Jump to ratings and reviews
Rate this book

'n Vrou staan op

Rate this book
So lyk ’n vrou, Ilse Verster se hartroerende verhaal oor Esli se lewe van mishandeling deur ’n gewelddadige eggenoot, het lesers in 2022 geskok en aangegryp. ’n Vrou staan op is die vervolg op die blitsverkoper en vertel van die nuwe hoofstuk in Esli se lewe.
Ná ’n uitmergelende egskeiding wat haar finansieel byna ruïneer, reis Esli Kaap toe om perspektief te kry op ’n lewe waar sy nie meer ’n slagoffer is nie. Dan gebeur daar ’n wonderwerk. Sy ontmoet iemand en hulle besluit om te trou. Uiteindelik is die geluk, vrede en veiligheid waarna sy haar lewe lank gehunker het, vir Esli beskore.
Máár haar stryd is nog lank nie verby nie. Post-traumatiese stres, ’n vreemde omgewing en nuwe verhoudings bring onverwagse uitdagings. Ook baie vrae: Hoe kan ’n mens gelukkig wees, maar steeds huil? Die ongekende blootstelling wat tydens boekbekendstellings, praatjies en mediaonderhoude volg op die sukses van So lyk ’n vrou, maak dinge ook nie makliker nie. Esli kan haar nie volledig losmaak van die verlede nie, want almal stel moeilike vrae. Terselfdertyd moet sy ander slagoffers van narsisme moed inpraat.
In ’n Vrou staan op deel die skrywer haar ervarings van die moets en moenies in die proses na heelwording. Want om ’n oorwinnaar te wees, verg ook moed, deursettingsvermoë en ’n sekure instink vir oplossings wat wérk.

292 pages, Kindle Edition

Published September 1, 2024

9 people want to read

About the author

Ilse Verster

3 books7 followers
Ilse Verster woon in die Kaap saam met haar man, Francois. So lyk ’n vrou... is haar eerste boek. Sy het eerstehandse ervaring van die gebeure wat sy beskryf.

Ratings & Reviews

What do you think?
Rate this book

Friends & Following

Create a free account to discover what your friends think of this book!

Community Reviews

5 stars
6 (37%)
4 stars
6 (37%)
3 stars
2 (12%)
2 stars
2 (12%)
1 star
0 (0%)
Displaying 1 - 3 of 3 reviews
144 reviews8 followers
September 27, 2024
Waar begin 'n mens wat nog nooit díe tipe trauma beleef het nie, om te probeer verstaan wat díe vrou deurgemaak het. Jy kan eenvoudig nie sin maak uit die chaos wat haar lewe was nie.
Hierdie boek volg op 'So lyk 'n vrou', wat ek self nog nie gelees het nie. Sy verwys soms na gebeure in daardie boek en gee genoeg agtergrond daaroor vir die leser om te kan begryp waar dit in die groter prentjie inpas.
" 'n Vrou staan op" begin waar Esli Kaap toe gaan vir 'n wegkom, ná 'n bitter moeilike egskeiding wat haar op alle vlakke byna heeltemal verwoes het. Sy is skaars in die Kaap dan ontmoet sy die lang, grys man met die blou oë, Francois. Albei van hulle se voete word onder hulle uitgeslaan, maar vir Esli vang dit werklik onkant, want sy kom letterlik pas uit die skeihof. Ten spyte van talle vrae sonder antwoorde, laat die twee nie op hulle wag nie, en trou redelik gou nadat hulle mekaar ontmoet het. Maar, alhoewel Francois se sagtheid en krag haar heeltyd omarm het, het die spoke van die verlede steeds in haar psige rondgewoel. Sy beskryf hoe maklik 'n sneller ('n insident, liedjie of iets dergeliks wat 'n spesifieke herinnering uit die verlede oproep) haar weer in die dieptes van depressie kon laat wegsink. En hoe sy, buiten die emosionele en psigiese skade, ook fisies agteruit gegaan het wanneer sulke snellers haar tref. Terwyl sy haar in 'n veilige omgewing bevind in haar nuwe verhouding met Francois, moes sy ook steeds geweldig hard werk aan haarself, die manier waarop sy na haarself kyk en geneig was om haarself te blameer wanneer dinge skeefloop. Tydens langdurige introspeksie en terapie raak haar rol in haar eerste huwelik met die narsis, Bart, vir haar duidelik, en kan sy begin om haarself daarvoor te vergewe. Haar reis na emosionele heling duur voort, en in hierdie boek gee sy ook feitelike inligting oor die narsis, hoe hy/sy uitkenbaar is, hoe ander mense hulself kan beskerm teen 'n narsis, en ook hoe om jouself wettig te bemagtig as jy jou in so 'n situasie bevind.
Dis hartverskeurend dat 'n mens met post-traumatiese stress uit 'n huwelik van dekades kan uitstap. En hierdie vrou is die bewys dat jy wél kan opstaan en aangaan daarná. Al moet jy dit herhaalde male doen - daar ìs lig aan die einde van die tonnel. Dis tegelyk 'n onstellende, insiggewende en inspirerende boek.
Profile Image for Anschen Conradie.
1,491 reviews85 followers
Read
September 18, 2024
#nVrouStaanOp – Ilse Verster
#Lapa

Dis so prentjie-perfek in die sprokiesverhale, maak nie saak watter ellendes die heldin getref het nie, sodra sy saam met haar prins oor die horison verdwyn, slaan sy ‘n silwerskoon bladsy oop. Al die trauma van die verlede, of dit nou ‘n giftige appel, of ‘n duisendjarige slaap was, word eensklaps uitgewis. Die verskil tussen sprokies en die werklikheid is soos die verskil tussen ‘n jongeling en ‘n bejaarde ruiter wat van hulle perde val; die jonger ruiter spring vinnig penorent asof niks gebeur het nie, maar die ouere staan in paaiemente op, alles gebeur nie meer gelyk nie.

Esli, die anagram waarmee die eerste persoon-verteller identifiseer, was veertig jaar aan die genade van ‘n narsistiese alkoholis uitgelewer. (“So lyk ‘n vrou”, Lapa, 2022) Haar opstaan was (en is) egter veel meer as die enkele gebeure wat in die 2022-publikasie se laaste hoofstukke beskryf was, dis ‘n episodiese, herhalende proses, die ruggraat van haar opstaan-verhaal.

Trauma slaan sy tentakels in jou wese soos die dorings van ‘n wag-‘n-bietjie-bos. Selfs wanneer jy daarin slaag om jou daarvan los te skeur, ontsnap jy met wonde. En dikwels ook met afgebreekte stukkies dorings wat hulle eie tyd neem om uit te sweer.

Die pad na genesing is minder skrikwekkend as dit aan die hand van ‘n geliefde gestap kan word, maar dit moet steeds gestap word. Esli vertel openhartig van die wisselende, soms teenstrydige emosies, wat ervaar word wanneer sy moet wegstap van een lewe en die uitdaging van ‘n nuwe moet aanvaar. Dis die verhaal van opstaan en omdraai, maar ook van struikel, twyfel, en weer probeer. Dis ‘n verhaal van hoop wat soos ‘n feniks uit die as verrys.

Sy staan verskeie hoofstukke af aan die deel van haar eie ervarings met narsisme en alkoholisme, en identifiseer waarskuwingstekens en patrone. Sy en haar Francois is die lewende bewyse van tweede kanse, van die liefde wat alles oorwin.

#Uitdieperdsebek
Profile Image for Alta Cloete.
Author 32 books49 followers
September 7, 2024
Ek het met meer insig in 'n onbeskryflike situasie uit die lees van hierdie boek gekom. 'N VROU STAAN OP is basies 'n boek oor al die dinge wat Ilse nie geweet het toe sy in 'n abusive huwelik was nie. Sy het op die harde manier geleer en agterna haar navorsing deeglik gedoen. Sy gee eerlike antwoorde op pynlike vrae.
Niemand sal ooit al die antwoorde hê nie, maar hierdie boek kan vir baie vroue lig in die wapad bring: Jy is nie alleen nie. Daar is kennis en ondersteuning beskikbaar.
Displaying 1 - 3 of 3 reviews

Can't find what you're looking for?

Get help and learn more about the design.