap met verskeie en interessante karakters. Bessie is middelpunt en die gom wat mense saambind en stukkendes heelmaak...
Profile Image for Salomé Kotzé.
227 reviews8 followers
July 7, 2024
Bessie is ñ besige antie so met haar neus in ander se sake... altyd darem met goeie bedoelings. Lekkerleesboek.
123 reviews8 followers
September 17, 2024
Bessie se deurmekaar, goeie bedoelings en die verskeie mense oor wie sy haar ontferm het sommer diep in my hart gekruip. Dis gelyk 'n hartroerende maar ook lighartige storie
144 reviews8 followers
December 26, 2025
Ek het die laaste paar dae lekker gekuier in Bessie se voorkamer. Sy, met die groot hart vir almal om haar, maar haarself gesel sy voortdurend vir foute van jare gelede. Bessie is 'n weduwee wat saam met haar broer, Willem, en 'n klomp diere op 'n kleinhoewe buite Bloemfontein woon. Wanneer die ryk Botha's kom kuier kry sy dit nie oor haar hart om hulle weg te wys nie, al maak hulle verblyf 'n taamlike duik in haar pensioen. En na jare se aanranding deur haar man, verloor Bessie se getroue regterhand, Maria, uiteindelik haar humeur en beland agter tralies. Dan is daar die mooie Annetjie, wat haar flikkers gooi na al wat 'n treindrywer is, om uit haar haglike omstandighede te ontsnap. En Bessie wéét, daar moet sy 'n stokkie voor steek - voor dit te laat is...
Dis maar 'n paar van die interessante karakters wat hierdie boek se bladsye vul. Mense soos ek en jy wat die lewe se swaar kant onverwags raakloop. Madelein Rust laat jou deel voel van díe groepie mense - sy trek jou in by hul wel en weë. Nog 'n meesterstuk uit haar pen!
Displaying 1 - 15 of 15 reviews

Can't find what you're looking for?

Get help and learn more about the design.