Die sweer van stilswye bars altyd oop … In 2009 word Stellenbosch geruk deur ’n sensasionele moord. Vanessa Wessels, dogter van ’n welgestelde familie, vermoor haar studentemaat, maar weier om oor die voorval te praat. ’n Paar jaar later jaag die bekende digter Didi Donkermann by Voëlklip oor die afgrond in ’n vermeende selfdood. Die raaisels begin net stof opgaar, toe die Molenberg psigiatriese hospitaal vir dr. Ann Marais laat weet dat Vanessa Wessels haar wil sien. Ná jare se stilte wil sy uiteindelik praat oor wat die aand van die moord gebeur het. Dan kom Didi se seun, die skrywer Louis Donkermann, ook uit die houtwerk met aantygings dat ’n jong skrywer sy nuutste boek geplagieer het. Maar hoe is hierdie twee ou sake verbind? Waar oorvleuel moord, obsessie en letterkunde? En hoe vind jy die waarheid uit na soveel jare se stilswye? Swyg, Erla Diedericks se vierde spanningsroman, snuffel heerlik tussen die geraamtes van die akademiese en uitgewerswêreld.
Beroepsvelde word maklik in fiksie geromantiseerde weergawes van die werklikheid. Dink maar aan ‘LA Law’ en ‘Grey’s Anatomy’. Die teenoorgestelde is eweneens moontlik, naamlik dat die skynglans opsygeskuif en die realiteit ontbloot word.
In Diedericks se nuutste sielkundige riller is dit die uitgewersbedryf wat onder skoot kom. Louis Donkermann se debuutroman het van hom ‘n literêre fenomeen gemaak, sy opvolgwerk is baie minder entoesiasties begroet. Die verwagtinge was en is hoog, hy is immers die seun van die befaamde digter, Didi Donkermann, wat tragies in ‘n vermeende selfdoodinsident gesterf het. Terwyl die druk toeneem om ‘n waardige werk te lewer, verskyn ‘n nuwe jong ster op die horison wat hom straks mag onttroon.
In die Molendorf psigiatriese hospitaal begin die newels wat vir jare oor ‘n pasiënt se geheue gehang het, vervaag. In 2009 is Vanessa Williams daarvan beskuldig dat sy ‘n studentevriendin, Christie Bester, vermoor het deur haar met ‘n kokende ketel oor die kop te moker en met ‘n draadhanger te verwurg. Sy het deurentyd geswyg en beweer dat sy geen herinnering aan die tragiese aand het nie. Nou keer haar geheue terug. En sy is bereid om die sluier te lig.
Hierdie twee oënskynlik uiteenlopende scenario’s het ‘n gemene dele: Dr Ann Marais, die psigiater wat haar bande met die Molendorf verbreek het, maar haar besluit moet heroorweeg. Want Vanessa dring aan om met haar te praat, met niemand anders nie.
Verskeie tegnieke word ingespan om die spanning te behou en ‘n gevoel van oortuigende outensiteit te skep. Die hoofstukke is kort, tydsponge vind plaas, die sluier oor die verlede word episodies gelig, en werklike rolspelers in die bedryf, soos Kerneels Breytenbach, Joan Hambidge, Laetitia Pople, Willem Jordaan, Jo Prins, Herman Lategan, Tom Dreyer, en Charl-Pierre Naudé maak vlugtige verskynings. Daar is ook subtiele verwysings na ‘n kortverhaal deur Stefaans Coetzee en Sandy Schoeman se kuns.
Die teks is toeganklik en veelsydig. Eggo’s van Totius se rus wat elders is, is verskuil in die kontras tussen ‘Die strate is grou en stiller as gewoonlik. Nat. So nat.’ teenoor ‘Laggende mense in warm poele lig...’ (89) , en die Donkermanns se kenmerke word met strakke alliterasie beskryf as ‘dood, destruktiewe gedrag, drank...’ (49) ‘n Karakter se beskouing van sy lewe as ‘n spel van slangetjies-en-leertjies, word effektief aangewend om sy gevoelens van uiterstes na beide bo en onder te beskryf, alhoewel die drukkersduiwel hom per geleentheid by die leertjie laat afgaan, pleks van opklim (76).
Humor word nie agterweë gelaat nie, en ‘n arrogante karakter se gedagtes, aanduidend van sy grootheidswaan, word amusant beskryf as: ‘Hy het êrens gelees vroue hou die genetika wat in mans se sperm skuil oor in hul DNS ná seks. Pleks dat die vrou nie so aangedring het op kondome nie, dan was sy dalk nou bietjie slimmer.’ (42)
‘Swyg’ handhaaf met welslae ‘n balans tussen wraak, doodslag, erotiek, humor, spanning, en tragedie, en laat die leser gril met ‘n grynslag.
3.5⭐️ Baie oorspronklik en fun! Ek geniet Erla Diedericks se vertelstyl, die spitsvondige dialoog en karakters. Baie vermaaklik en snaaks! Die verhaal is n eg Suid-Afrikaanse donker akademie-tipe verhaal wat handel oor n BA tale dosent wie haar studente verlei en verwoes. Die na-draai van gebeure 15 jaar gelede en meer spesifiek die nagevolge van een MORSIGE kuier is die fokus van hierdie lekker-lees (en ietwat noir ) storie. Die verhaal is bietjie stadig op plekke- met stukkies teks wat waarskynlik nie nodig was nie en nie bygedra het tot enige iets nie, maar steeds goed geskryf.
Stellenbosch word geruk deur 'n grusame moord in 2009. In 2024 begin Vanessa, wat skuldig bevind is vir die moord, onthou. Watter geheime gaan sy verklap?
Die verhaal trek stadig weg, maar versnel gaandeweg soos 'n steenkoollorrie teen 'n steil afdraand af. Ek het die boek geniet, lewendige dialoog, sjarmante skurke, seks en suip, en dan 'n verrassende ontknoping.
Mensig, ek kan nie swyg nie. Ek het hierdie boek van Erla Diedericks baie geniet. Dis bitter slim geskryf en ʼn mens bly die heeltyd aan te raai oor al die kinkels en kabels wat sy so kunstig verweef. Die slot, en alles tussenin is ook heeltemal onverwags. Ek beveel die storie ten sterkste aan.
Die boek is uitgee deur Lapa uitgewers en alhoewel ek die e-boek weergawe op Amazon gekoop het, het ek gesien dit is by die meeste boekwinkels beskikbaar.
Taal was bietjie bar vir my smaak. My 1ste Erla Diedericks boek Interessante storielyn, maar ook bietjie donker en om te dink dinge wat aangespreek is in die boek is vandag algemeen in die samelewing. Dankbare hart ek beweeg nie in daardie kringe, verwoesting. Uitdrukkings en verwysings na gedigte het my verder laat oplees "Verba volant, scripta manent" Gesproke woorde vlieg weg, maar die geskrewe woord bly.
Hierdie storie trek jou in en sleur jou mee. Voor jy jou kan kry is jy deur die kinkels en skok onthullings tot by die verrassende einde. Swyg het 'n vinnige pas en ek kon dit nie neersit nie. Deur al die alkohol en dwelmmisbruik, jaloesie en wellus het ek Diedericks se beskrywing van plekke en karakters baie geniet.
Die enigste ding wat my bietjie geïrriteer het wat feitelik verkeerd is, was heel op die einde. Voëlklip in Hermanus is nie die berugte “suicide cliff” Voëlklip nie. Die Voëlklip waarna die skrywer verwys is naby George in Heroldsbaai.