In 'n Ewige kroon vertel die gewese Mej. Heelal en Mej. Suid-Afrika Demi-Leigh Tebow hoe gevaarlik dit is om ons identiteit aan ons prestasies te koppel. Ontdek wie jy geskape is om te wees, en hoe jy jou platform kan gebruik om ’n verskil te maak. Demi verweef haar lewensverhaal met die insigte wat sy langs pad verwerf het, en wys hoe jy kan leer om op jou groter roeping te fokus eerder as op jou aspirasies, en ’n voetspoor van betekenis kan nalaat, eerder as een van sukses.
Demi-Leigh Tebow who was crowned Miss South Africa and then Miss Universe. She is married to former football player Tim Tebow and is working on making her entrepreneurial dreams come true, and she is also an active philanthropist.
Ek het ’n paar dae gelede ’n boek opgetel wat al geruime tyd op my rak lê. Gou was my gewaarwording: hoekom het ek so lank gewag om dit te begin lees? Hoewel dit die skrywer, eerder bekend vir haar titels en skoonheid, se debuutwerk is, is haar memoir boeiend wat inhoud en skryfstyl aanbetref. Die lywige eindnotas en erkennings dui daarop dat sy hierdie stuk skryfwerk nie sommer lukraak aangepak het nie. Mense sal die naam, Demi-Leigh Nel-Peters onthou as Mej. Suid-Afrika en Mej. Heelal van 2017. Sy is in 2020 getroud met Tim Tebow, ’n bekende Amerikaanse voetbalspeler en verder bekend vir die werk van die Tim Tebow Foundation. Die skrywer begin haar verhaal by die kroningsplegtigheid van haar opvolger as Mej. Heelal. Die oomblik wat sy die skitterende kroon oorhandig het en van die verhoog afstap, het sy besef dat sy haar identiteit gevind het in haar kroon en titel. Sy neem die leser op ’n insiggewende reis deur die volgende jare, tot by die punt waar sy glo en verklaar: “’n Onverganklike of ’n ewige kroon is die bewys van jou God-vertroue. Jy weet wie jy in Hom is;” (p.241) Deurentyd verwys sy terug na grepe uit haar kinderjare, haar familie, en in besonder haar gestremde kleinsus, om sodanig ’n volledige prentjie te skilder van die mens, Demi-Leigh. Die boek is baie prakties. Sy verdeel dit in vier dele wat sy heel gepas noem: Delf, Plant, Groei en Floreer. Telkens word die leser uitgedaag om te besin oor jou eie verhaal, items af te merk op ’n lysie wat sy saamstel uit die voorafgaande bespreking, om praktiese dinge neer te skryf wat jou kan help om jou fokus te verskuif weg van mense, en jou vertroue in God te stel. Sy kyk nugter na haar tyd as Mej. Heelal, wat sy noem: “’n opwindende, onvergeetlike en betekenisvolle jaar, én ’n baie goedbestuurde rotteresies.” (p. 27). Sy is eerlik oor haar vrese en teleurstellings, maar sy verklaar: “Elke tree agteruit gee jou ’n hupstoot vir die volgende tree vorentoe.” (p. 106) Dit was veral die hoofstuk oor uitstel en perfeksionisme, wat my laat besef het dat ek nog nie klaar is met hierdie boek nie. Daar is ontsettend baie pitkos agter hierdie pragtige buiteblad. Haar lewensfilosofie is een van geborge wees in die volmaakte persoon van Jesus en só ’n kroon te dra wat nie sal verwelk nie. ’n Ewige Kroon is ’n publikasie van Lux Verbi, die geestelike druknaam van NB Uitgewers. Die oorspronklike titel in Engels is A Crown that lasts, in goeie Afrikaans vertaal deur Doretha Rost.
Dis lekker om te wen. Die prys is dikwels bysaak, die status waarmee ‘n wenner beklee word, van groter belang. Daar kan tog geen ander verduideliking wees waarom die antieke volke hulleself stokflou gehardloop het net om ‘n selderykroon as prys te ontvang nie. Ek meen, seldery – dis nie asof hulle dit vir ‘n speenvarkie of ‘n oorlogsperd kon verruil nie.
Demi-Leigh Tebow (Nel-Peters) het al ‘n paar oorwinnaarskrone gedra, maar die een vir Mej Heelal is sekerlik die bekendste. Dis moeilik vir ‘n gewone sterfling om te glo dat iemand wat lyk of sy met die spreekwoordelike goue lepel in die mond gebore is, ook die daaglikse stryd met die spieël, die bank, die motor, die misdaad, die twyfel, die onsekerheid, en die vrees kan ken, maar die Russiese spreuk lui immers: ‘As die hartseer van elke persoon op sy voorkop gelees kan word, hoeveel mense wat ons nou bewonder, sal nie deur ons bejammer word nie?’
Kort nadat sy haar kroon in Desember 2018 aan die nuwe Mej Heelal oorhandig het, het sy soos ‘n gewone mens op haar hande en voete op ‘n lughawevloer rondgekruip om bagasie op te raap wat uit oorvol handbagasie ontsnap het. Toegegee, die bagasie was nie alledaags nie, dit was ‘n stapel glansprogramme van die kroningsgeleentheid met haar foto op die voorblad. En daar tref die werklikheid haar: ‘...ek is nie meer Mej Heelal nie. My identiteit is net so stukkend soos daardie handbagasiesak, en ek voel net so verstrooid soos die glansprogramme op die lughawegebou se vloer.’ (10)
Juis dit is die kern van hierdie boek uit haar pen: Wie is jy en wat bly oor as dit wat jy nog altyd as deel van jou identiteit geag het, wegval?
Die teks is in vier hoof dele onderskeibaar, deel 1 is getiteld ‘Delf’ en het ten doel om die leser te bemagtig om misleidende en vals etikette van identiteit te onderskei, deel 2, getiteld ‘Plant’ sluit daarby aan deur te poog om die leser by te staan in die soeke na haar eie, unieke identiteit, deel 3, ‘Groei’ waarsku teen die insluiting van traumatiese tonele en ondersoek die moontlikhede om iets goed uit pyn te laat voortspruit, en deel 4, ‘Floreer’, maan om teenwoordig eerder as perfek te wil wees.
Die ondersoekende gids is ongetwyfeld met die oog op vroulike lesers geskryf, die leser word deurentyd in die teks as ‘vriendin’ aangespreek. Die ouderdom is moeiliker bepaalbaar, die skrywer is jonk, gebore in 1998, maar het nietemin wel al persoonlike en intense trauma beleef. Haar sussie is op die jeugdige ouderdom van dertien oorlede as gevolg van komplikasies van haar aangebore breindisgenese, en die skrywer was self die slagoffer van ‘n gewelddadige kaping. Sy vermy nietemin die slaggat wat hierdie genre dikwels laat struikel, naamlik om nie slegs op haar eie ervarings en belewenisse te fokus nie. Andere wie se verhale ligweg aangeraak word, sluit in Natalie du Toit, Henry Ford, Lilias Trotter, Job, Petrus, en Anne Sullivan.
Elke deel word afgesluit deur ‘n kort samevatting en toepassing, vrae, ‘n uitdaging, en ‘n gebed. Die teks is oorspronklik in Engels gepubliseer as ‘A crown that lasts’ en is in Afrikaans vertaal deur Doretha Rost.