One dark star has enough light to compete with an entire galaxy of stars – Katherine Freese.
Annerle Barnard het reeds met haar eerste boek, Sweepslag, bewys dat sy nie wegskram van ernstige hedendaagse kwessies nie. Onlangs het sy die bul by die horings gepak en die gebruik van verbode middels deur sportsterre, in die besonder onder hoërskoolleerlinge, in Gif aangespreek.
In Donkerster, die naaswenner in Lapa se Jeugromankompetisie, takel sy stropery (veral leeus, maar raak ook aan renosterstropery) en kry sommer ʼn vuishou in teenoor boelies. Dan raak sy ook die baie sensitiewe onderwerp van albinisme aan.
Ons ontmoet Carli Kirstein en haar vriende, Hilda en Sam. Carli word as vreemd beskou omdat sy van wildbewaring en sweiswerk hou. Verbeel jou, ʼn meisiekind wat van sweis hou! En Sam is ʼn albino wat baie spot moet verduur omdat hy aan albinisme ly.
Wouter misbruik Carli se gevoel vir hom vir sy eie akademiese gewin, maar wanneer dinge warm raak, los hy haar soos ʼn warm patat. Intussen flikflooi Stef, die buurseun, ook al om Carli, maar haar ouers keur beslis nie ʼn verhouding tussen hulle goed nie. En waar pas Xander, die veeartsenykunde-student, in die prentjie?
Carli se boetie, Julian of Jules, sorg vir ligte vermaak en afleiding en lesers sal maklik aanklank by hom vind.
Wanneer ʼn stroper-sindikaat in Carli-hulle se omgewing bedrywig raak, is die leeus se veiligheid al waaraan sy dink – en in die proses stel sy nie net haar eie lewe nie, maar ook die van haar hartsmense in gevaar. Lesers kan hulself maar regmaak vir ʼn paar spanningsvolle oomblikke wanneer die stropers toeslaan en dinge heeltemal ontspoor.
Queenie, die swart hansvarkie met haar ronde lyfie, het dadelik in my hart gekruip. In my geestesoog sien ek haar rondwaggel met haar snoet in almal se spasie. En Jack, haar hondemaatjie, wat orals agter haar aanstert. Wanneer daar gestoei word om die plastiekspeen oor die bierbottel se bek te kry, sodat Queenie haar melk kan drink, neem dit my terug na my eie kinderjare op die plaas wanneer ons die hanslammers moes melk gee. Die gesukkel om die speen oor die glasbottels te kry. Die gestampery soos hulle gulsig drink dat die skuim in wit bolle om hul bekke sit.
Alhoewel Donkerster ernstige onderwerpe soos stropers, albanisme, boelies en haatpos aanroer, is daar altyd plek vir bietjie humor wat ʼn glimlag ontlok. Annerle ken die kuns om die interessantste sêgoed uit te dink en slang te gebruik wat groot byval by haar teikenmark sal vind.
Die boek is geskik vir jeugdiges van 13 jaar en ouer, maar ek glo volwasse lesers sal dit ook baie geniet – ek het.
#irmaink