Mila Verster is ’n suksesvolle entrepreneur in haar vyftigs. Haar dogter, Tami, word eersdaags agttien, en Mila is gereed vir ’n nuwe hoofstuk. Wanneer Tami een middag spoorloos verdwyn, word Mila genoop om die sluier oor die verlede te lig, die gebeure te herbesoek en te ontrafel. Maar al genees tyd sommige wonde, bly die letsels rou en die pad na vergifnis kom teen ’n prys. Haas en Harriët is ’n hartroerende roman oor onvolmaakte ouerskap.
As die pragtige voorblad van Susan Coetzer se nuwe roman, Haas en Harriët, by jou ’n verwagting geskep het van ’n sagte seepbel-leeservaring, gaan jy beslis teleurgesteld wees. Die ma en dogter verhoudings soos oopgeskryf, is kompleks en die storie is deurspek van moeilike onderwerpe wat mens telkens laat sidder. Wanneer Mila en Harriët uiteindelik gedwing word om eerlike nabetragting te hou, erken die bejaarde Harriët: “Ons doen ons bes as ma’s. Maar ons maak foute – almal van ons, Dis by trial en error wat ons leer…” (p.304) Mila, wat van kleins af die naam van Haas of Hasie dra, is nou ’n suksesvolle sakevrou wat werk aan ’n voorlegging vir ’n PhD. Haar dogter, Tami, is op die outistiese spektrum. Voeg daarby Mila se eksentrieke ma, Harriët, wat in elke mens ’n dier raaksien en diere opstop vir inkomste, een na die ander projek aanpak en gereeld agter mans aan trek met Mila op sleeptou, of in die sorg agtergelaat van mense wat nie haar beste belange beskerm nie. Die skrywer vertel die verhaal in twee tydsgleuwe, in die 70’s en in 2023. Sy deel die kritiese elemente van die storielyn tydsaam met haar lesers, en ek gaan nie die vele wendings en openbarings hier verklap en die lesers beroof van die voorreg om dit self te beleef nie. Die aanwending van EAT, oftewel Equine-Assisted Therapy, was vir my baie interessant. Dit is effektief in die storielyn aangewend op ’n stadium waar asemskep midde van ’n plofbare situasie omtrent nodig was. Die mooi van seepbelle is darem nie vermors nie. Tami beskou dit as die beste verjaarsdaggeskenk: “Seepbelle is die perfekte mengsel van wetenskap en speel.” (p.334) Haas en Harriët gaan nog ’n rukkie by my spook. Lees dit gerus as jy hou van ’n veelvlakkige verhoudingsroman. Die boek is uitgegee deur Human & Rousseau, ’n druknaam van NB Uitgewers en beskikbaar in goeie boekwinkels.
HAAS EN HARRIET is inderdaad 'n roman oor onvolmaakte ma's wat elk op hul eie manier die beste vir hul kinders probeer doen, soos op die agterblad aangedui word. Haas is eintlik Mila, wie se ma Harriet nie in die kassies van die 70's inpas nie en wat haar leer om in elke mens 'n dier te sien. Later word Harriet dan ook 'n taksidermis en in die proses leer die leser heelwat feite oor die opstop van diere (maar dit oorheers nie die storie nie). Ook die seepbelle op die voorblad is 'n belangrike simbool in die storie. 'n Roman wat mens oor menseverhoudings en ouerskap laat dink. Ten spyte van al haar swaarkry wat haar latere gedrag moet verklaar, kon ek nie lekker vat kry aan Mila (Haas) se karakter nie. Haar oordeel oor haar ma was baie kras en haar ommekeer uiteindelik net te maklik. Vir Harriet het ek van die begin af intense empatie ervaar, want sy was so duidelik iemand wat nie in boksies gepas het nie en geworstel het om 'n bestaan vir haar en haar kinders te maak. Soos dit maar gaan, is hier ook aaklige ooms wat aaklige goed (emosioneel sowel as fisiek) aan vroue en dogtertjies doen, maar daar is darem 'n paar goeie mans ook vir balans. Ek beveel die boek sterk aan vir iemand wat van verhoudingsromans met die klem op karakterisering hou.
Milana is ‘n uiters suksesvolle besigheidsvrou met twee salonne en is besig om ‘n voorstel vir haar doktorsgraad voor te berei. Haar dogter Tami is in matriek en is neuro-divers. Met Tami amper klaar met skool sien Mila uit na veranderinge in haar lewe. Vroeg in die boek begin mens reeds agter kom dat haar verhouding met haar ma, Harriet, stormagtig is en dat haar verhouding met Tami ingewikkeld is meestal uit die aard van Tami se outisme wat kommunikasie moeilik maak. Harriet sien in alle mense ‘n dier – een wat agter hulle skuil en deel van hul persoonlikheid vorm. Sy beweer dat die dier fisies sigbaar is en dit beinvloed selfs haar opinie oor mense.
Die verhaal word in twee tydsvakke vertel – in die vroeë 70’s en in 2023. Deur die spronge in die tydsverloop leer ons Harriet en Mila beter ken en stadigaan begin ons verstaan wat die invloede op hierdie twee mense se verhouding met mekaar maar ook met die mense om hulle is. Ek wil nie te veel gesels oor wat diei storielyn nie. Dit is soos die lagies van ‘n ui wat afgeskil word om insig te gee in Mila en Harriet se verhouding . Soos Susan in ons gesprek by “The Book Keeper Shop” genoem het, soms traan jou oë ook in die proses.
Verskeie onderwerpe word gebruik om die boek en karakters in te kleur en elkeen van hulle het ‘n rol om ons die storie en karakters beter te help verstaan en gee ‘n effe eksotiese maar heerlike kleur aan die boek. Taksidermie en tequila, tattoos en borrels – alles het ‘n plek en ‘n rol om te speel. Ek hou van die manier van hoe byvoorbeeld Tami se uitkyk oor borrels (wetenskaplik) met Mila sn (as kommunikasiemiddel) teenoor mekaar staan en mekaar aanvul.
Ek het my verdiep in “Haas en Harriet” en die boek het my verras – dit was glad nie wat ek gedink het dit gaan wees nie en is ‘n uiters goeie boek oor onvolmaakte moederskap maar ook oor hoe onvolmaak ons as kinders is. Die komplekse ma en dogter verhouding word met deernis ondersoek en vele ander gesprekspunte word aangeraak. (wat ek eerder tans verswyg om nie die lekkerte van die lees van die boek weg te neem nie.) Alhoewel swaar en moeilike onderwerpe bespreek word is die boek ‘n goedvoel lees wat jou laat met ‘n heerlike warm gevoel en ‘n nuwe uitkyk op jou eie verhouding met jou ma en jou kinders.
Susan Coetzer skud die laaste oorblyfsels van haar beeld as kondensmelkskrywer af met hierdie boek. Vergeet gerus maar die etiket van geestelike motiveringskrywer, wat gerusstel en hoop gee.
Dit is 'n verhoudingsroman oor onvolmaakte ouerskap, maar ook onvolmaakte kindwees, met elemente van huishoudelike noir, wat byval by 'n baie wye lesersmark behoort te vind.
Na my mening is hierdie Coetzer se heel beste werk en behoort byval te vind by ’n wye lesersmark. Dit sal ’n uitstekende kersgeskenk uitmaak.