In Troep! vertel meer as ’n honderd oud-troepe wat hulle onthou van om op skool opgeroep te word, te gaan oorlog maak en twee jaar later weer huis toe te kom. Tussenin lê stories van varkpanne, tiekiebokse, twee-komma-viers, boeliebief, die DB, ryloop, pakkies, bosbussies, naweekpas, ratpacks, stof, Buffels, landmyne en skrapnel – en ook herinneringe van vriende, seuns en broers wat nie teruggekom het nie. Bun Booyens voeg al hierdie stemme saam tot die verhaal van die uitsonderlike dinge wat duisende gewone seuns beleef het. Hierdie stories sal ’n snaar by veterane roer, en hul naastes help om te verstaan watter dinge hierdie mense vandag steeds met hulle saamdra – dit wat hulle onthou, maar ook dit wat hulle nie kan vergeet nie.
Wanneer ‘n bejaarde persoon sterf, brand ’n biblioteek van kennis af. En wanneer die laaste oorlewende van ‘n gebeurtenis sterf, vervaag die kollektiewe geheue van die storie-aanhoorders, tensy dit vir die nageslag neergepen word. Daar word dikwels gevra of daar nie al genoeg oor die Grensoorlog geskryf is nie, en die antwoorde is nie net uiteenlopend nie, dis boonop gelade en lei meestal tot ‘n paar pynlike woordskermutselings.
Daarom moet daar van meet af aan toegegee word – deur beide kante van die emosionele debat – dat hierdie spesifieke boek afwyk van die patroon waarin heelwat oorlogsherinneringe gegiet word. Eerstens het dit nie ten doel om trauma te konfronteer, herinneringe af te stof, of politiek te ondersoek nie. Dis ‘n boekweergawe van ‘n ‘memory box’; ‘n versameling staaltjies en herinneringe wat die stories van die verlede vir die toekoms bewaar; iets om te lees wanneer die vertellers lankal nie meer kan vertel nie. In die woorde van die samesteller: ‘Op die ou end word oorloë egter vir die groot veldslae onthou, die klein besonderhede vervaag vinnig. Hoe het gewone soldate dinge beleef? Wat het hulle geëet? Waaraan het hulle gedink en waaroor het hulle gesels? Dié boek probeer deeltjies van daardie “klein geskiedenis” opteken, want die dienspliggenerasie begin nou uitsterf.’ (9)
Tweedens is daar nie regtig sprake van ‘n skrywer in die tradisionele sin van die woord nie. Booyens het oor jare, en met die hulp van verskeie versamelbronne die inhoud bekom, georganiseer, en gepubliseer onder bepaalde hoofde. Bydraers sluit in meer as honderd oud-troepe, familielede van diegene wat gesterf het, en selfs poësie. Sommige bydraes beslaan etlike bladsye, ander is beperk tot ‘n enkele sin, soos: ‘My ma was banger as ek.’ (18) Ook die toonaard en taal wissel, die meerderheid bydraes is in Afrikaans, maar heelwat is in Engels. Sommige is humoristies, ander nostalgies, en, in die minderheid van gevalle, slaan effense verbittering, ontnugtering en woede tog deur. Die meerderheid bydraers word geïdentifiseer, maar enkeles verskyn onder skuilname of anoniem.
Die onderwerpe is so wyd soos oorlede Celliers se vlaktes, van beproefde boeliebiefresepte, lyste van woorde, frases en afkortings, die ‘Vomit Comet’ (Dakota), die herkoms van die gewraakte twee-komma-vier, ‘n vlakvark-warmwatersak op Grenspatrollie, en hoe om eiers vir honderde hongeriges te bak, tot ‘n ode aan die onbesonge militêre pakdonkie (die Bedford-vragmotor) en die langtiekie-tegniek, is ingesluit. Een van die humoristiese staaltjies het ‘n Afrikaanse troep wat die ‘Onse Vader’ in Engels moes bid as onderwerp: ‘Hy skryf toe sommer die gebed op ‘n klein stukkie papier en sit dit in sy beret.’ Weens visuele uitdagings lui die gebed toe: ‘Our Father who art in heaven...how do you do?’ (125)
Die herinneringe is nie beperk tot humor en anekdotes nie. Die realiteit van konflik-oorlewendes word as volg verwoord: ‘I tried to get up, but couldn’t and then looked down at my leg. One leg was turned around with the sole of the boot facing me. I stupidly took my other foot and kicked my leg to turn it back in the right direction. Bad decision, because it was a compound fracture.’ (191) en ‘Die volgende dag het ons gaan opruim. Dit was eintlik maar net tien hopies van tien mense. Die roofvoëls is met die res weg.’ (229)
Pyn en trauma word terugkykend met eenvoud verwoord: ‘Ons was maar net kinders van sewentien, agtien, of negentien wat die dood in die oë moes kyk. Die ou wat eerste die sneller getrek het, het huis toe gekom met ‘n kop vol stories. Die ander een het die dood ingegaan.’ (281)
Indien die boek in ‘n enkele sin opgesom moes word, sou dit wees: ‘Hierdie boek is saamgestel ter wille van onthou.’ (11) #Uitdieperdsebek
A very interesting peek into life in the army and the lived experiences of the Troepe during the border "wars". In the direct words of the Troepe, it gives you the true view of life in the army, written without any propaganda or prejudice.
Ek het die boek baie geniet. My Pa bet self diens in Angola gedoen, maar iets waaroor hy nooit praat nie. Ek wou nog altyd in die weermag wees, maar hy wou nooit hê ek moes aansluit by die SANDF.
Ek dink n groot rede vir dit is omdat die SANDF uitmekaar uitval en Terroriste van die MK nou in beheer is. Ek het toe maar aandgesluit by die Britse Weermag en dit wys jou net maak nie saak waar jy diens doen en vir watter land, Ops, basis ens is presies dieselfde. Ons praat die selfde taal en die bowk het vir my n persepsie gegee oor wat in my Pa se tyd gebeur het.
Ek beveel die boek aan vir almal wat belangstel aan die geskiedenis van ons weermag in n tyd wat hy op sy beste was.
'n Baie belangrike toevoeging tot grensverhale. Hierdie is die tipe goed wat ek wens ons kon in die tagtigs lees, sodat ons meer begrip kon toon vir die ouens en ook hulle naastes.
Dit is die doodgewone ervarings van doodgewone mans, netjies vasgvleg deur Bun Booyens.