Hondman is die gevolg van ‘n tragiese ongeluk wat slegs deur die lyf van ‘n polisieman en die kop van sy hond oorleef is. ‘n Waaghalsige, maar suksesvolle, prosedure waartydens die oorlewende dele aan mekaar gewerk is, het Hondman tot gevolg gehad: steeds ‘n polisieman, maar met die kop van ‘n hond. Dit het wel ‘n paar lastige newe-effekte: hy lek sy kaptein van vreugde wanneer hy by die werk kom; kou aan tafelpote, rol in stink goed en… erm… lig sy been. Sy Nemesis is Ramkat; ‘n briljante aartsskelm met planne om die wêreld oor te neem.
In hierdie avontuur, besluit Kleinkat, die gevolg van Ramkat se kloningspogings soos vertel is die voorafgaande avonture, dat hy, Hondman en 80-HD die enigste lede van ‘n eksklusiewe klub genaamd Megamakkers is. Ramkat se bose verlede haal hom intussen in, en hy moet ‘n keuse maak tussen sy eertydse weë en die Megamakkers.
Die formaat van hierdie avontuur is soortgelyk aan die vorige vier: die fiktiewe knapies, George en Harold, skryf en teken die Hondman-strokies; daar is ‘n hele paar blaai-en-beweeg-tonele waarmee die jong leser sy eie kort animasiefilm kompleet met byklanke, kan skep, en daar is stap-vir-stap aanwysings om al die hoofkarakters in die strokie self te kan teken. George en Harold laat die leser onomwonde verstaan dat hulle nou klassieke boeke lees – en die geleentheid vier deur parodieë op “Lord of the Flies” by die teks in te sluit.
Dav Piley verstaan aandagafleibaarheid en disleksie – hy leef self daarmee saam. Daarom verstaan hy ook hoe om trae en sukkelende lesers aan die lees te kry. Hondman (en Kaptein Onderbroek, wat ook uit sy pen gevloei het) word sterk aanbeveel vir jong lesers wat sukkel met hoofstroomboeke. Hierdie grafiese romans vir kinders (6-9 jaar) is ‘n multi-sensoriese pretrit. Die oorspronklike titel is ‘Dog Man: Lord of the Fleas’ en die Afrikaanse vertaling is deur Kobus Geldenhuys.