Lyra en Andante is in Venesië in die Karnavaltyd, op soek na waardevolle antieke items wat vir hulle nie net estetiese of geskiedkundige waarde het nie, maar ook persoonlike en sentimentele betekenis. Hulle soektog lewer egter raaisels en probleme op wat konflik tussen hulle veroorsaak, geheime wat hulle verhouding affekteer, en antwoorde wat hulle albei seermaak. Sal begrip en vergifnis genoeg wees om hulle liefde vir mekaar te red?
Soos die subgenre, Reis, dit wil hê, voer Frenette van Wyk in haar nuutste Romanza die leser na Venesië, ’n baie gesogde reisbestemming. Dit is karnavaltyd en die gemaskerde feesgangers dra by tot die atmosfeer wat die skrywer skep, soveel só dat dit voel asof jy lees aan ’n historiese roman of ’n fantasie. Die unieke porseleinmasker wat Lyra spotgoedkoop aangeskaf het vir die geleentheid, vang die oog van ’n plaaslike antiekversamelaar, en gee aanleiding tot ’n gesamentlike soektog deur die stad. Lyra soek na die waardevolle viool wat haar pa, na haar ma se afsterwe, Venesië toe gestuur het. Wat sy wel vind, is vreemde visioene wat dalk met die maskertjie te make het. Ek sal die leser ’n onreg aandoen as ek meer van die storielyn verklap. Ek sal volstaan deur Lyra se ma aan te haal: “Staan ’n maskertjie af, ’n ou viool selfs, maar moet nooit jou hart aan ’n man afstaan nie.” (p.26) Dit blyk raad te wees wat moeilik gevolg kan word wanneer ’n man van Andante se kaliber in haar lewe verskyn. Frenette van Wyk gaan baie gemaklik om met fantasie. Dus verras dit geensins dat Versamelaar van verlore drome ’n paar magiese elemente bevat nie. Verder is daar ’n gekompliseerde geskiedenis wat die Guidecci en Nicoletti families verbind en wat sal waarborg dat jy wil blaai totdat die raaisels opgelos is. Hierdie Romanze is uitgegee deur Lapa Uitgewers en op hulle webwerf beskikbaar in gedrukte, sowel as e-formaat.