Die geskenk is die bekende skrywer Riette Rust se ontstellende, diep menslike en soms selfs skreeusnaakse memoires. Van haar kinderjare in die Paarl, en haar pa wat sy leë whiskey-bottels wegsteek, tot haar huwelik met JD en die oggend toe Riette haar man bebloed op die vloer aantref. JD het homself met sy haelgeweer geskiet. Die boek is nie net ’n meesleurende ware verhaal nie, maar sal ook van groot waarde wees vir elkeen wat deur selfdood geraak is of rou moes verwerk.
sjoe, wat 'n boek. dis rou en eerlik. ek haal my hoed af vir die skrywer dat sy die 'guts' gehad het om alles wat sy deur is, te deel in 'n boek.
sy is deur erge trauma en 'n mens kan nie dink hoe iemand al hierdie gebeure kan verwerk nie. tog het sy en deel sy haar hart met ons.
die boek was inderdaad baie inspirerend. al het 'n mens nie deurgegaan wat sy deurgegaan het nie, kan 'n mens baie leer. ek het baie oor my eie trauma geleer.
Die titel van Riette Rust se boek het my van die eerste oogopslag af met die vraag gelaat: hoe bring jy selfdood en ’n geskenk by mekaar uit? Haar besoek aan ’n medium van Milnerton gee vir ons die eerste leidraad: “He wants you to know that he loves you very much, he admires you too. His death is a gift to you and the children.” (p. 127) Nadat die skrywer ’n pad moes loop deur trauma, rou, berading, selfs psigiatriese hulp, kon sy uiteindelik getuig van posttraumatiese groei, waaraan sy ’n hele hoofstuk (Hst 13) wy. Sy kon terugskouend, insien hoe JD se selfdood inderdaad ’n “geskenk” kon wees. Hulle is finansieel beter agtergelaat en sy siekte sou nie vir hulle ’n las wees nie. Met eerlikheid en gestroopheid takel die skrywer die moeilike onderwerpe – wat nie as ’n verrassing kom nie, gegewe die feit dat Riette Rust ’n gesoute en bekroonde joernalis is. Sy deins nie terug om in skokkende detail die gebeure rondom JD se dood neer te pen nie, ook nie die moeilike pad wat daarna gevolg het nie. Meer as twee bladsye word afgestaan aan Bronne en hulplyne, wat dui daarop dat sy nie bloot die gebeure self beleef het nie, maar ook deeglik nagevors het, ten einde vir die leser werkbare riglyne neer te pen oor onder andere die stadiums van rou, wat jy moet en nié moet sê nie, oor hoe jy sulke trauma oorleef en uiteindelik daardeur kan groei. Mens kan nie anders as om respek te hê vir hierdie vrou nie, hoewel ek nie al haar oortuigings deel nie. Haar verhaal wys op ’n stuk waarheid in Carl Jung se uitspraak wat sy aanhaal: “Ek is nie wat met my gebeur nie, ek is wat ek kies om te word.” (p. 210). Terwyl sy baie maklik ook in depressie kon bly wroeg het, het sy gekies om heel aan die ander kant uit te kom, om selfs weer liefde in haar lewe toe te laat. Die geskenk is uitgegee deur Tafelberg, ’n druknaam van NB Uitgewers.
Voorkoms kan so misleidend wees. Neem nou maar jou boek as voorbeeld. Die voorblad, met eerste aanblik, skep die indruk van ‘n beeldskone vrou wat iets het om aan die leser te skenk. Die openingsin versplinter egter hierdie illusie: Jy vind jou geliefde in die kombuis. Dood.
Dan vertel jy, deur die pyn van onthou, van julle tyd saam, vanaf julle eerste soen op 9 Oktober 1977 tot daardie dag, 2 Desember 2016. Die dag van afskeid. En alles tussenin. Jou pa, die drankbottels, die woordsweep dat jy dom is, jou seer oor die gewaande lelike eendjie wees, die onbeplande swangerskap, die vrese van ouerskap, die trauma van siektes, die dreigende doodskaduwees.
En daarna, die slegte dae wat jou mes in die hand bestorm, die gevoel van disoriëntasie soos ‘n nagdier in skerp lig, die wegruk van die een wat ‘n getuie van jou lewe was, die pynlike woorde – en die pyn van die afwesigheid van woorde. Maar ook jou eie terugbaklei, jou pogings om sin te maak van alles, jou aanhou, uithou en voortleef.
Nadat ek dit alles gelees het, moet ek bely dat die afstandelikheid wat noodsaaklik is om ‘’n resensie, of selfs net ‘n informele lesersindruk te skryf, totaal by my ontbreek. Dis jou storie, nie myne nie, so ek gaan volstaan deur bloot te sê dat Anna (hoofstuk 11) se ervarings ook myne is. Daarom hierdie brief. Want dis te persoonlik vir enigiets minder.
Ek is jou oneindig dankbaar vir hierdie boek. Jy was nie tevrede om bloot net te oorleef nie; jy het betekenis gaan soek totdat jy dit gevind het. En dit terwyl jy, soos DJ Opperman dit so hartroerend stel, self ervaar het “sonder jou liefde is die graaf te swaar vir my en val die geil reëns van die berge sonder doel.” (112) Jy gee moed, insig, hoop, inspirasie, jy maak ‘n verskil hiermee.
Jy deel die aanhaling dat ‘n mens eers sterf wanneer jy nie meer onthou word nie. Ek het JD nie geken nie. Maar hy leef hierna ook voort vir my. Ek sal onthou.
Sjoe. Inspirerend, maar tragies. En tog, dis verfrissend om 'n Afrikaanse skryfster te ontdek wat baie dinge wat in die (Afrikaanse) kultuur altyd taboe was, oopskryf. En hierdie is oor die werklike lewe: goeie biografiese boeke kry die balans tussen 'n eerlike lewe met op en af - maar vertel dus ook die onaangename, seer, rou lewenservarings. En hoe iemand daarmee cope. Ons, die leser, is ryker daarna. Dankie Riette: 'n merkwaardige boek!
DIE GESKENK is werklik 'n groot geskenk van Riette Rust aan almal wat Afrikaans kan lees. Ons hier op Fb weet van die moeilike paaie wat sy al moes stap en ken haar as iemand wat die lewe met oorgawe aanpak, uitdagings (en tragedies) ten spyt. Daarby is sy 'n deurwinterde joernalis en skrywer wat weet hoe om met woorde om te gaan. Rofweg die eerste helfte van die boek is haar lewensverhaal, met klem op haar verhouding met haar man, JD. Dit gaan deur tot met sy selfdood en later ook die dood van haar geliefde Bleskoppie (soos ons hom op Fb leer ken het) aan kanker. Die res van die boek is basies die navorsing en ervaring wat sy deur hierdie verskriklike ervarings bymekaargemaak het. Dit kan van onskatbare waarde wees vir enigeen wat al met selfdood of enige ander soort sterfte gekonfronteer is. Daar is handige lysies van dinge om te doen en dinge (veral woorde) om nie te doen nie. Die baie soorte rou wat mens kry, word ook duidelik uiteengesit. Elke mens se ervaring is immers uniek. (Dis ook hoekom dit nie help om vir iemand met 'n soortgelyke ervaring as joune te vertel jy weet presies hoe hy/sy voel nie.) Mens kom met dankbaarheid aan die ander kant van die boek uit - dankbaarheid vir die wysheid en praktiese dinge wat Riette deel, en dankbaarheid vir die kosbaarheid van die lewe. Sterk aanbeveel!