Dis donker. Dis koud. Jy’s alleen. En dis wanneer jy twyfel. Ná drie jaar in die Suid-Afrikaanse Polisiediens is konstabel Alex Steytler gewoond aan die roetine van douvoordag opstaan, inry Kaap toe, op ’n trein klim en twaalf ure lank trokke of stasies patrolleer. Die lelike kant van die lewe is waar hy werk, anders as Tasha in die woonstel langsaan wat haar kamera op die mooi fokus. Maar nou het sy vriend en medebeampte hom by nog iets ingesleep, en hierdie keer is dit nie so eenvoudig soos ’n motorfiets koop nie. Nee, Pyper wil by die duikeenheid aansluit, want treintrappe, tikkoppe en messtekers bied klaarblyklik nie genoeg opwinding nie. En nou staan Steytler tot by sy naeltjie in ’n rivier vol riool op soek na die slagoffer van ’n boendoehof. Dis net die begin. Om lede van die duikeenheid te word, sal hulle behoorlik aan die diep kant ingegooi word. Toe Steytler vroeg in die jaar tussen die stukke van ’n treintrapslagoffer gestaan het, kon hy nie weet dat hy teen die einde sy eie stukke sal moet bymekaar maak, of moontlik dele van homself vir ewig verloor nie. “Hierdie tou is jou lifeline. Jy los hom nie.”
Martin Steyn het begin skryf as gevolg van Stephen King. Nadat hy The Dark Half gelees het, was hy selde sonder ’n boek met Stephen King se naam voorop. En toe tel hy ’n potlood op en skryf ’n storie van sy eie. ’n Paar jaar later het reeksmoordenaars hom na die misdaadgenre toe gelok. Dit het Steyn gefassineer dat hierdie mans vreemdelinge vir hulle plesier jag en hy het begin om boeke oor Jeffrey Dahmer en Andrei Chikatilo te lees, terwyl hy die plaaslike koerant dophou vir berigte oor ’n reeksmoordenaar wat die liggame van jong seuns tussen die duine los, skaars 30 km van Steyn se huis af.
Hy het Sielkunde en Kriminologie deur die Universiteit van Suid-Afrika studeer, en ’n honneursgraad in eersgenoemde verwerf. Daarna het hy reeksmoordenaars en profielsamestelling in erns bestudeer en dit opgevolg met navorsing oor misdaadondersoek in Suid-Afrika. Tussendeur het hy ook sewe artikels oor Suid-Afrikaanse misdade vir die Crime Library geskryf, onder meer oor die reeksmoordenaar Moses Sithole.
In 2014 word Steyn se eerste misdaadroman, Donker Spoor, deur LAPA Uitgewers gepubliseer. Die volgende jaar word dit met die ATKV-Woordveertjie vir Spanningslektuur bekroon, en in 2016 ontvang Skuldig dieselfde toekenning.
Steyn heg groot waarde aan realisme en wanneer hy nie voor sy rekenaar sit nie, is dit baie moontlik dat hy by ’n speurder of forensiese deskundige is. Dit herinner hom telkens dat dit gewone mense is wat die stryd voer om geregtigheid te kry vir dié wie se laaste hoofstuk in ’n moorddossier neergeskryf word.
--
Martin Steyn got into writing because of Stephen King. After reading The Dark Half he was constantly lost in one of King’s worlds until, one day, he picked up a pencil and wrote a story of his own. A few years later, serial killers got him into crime writing. Fascinated by how these men came to hunt strangers for pleasure, Steyn began reading books about Jeffrey Dahmer and Andrei Chikatilo, while scanning the local paper for reports on the serial killer dumping the bodies of young boys in the dunes a mere 30 km from where Steyn lived.
He studied Psychology and Criminology at the University of South Africa, obtaining an honours degree in the former. Then he studied serial killers and profiling in earnest, following it up with research into the investigation of violent crime in South Africa. He also wrote seven articles about South African crimes for the Crime Library website, including one about the serial killer Moses Sithole.
In 2014 Steyn’s first crime novel, Donker Spoor, was published in Afrikaans by LAPA Publishers. The next year it was awarded the ATKV’s “Woordveertjie” for Suspense Fiction. In 2017 the English version, Dark Traces, followed, receiving a starred review from Kirkus.
Steyn places a premium on realism and when not behind his PC, can often be found questioning a detective or forensic expert, a constant reminder that it is normal people who fight to get justice for those whose final chapter ends up being written in a murder docket.
Ek en Martin deel ʼn liefde vir Stephen King en daarom is dit gepas om te sê: I am his number one fan. Nee, hy is nie iewers toegesluit waar ek oor hom waak met ʼn byl nie – as iemand gewonder het. Maar ek is regtig ‘n aanhanger.
Hoekom? Want hy kan atmosfeer skep soos min. En vir ‘n riller-liefhebber, is dit die x-faktor in ‘n roman.
Met “Donker Water” doen hy dit by uitstek. Alex Steytler se aansluiting by die polisie se duikeenheid en sy opleiding en ervarings aldaar is die ruggraat van die roman, maar dis slegs die oortjies van die seekoei. Die werklike aard van ‘n duikeenheid se werk word met bedrieglike eenvoud soomloos by Alex se karakterontwikkeling ingeweef.
Die lees is aanvanklik so rustig soos die dae wat die see homself soos ‘n groot, blou kombers uitstrek, maar dan val die swaard van Damokles, wat deurentyd net buite sig gehang het, met die impak van ‘n breekbrander, ruk jou onderstebo, en herinner jou dat menige magte en kragte onder ‘n skynbaar rimpellose oppervlak maal en kolk.
sjoe, wat 'n ongelooflike goeie boek. dit was erg grillerig en ek is 'n sensitiewe leser, maar sjoe, dis so goed nagevors en ek het baie geleer. dit was baie interessant.
ek het nog net 'swartval' gelees van hierdie skrywer, maar gaan definitief die ander boeke ook lees. hy skryf vrek goed.
Hierdie roman is werklik ’n unieke stuk werk wat nie gemaklik in enige bepaalde boksie pas nie. Hoewel die karakters almal fiktief is, is die stories geskoei op vertellings wat polisieduikers met die skrywer gedeel het toe hy navorsing gedoen het vir ’n toneel in Swartval. En soos ons al meerdere kere gesien het, is die waarheid dikwels meer boeiend as suiwer fiksie. En ek kan getuig dat dit inderdaad jou volle aandag en verbeelding aangryp, hoewel dit jou omtrent omklits. Steytler en Pyper is vriende wat saam motorfiets ry, saam treinpatrollie doen as lede van die polisiemag, tikkoppe jaag, treintrapslagoffers moet hanteer. Ook saam lede word van die polisie se duikeenheid – hoewel dit Pyper se droom was en Steytler op sleeptou geneem is. Daarmee word ’n gans nuwe wêreld vir my oopgeskryf. Die prosedures en uiteenlopenheid van scenarios waar polisieduikers ontplooi word, is baie interessant, maar byna deur die bank grillerig en dikwels gevaarlik. Ek het gevind dat die humor wat sommer so terloops bygesleep word, die grusaamheid van die tonele verteerbaar gemaak het vir my. Dink byvoorbeeld aan Pyper se relaas oor ‘n nar wat hom in Makro se gange gejaag het. En net voordat ’n grufonds gemaak word, sê Pyper: “n Manhole ...”, “asof dit ’n nuwe interessante geur 2-Minute noodles is.” (p.117) Donker water vertel van vriendskap, kameraadskap, verwyte, verlies, nuwe uitdagings, die joeter wat jou kom vat en sê: Jy gaan doodgaan. ’n Kragtige verhaal wat jou nie laat los na die laaste bladsy nie.
Toe ek gehoor het dat daar n nuwe Martin Steyn oppad is, mag ek dalk so n klein gilletjie van plesier gegee het!
Daar is twee dinge wat vir my uitstaan van sy boeke. Eerstens die navorsing wat daarin gaan en die stories soveel meer realisties maak en tweedens die visuele manier waarop hy skryf. Jy beleef al die aksie en drama saam met die karakters. Jy voel die wind deur jou hare op die motorfiets saam met Alex en wil saam met Pyper naar raak want jy proe die reuke saam met hulle. (Ek het amper self gevoel om deur die stort te hardloop!)
Met Donker Water voel dit amper of jy n biografie lees. Van die gevalle waarheen hulle uitgeroep word los jou met n knop in jou keel en n mens besef net weer hoe n gevaarlike maar noodsaaklike werk die polisie duikers doen.
Aan die einde was ek hartseer om afskeid te neem van die karakters en ek kan nie wag vir die volgende boek nie!
Na ‘n baie lang wag van 6 jaar het ek en al Martin Steyn se ander aanhangers uiteindelik weer ‘n nuwe boek om te geniet. “Donker Water” is egter nie die tipe krimi waaraan ons gewoond is nie. Maar moenie dat dit jou afsit om die boek te lees nie. Dit is ‘n karkatergedrewe verhaal wat afspeel teen die agtergrond van die polisie se duikeenheid en die “Rapid Rail” eenheid in die Kaap.
Steytler en Pyper ontmoet mekaar in die treine van Kaapstad waar albei in die “Rapid Rail” eenheid werk. Dit is Steytler se droom om aan te sluit by die Polisie se duikeenheid en hy praat sy vriend om om te deel in hierdie avontuur. Dit is gou duidelik dat Pyper die voorbok is in die twee se avonture van duik tot motorfietse. Hy het die tipe persoonlikheid wat entoesiasties inspiring en doen. Steytler is meer van ‘n denker en dus ‘n navolger en het ‘n rustiger en stiller persoonlikheid. Deur die twee se oë leer ons die werking van die trotse duikeenheid. Dit gee die nodige agtergrond om die twee karkaters te leer ken en so ook hulle vriendskap se ontwikkeling. Daar is ook interessante ander karakters wat die boek vul - mede duikers en polisiemanne en -vroue maar ook ‘n oulike buurvrou en ewe oulike hond.
Gistermiddag in sy gesprek met Phyllis Green by The Bookkeeper shop, het die skrywer vertel dat baie van die tonele in die boek gebasseer is op ware verhale wat die Polisieduikers hom vertel het. (Sien ook die outeursnota agter in die boek) Steyn gebruik hierdie verhale om die twee jong manne se groei as mense uit te beeld maar ook die sterkte en ontwikkeling van hulle vriendskap en verhoudings met die ander mense rondom hulle.
Wat die boek so ‘n heerlike lees maak is die puik manier waarop Steyn spanning skep in die verhaal. In plaas van die gewone bouende spanningslyn in ‘n tipiese krimi gebruik die skrywer spesifiek sekere tonele om spanning binne die boek te skep terwyl daar ‘n rustige algemene verteltrand deur die boek loop. Die tonele saam het wel ‘n mate van ‘n opbou en algaande wag jy vir iets groot om te gebeur. Wat dan ook glad nie is wat die leser verwag nie en dit het my totaal onkant gevang. Dit is meesterlik gedoen.
“Donker water” is ‘n heerlike “coming of age” storie teen ‘n geweldige interessante agtergrond. Dit is ‘n boek wat terselfdertyd die kwesbaarheid van die mens maar ook die braafheid, die medemenslikeheid en die sterkheid van die menslike gees uitbeeld. Op bladsy 206 haal Kaptein Greyling vir William Faulkner aan: “You cannot swim for new horizons until you have the courage to lose sight of the shore”, tekend van wat ons twee vriende in die boek moet doen.
Ek het die boek geweldig geniet en heerlik daaraan gelees. Vir Steyn se aanhangers is daar ook ‘n skakel met een van sy ander boeke versteek in die verhaal – dit tipe verwysing wat ek altyd baie geniet in ‘n boek. Ek heelwat geleer oor die polisie en spesifiek die duikeenheid en het ook nie geweet dat daar twee en vyftig vuurtorings aan die Suid-Afrikaanse kus is nie. Verseker gaan ek nou uitkyk vir hulle en elke keer dink aan Pyper en Steytler.
Pyper en Steytler is twee polisiemanne verbonde aan Rapid Rail, en moet wet en orde handhaaf op die treine in en om Kaapstad en die Kaapse vlakte. Pyper wil by die duikeenheid aansluit, en kry dit met 'n draai reg om Steyler om te praat om saam te gaan. Hulle groei stadig maar seker in hul rolle as polisieduikers, en dit was díe deel van die boek wat vir my baie interessant was. 'n Mens weet mos iewers in jou agterkop dat iemand verantwoordelik is daarvoor om na liggame in water te soek, maar my weet het gestop by die NSRI. Die beskrywings van prosedure en die tonele wat afspeel in die boek het werklik 'n nuwe wêreld vir my oopgemaak. Die absolute surrealistiese ervarings wat duikers soms tydens 'n sessie ervaar gaan 'n mens se verstand te bowe - hulle moet op énige plek en onder énige omstandighede hul plig kan doen! Nietemin, Steytler en Pyper kwalifiseer uiteindelik as polisieduikers en, alhoewel hulle steeds hul pligte by Rapid Rail nakom, is hulle altyd op bystand vir die duikeenheid. Die meer uitdagende duike spook natuurlik agterna en veral Steytler moet hard aan homself werk om die spoke te verjaag. Intussen is daar 'n minder gevaarlike spook wat ook in sy gemoed rondloop, sy oulike buurvrou, Tasha. Maar Steytler twyfel of hy gereed is vir die volgende stap - en so ook met elke volgende stap in die duik-kursus. Die kameraadskap tussen Steytler en Pyper wys hoeveel vertroue daar tussen mense moet wees wat gereeld die onvoorspelbaarheid van die lewe saam in die oë moet kyk - jy wéét jou makker is altyd daar, altyd gereed om te help, te verdedig, te skiet.... of is hy? Ek het die boek baie geniet en beveel hom aan vir almal wat hou van 'n lekkerlees polisie-storie. Die boek is ook beskikbaar in elektroniese formaat by Lapa Uitgewers.
'N goeie lekkerlees boek. Gee 'n ware refleksie van polisiedrams in SA. Was mal oor die stuk oor hoe gangster kinders grootword id Kaap, dis so waar! Luv die bietjie ekstra oor die hoeveelheid vuurtorings in SA en die dolfyne wat moontlik die lyk opgebring het boontoe.
"Donker Water" deur Martin Steyn is 'n meesterlike riller wat die leser van die begin af betrek en nie weer loslaat nie. Die boek beskryf die wedervaringe van Alex Steytler en sy vriendskap met Pyper, twee polisiemanne wat deel word van die polisie se duikeenheid. Dit is 'n verhaal vol spanning, emosionele diepte en realistiese beskrywings van hul werk.
Opsomming Die roman begin met Alex se aansluiting by die duikeenheid en sy opleiding. Deur die boek heen, leer die leser meer oor die uitdagings en gevare wat die duikers in hul daaglikse werk in die gesig staar. Hierdie avonture word soomloos verweef met Alex se karakterontwikkeling.
Hoogtepunte - Atmosfeer en Spanning: Steyn het 'n unieke vermoë om atmosfeer te skep, wat die leser vasgenael hou. Die spanning bou op soos die onvoorspelbare seegolwe, en dit maak die leeservaring onvergeetlik. - Karaktergedrewe Verhaal: Die verhouding tussen Alex en Pyper, en hul gemeenskaplike ervarings, vorm die hart van die storie. Hul vriendskap en die uitdagings wat hulle saam oorkom, maak die karakters lewendig en eg. - Realistiese Beskrywings: Die boek bevat 'n groot hoeveelheid navorsing wat Steyn se kennis van die polisie se werk, veral die duikeenheid, weerspieël. Dit maak die storie geloofwaardig en opvoedkundig.
Temas - Vriendskap en Kameraadskap: Die boek beklemtoon die belangrikheid van sterk bande tussen kollegas en vriende wat op mekaar moet staatmaak in gevaarlike situasies. - Menslike Uithouvermoë: Die verhaal wys die leser hoe die menslike gees kan aanhou en oorleef ten spyte van groot uitdagings en gevare. - Verlies en Herstel: Alex se ervarings met verlies en sy pad na herstel is 'n kerntema in die boek, wat diep emosionele resonansie by die leser skep.
Skrywer se Agtergrond Martin Steyn het die inspirasie vir "Donker Water" gekry uit werklike vertellings van polisieduikers wat hy tydens navorsing ontmoet het. Sy gedetailleerde kennis van hul werk en die realisme wat hy in sy skryfwerk inkorporeer, maak hierdie boek besonder uitsonderlik.
Gevolgtrekking "Donker Water" is 'n betowerende riller wat nie net die spanningselemente van 'n goeie misdaadverhaal bevat nie, maar ook diepgaande karakterskets en emosionele diepte. Dit is 'n boek wat jou nie sal los nie, selfs lank nadat jy die laaste bladsy omgeslaan het. Ek beveel dit ten sterkste aan vir almal wat hou van 'n goed geskryfde en navorsende polisie-riller.
Met dank aan Exclusive Books for die geleentheid om hierdie boek te lees.
Dit voel soos 'n ewigheid wat Martin Steyn laas 'n boek geskryf het en hy het sy kaarte ook styf teen sy bors gehou. Mens het nie geweet of en wanneer daar weer 'n boek gaan wees nie. En toe... Donker Water.
Ek het dit kort na publikasie gekoop, maar wou dit nie lees nie, want dan is dit klaar. Maar uiteindelik kon ek nie langer wag nie. En nou is dit klaar en ek kan nie net die boek toemaak en 'n volgende een begin nie.
Hoe sê mens in woorde dat jy lanklaas 'n beter boek gelees het? I mean... ek lees GOEIE skrywers se boeke en ek wil hulle nie minder maak nie. Maar Martin Steyn! Hy is absoluut in 'n klas van sy eie.
Pyper en Steytler is trein polisie. Pyper is die doener en Steytler is sy skaduwee. Soms teen sy eie beterwete volg Steytler vir Pyper. En toe Pyper besluit hulle gaan polisieduikers word, toe word hulle polisieduikers. Al wil Steytler dit eintlik GLAD NIE doen nie.
Meer gaan ek nie vertel nie. Martin Steyn se navorsing is uitstekend en sy skryfstyl loop soos stroop. Is daar mooier en meer beskrywende Afrikaans...?
"Daar is net iets aan die naakte brutaliteit van 'n motorfiets tussen jou bene... ...jy sien hoe die teer in 'n smeersel onder jou verbyflits, en deur gapings glip met die gebrek aan aarseling van 'n woedeuitbarsting."
"As beurtkrag nou toeslaan, sal sy gesig waarskynlik genoeg lig verskaf om by te kan lees."
"Die son kom voel-voel oor Kaapstad-stasie op, traag soos iemand wat deur 'n vuil huis moet loop."
"Mense hang hier en daar rond soos die laaste blare voor die winter."
"Die water is mooi stil. Die branders kom uit soos 'n staatsklerk, traag en futloos."
"Die uniform kyk net na hom soos 'n rekenaarprogram wat hang."
In die Skrywersnota belowe Martin dat hy nog nie klaar is met Steytler nie. Asseblief, ons kan nie weer 10 jaar, of so iets, wag nie!
Alex en Pyper is al gewoond al die vroeë oggende aanmeld vir hul instruksies en wapens, en dan op die treine te klim om heeldag heen en weer te ry en so nou en dan ‘n tikkop, messteker of dief in hegtenis te neem. Lewe as ‘n polisieman op die Kaapse treine is nie iets wat die Pyper sy hele lewe lank wil doen nie. Dis toe dat hy die opsie van die Polisie Duikeenheid opbring. Hy en Alex hou albei van duik, hoekom nie dit begin doen vir werk nie?
Om deel te word van die gesogte Duikeenheid is nie so eenvoudig nie. Die toets word gedoen met stokoue duik toerusting, ‘n halwe duikpak en ‘n pikdonker duiktoets. Alex en Pyper kom albei gelukkig deur en is vol entosiasme om te begin werk as duikers. Hulle word sommer by die diep kant ingegooi – gaan soek vir ‘n slagoffer van die boendoehof in ‘n rivier wat meer riool as water is. As die nuwe lede moet hulle dit natuurlik doen. Baie gou leer hulle waardevolle lesse oor hoe om dit vining en effektief te doen by die ou duikers.
Stadig maar seker begin die oproepe deurkom vir die twee vriende en dan kan hulle vir die dag van die trein af. Die werk is egter nie so glansryk soos hul gedink het nie – dis nie duik tussen mooi vissies in goeie sigbare water nie. Hulle moet dooie mense soek en uit die water kry. Hoe hanteer jy die nagevolge op jou psige as jy die slegste deel van die menswees sien? Alex gaan ‘n paar harde lewenslesse moet deur maak as hy heel aan die ander kant wil uitkom.
My opinie: Wat ‘n uitstekende boek! My werk as paramedic in die Kaap het gereeld oorvleuel met die tipe werk wat in die boek beskryf is. Uitstekend nagevors, baie realistiese karakters met die tragiese en rowwe lewe op die Kaapse vlakte goed saamgevat. Kan beslis aanbeveel, maar dis wel nie vir sensitiewe lesers nie.
Dit was so bevredigend om hierdie boek te lees. Die blik op die lewe van 'n polisieduiker was fassinerend. Steyn se deeglike navorsing het ware verhale lewendig gemaak en my geboei. Ek het heeltyd gewonder op watse verregaande of ondenkbare missie hulle uitgeroep gaan word. Die boek is nie 'n krimi nie, maar vertel die verhaal van twee beste pelle en hulle ervaringe in die polisie duikeenheid.
Rêrig 'n lekker lees boek wat ek terdeë geniet het. Die boek gee mens meer insig oor die mens agter die wapen. Eerste keer wat ek een van die skrywer sê boeke gelees het en gaan punt daarvan maak om sy ander boeke in die hande te kry. Lekker om' n goeie boek in jou eie taal te lees. Welgedaan