Toe Mia Roux, kunstenaar en eienaar van ’n kunsgalery, in Jaco Botes se uitsonderlike oë kyk, besef sy hier kom moeilikheid. Sy soek nie ’n verhouding nie, maar hierdie man doen dinge aan haar. Jaco, ’n suksesvolle korporatiewe prokureur, kan sy hande nie van haar afhou nie, maar soek nie ’n lewensmaat nie. Hy stel voor dat hulle vriende met voordele word. Tussen die lakens is hulle beslis ’n uiters goeie kombinasie, maar is dit genoeg vir hulle?
Kyk jy na die uitsprake van die twee hoofkarakters in Madelie Human se nuwe Romanza, Eerste keuse, sal jy verstaan waarom ’n gelukkige einde vir hulle eers na harde werk, selfondersoek en wroeging, kan realiseer. Jaco reken: “Die meeste verhoudings eindig in gebroke beloftes en flenterharte.” (p.26) Mia is van mening: “Ek hou van dinge in netjiese boksies, elke ding op sy plek. My lewe het nie ’n boksie vir verlief wees nie.” (p. 115) Gelukkig het dié twee, wat hulself roem op hulle ooreenstemmende keuse om nie te trou nie, goeie rolmodelle in die vorm van Wickus en Marli en hulle uitgebreide gesin. Die ouers en sibbe het in die eerste drie boeke van hierdie oulike reeks, elkeen sy pasmaat gekry. Op ’n ry gee die familie raad en almal is oortuig dat Jaco en Mia vir mekaar bestem is. Ook die kleurvolle karakter, tannie Ragie, is uitgesproke in haar beskouing oor die verhouding tussen dié twee. Ek het baie gehou van die treffende gebruik van die titel op verskeie plekke in die storielyn, met die verbuiging van “enigste keuse” (p. 181) wanneer die knoop deurgehaak word. Terwyl die karakters wat uiteraard oorspoel uit die vorige romanses soos ou bekendes voel, en ek die lees van hulle stories in volgorde aanbeveel, kan Eerste keuse ook op sy eie gelees word. Die skrywer gee genoeg agtergrond deur om die reeks sinvol te beëindig. Besoek gerus die webwerf van Lapa Uitgewers vir ’n Bruid voor Kersfees, Die dokter langsaan, Liefde kan roes en Eerste keuse in gedrukte of e-boekformaat.
Die skryfster van Eerste keuse het weereens nie teleur gestel nie. Van die begin af was dit duidelik dat beide hoofkarakters hulsef nie as trou materiaal verklaar het nie. Eerste keuse het beide voor 'n handvol keuses gebring. Hoe dit uitwerk gaan ek nie verklap nie. Dis tot op die einde spannend en vol kinkels. Eerste keuse is die vierde boek oor families en vriende wat aan mekaar verbind word. Dis weereens 'n heerlike onspannende boek om te lees. Madelie is 'n baas roman skrywer.