Die verteller in Heks vind haar toevlug in sprokies en mites. Terwyl die wêreld die oorlog in Oekraïne op TV-skerms gadeslaan, verdiep sy haar in die mitologie van dié land – ook as skans teen die toenemende vyandelikheid in haar huwelik. ’n Ongeoorloofde verhouding maak ’n besieldheid in haar wakker. Sy beroep haar op dié nuwe krag toe sy van ongerymdhede bewus word by die kosmetiekmaatskappy vir wie sy bemarkingskopie skryf. Dis tyd om beheer van haar eie verhaal neem.
ñ Boek van oorloë. Die Oerkraïne se oorlog. Die oorlog teen gewetenlose kosmetiekvervaardigers. En die eggenootoorlog.
Hierdie is my eerste temoetkoming met Dibi, en ek is beïndruk. Die ure se navorsing wat in hierdie boek in gegaan het. Die stories in die storie. Die suiwer Afrikaans, wat my, my woordeboek laat nader trek het.
Heks is glad nie wat ek verwag het nie, maar tergelyke tyd soveel meer.
Nooit sou ek gedink het fiksie sal my oortuig om al die bestandele van my skoonheids-produkte na te gaan nie.
In die jaar 2024 in sonnige Suid-Afrika kan jy tot twintig jaar as gas van die Departement Korrektiewe Dienste deurbring as jy iemand ‘n heks noem. Want in sommige kulture kan so ‘n bewering steeds ‘n lewe kos. In ander is ‘n heks ‘n vriendelike, ietwat dom, dogtertjie met ‘n kat genaamd Mattewis, in sprokies is sy dikwels ‘n knorrige ou tante met ‘n moesie en ‘n ewig pruttende pot, en as skelwoord verwys dit dikwels na ‘n persoon, gewoonlik ‘n vrou, met ‘n skerp tong. Die enigste punt van ooreenstemming is dat ‘n heks iemand is met vermoëns wat nie deur die hoofstroom begryp word nie.
Die anonieme heks-verteller is getroud met G, haar gade, maar het ‘n verhouding met M, haar minnaar. Sy is ‘n vryskut korporatiewe skrywer, maar ook ‘n voetsoldaat in drie oorloë, die een teen die gewetenlose uitbuiting van vrouens deur patriargie en die skoonheidsindustrie, die een wat woed in Oekraïne, en die een op haar eie tuisfront. Sy huil, vir ‘...al die vroue van die wêreld omdat hulle stukkend en belieg is en opgefok word deur boelies.’ (233), sy ‘...voel die Oekraïniërs se pyn.’ (225), maar is huiwerend voor die toetrede tot haar eie oorlog: ‘...die valbrug van my lippe bly verbete teen die tierende kartetse gesluit.’ (155)
Van kindsbeen af was stories en mites haar ontvlugting, die sneller vir haar metamorfose van ‘n weerlose slagoffer van alkoholgeïnduseerde gesinsgeweld, tot ‘n storieverteller wat haar eie eindes kan kies. As volwassene is juis dit weereens haar redding; Baba Yaga in die hoenderpoothuis, die kikimora agter die stoof, en die widmi van Lisa Gora, bemagtig haar innerlike heks om tot wasdom te bloei en haar soos die fluitjiesriet te kan laat uitroep dat die keiser donkie-ore het.
‘Heks’ ontroer, verleen vlerke, vermaak, begeester, onthul die stories binne stories en die uiteenlopende aard van oorloë. Ongetwyfeld een van my 2024-leeshoogtepunte.
Ek is altyd verbaas oor hoe soomloos ons Afrikaanse skrywers ‘n totale omdraai in hul skryfstyl en genre kan maak. Dibi Breytenbach is die nuutste skrywers om hierdie met groot sukses te doen. “Heks” is nie die gewone krimi wat ons van haar sal verwag nie. Met haar vorige boek “Buit” het sy vir my nuwe hoogtes bereik in haar skryfkuns. “Heks” stel hierdie teiken nog hoër alhoewel dit moontlik nie in die smaak van haar getroue krimi lesers mag val nie.
Ons naamlose heldin in “Heks” werk met woorde en leef in ‘n wêreld waar sprokies en fantasie deel van haar dag tot dag gedategang vorm saam met die woorde wat sy spin vir haar kliente. Met groot angstigheid volg sy die uitbreek van die oorlog in Ukraine en vul haar gedagtes en besweer haar angs deur haar te verdiep in die sprokies en mites van die land. Haar verhouding met haar man, G, eskaleer so vinning na die “oorlog” kant toe soos wat die oorlog in Oekraine doen. Sy harde woorde val vel op haar en sy trek haar terug in haar wêreld van skryf en mites. Ter selfde tyd is haar buitehuwelikse verhouding met M en die mooi woorde waarmee hy haar lewe vul ‘n skerp kontras met die ander oorloë om haar. Dan is daar ook die ander oorlog wat sy veg, een met ‘n kosmetiekmaatskappy sonder enige geweet. Maar ons heldin het die siel van ‘n fluitjieblaser al word daai siel soms rof onderdruk deur G moet sy na haar eie innerlike stem luister.
“Heks” vertel die verhaal van ‘n middeljariige vrou se ontwaking tot haar eie self – dit wie sy moet wees na jare van ‘n onvervulde huwelik en met ‘n leë nes en nie wie sy weklik geword het nie. “Ek lag vir die ydelheid van my gesprek met my spieëbeeld. En vir ‘n vlugtige moment, vir die heel eerste keer, sien ek dit ook: Die heks, die verleidster. Sy kyk na my terug, tuit haar lippe skalks voor sy agter die konformiteit van my onmerkwaardige voorkoms verdwyn.” Ek het die boek geweldig geniet en kan dit regtig aanbeveel. Nie net het ek saam met ons heldin gelag en gehuil nie, ek het ook baie geleer van die mites en verhale van Oekraine. Die boek is eenvoudig ‘n baie goeie lees.
Ek wonder (alweer) wáár kom mense (lees 'skrywers') aan hulle stories. En die invalshoek(e)... en waar kry hulle tyd om so deeglik navorsing te doen? Want díe boek het dit alles! Die hoofrol word vertolk deur 'n naamlose vrou - sy ag haarself 'n heks, één met mites en legendes uit duisende eeue. Sy is getroud met G (haar gade) en het 'n verhouding met M (haar minnaar). Deur die eeue heen is hekse in verskillende wêrelddele met verskillende grade van vrees en minagting hanteer... iets waarmee sy haarself nogal kan vereenselwig, en waarin sy oplaas in 'n haar identiteit terugvind - nadat sy uiteindelik haar innerlike heks losgelaat het. Sy leef op 'n skerp lem - aan die een kant ry haar gewete haar oor haar buite-egtelike verhouding, maar aan die ander kant bekommer sy haar intens oor die oorlog tussen Rusland en die Oekraïene, en wil sy 'n groot farmaseutiese maatskappy se bedrog en oëverblindery aan die publiek blootlê. Sy beleef die haarfyn skeidslyn tussen reg en verkeerd, en goed en kwaad daagliks - selfs in haar twee verhoudings. Haar sielewroeging deel sy gereeld in stilswye met 'n klein borsbeeld van Homerus, wat op haar lessenaar pryk. En wanneer Homerus in die slag bly tydens 'n woordewisseling tussen haar en G, bring dit 'n waterskeidings-oomblik in hul verhouding. Daar is baie lae in hierdie vrou se verhaal - lae wat dalk met 'n 2e of 3e herlees, selfs nog duideliker sal uitstaan. Die invalshoek is ongewoon, en die verwysings en vertellings van ou Griekse- en ander mitologieë maak vir interessante leesstof!
Oorlog. Vuur en vlam en bomme oor Oekraïne. Koue, beide die ysigheid van innerlike selftwyfel én die kilte van ’n sterwende huwelik. Heks verken verskillende vorme van konflik, persoonlik én wêreldwyd, en doen dit met taal so beeldryk dat elke toneel ’n visuele impak laat. ’n Rolprent wat voor jou geestesoog afspeel en jou emosies meesleur.
Maar dis nie net donker nie. Tussen die pyn en verlies loop ook drade van groei en selfontdekking. Amper ’n midlewense “coming of age.” Daar is ook ’n pragtig getekende romanse. Dié is ’n storie oor waarheid en transformasie en self-vergifnis en die krag van vrouwees.
Die roman vra iets van die leser: aandag en geduld, veral in die begin. Daar’s Griekse mitologie en moderne verwysings na Rusland en Oekraïne met baie name wat vreemd op die Afrikaanse tong lê. Maar hou moed. Breytenbach weef ’n verhaal vol lae, simbole en siel. Jy sal diep drink van hierdie towerdrank en sonder twyfel vasgevang word in die magiese effek.
'n Wonderlike afwyking van die skrywer se gewone (uitstekende) spanningsromans. Die ek-verteller het 'n unieke stem, 'n unieke manier van dink. En tog is sy ook universeel vrou. Haar belewing word in lieflike taal verwoord, met subtiele humor oral versteek. Daar is baie sinne wat ek graag vir altyd sou wou onthou. Daar is verskeie temas, almal relevant vir ons tyd: huwelike wat nie meer werk nie, owerspel en heerlike lyfdinge, die oorlog in die Oekraine, die wereld van mites en legendes van veral die Slawiese wereld, die wereld van kosmetiek wat nie altyd die klient se veiligheid eerste stel nie. Sterk aanbeveel!
In Engels sou ons sê "too much"! Van alles, taalgebruik en veral die verwysings na die gode. Net te ingewikkeld en irrelevant na my smaak. Dit het vir my plek-plek gevoel soos 'n regsverteenwoordiger wat niks het om te sê nie en dit dan met die oormatige gebruik van woorde probeer wegsteek. Waar die hoofkarakter in haar eie woorde aan't vertel was, het dit wel gevloei en lekker gelees.