#Seun – Dana Snyman
#Tafelberg
Liewe Dana
Ek het al die voorreg gehad om jou in die oë te kyk. My herinneringe aan die geleentheid is die van ʼn sensitiewe siel met groot empatie en insig vir sy medemens. Die barmhartige Samaritaan lyk in my kop nogal soos jy. Jy skryf en gesels al baie jare oor mense. Juis gewone mense, diegene wat andersins in die massas sou verdwyn het, onsigbaar in hulle gebrek aan merkwaardigheid. Mense wat jy wel raakgesien het, omarm het, mee gesels het.
‘n Deel van jou as mens het deur ‘n klein skrefie op die bladsye van “In die tyd van die gif” deurgesypel, jou hartseer oor jou hondekind, jou frustrasie met dieselfde stuk gereedskap wat herhaaldelik aan jou verkoop word. Sulke goed. Maar “Seun” is anders, persoonlik, jou en joune se stories. Ek hoor wat jy sê, dat jou “wankelende geheue” en ooraktiewe “verbeelding” jou nie toelaat om daarna as ‘n outobiografie te verwys nie, so kom ons noem dit ‘n versameling van jou herinneringe uit die 1980’s, toe omtrent elke jaar vir jou na dieselfde jaar gevoel het.
Dit was ook die tyd van jou besef dat jy meer in gemeen het met Bob Dylan en Jona, as met Trompie en ABBA, die tyd toe troep 78302494BG as ‘n “malletjie” beskryf is en binne net meer as ‘n maand van G1-K1 tot G5 gedaal het, die tyd van macaroni-en-kaas, sagopoeding en Vicks as troos-onthoue, teenoor die minder aangename assosiasies met Cameo-sigarette, en Mills & Boon-boekies.
Jy noem jouself ‘n verraaier, maar jy was ook ‘n verraaide, mislei deur diegene wat bo jou aangestel was. Nadat ek alles gelees het, selfs die nabetragting, word my antwoord aan jou die beste deur Robert Frost verwoord:
“Two roads diverged in a wood, and I –
I took the road less travelled by,
And that has made all the difference.”
Jy is nie meer “Seun” nie, jy is Dana.
⭐️⭐️⭐️⭐️⭐️ #Uitdieperdsebek