Die topverkoperskrywer TJ Strydom vertel die boeiende verhaal van ’n klompie entrepreneurs wat daarin slaag om ’n netwerk van mikrolenerye in ’n uitdagerbank te omskep. Eers neem die ou grotes in die bankwese die Stellenbosse snuiter nie ernstig op nie, maar hulle weet nie wat hulle tref toe dié nuwe finansiële instelling momentum kry en hul kliënte op groot skaal afrokkel nie. Met meer as 20 miljoen kliënte word Capitec die nuwe Suid-Afrika se grootste suksesverhaal.
Mens kan skaars glo hoeveel mens deurleef het op jou ouderdom: die 1990's was die allermalste postmoderne tyd wat ek in my lewe gesien het, as mens agternakyk in ou koerante. Dit laat my dink aan Stralerjakkers deur Leon van Nierop as middagvervolgverhaal - jy het platsak mense van Hillbrow, terwyl ander pasrykes in Avant Garde-kastele bly. Die staatsektor rafel uit.
Dis enorme mikroleners, die Suid-Asiatiese mark wat gevou het, koöperasies wat maatskappye word, Saambou wat gevou het... op my eie dorp sien ek Boland Bank wat BoE geword het, en toe baie later kom Nedbank op sy plek op Bredasdorp, al drie spesifiek op die plek waar die munisipaliteit oorkant die NG Kerk vandag staan. Moet erken, die bank-groen en kerk-kalkwit was 'n mooi kleurkontras in Van Riebeeckstraat.
As kind was ek eintlik baie lief vir Volkskas, dit was soos 'n kerk. Daardie jare was jou bank soos jou kerk. Maar met al daardie amalgamerings raak dinge net vreemd. Voortdurend word nuwe produkte geskep, die spiraalplan wat jy reeds het word duur, en jy word gedwing om te skuif na 'n ander rekening toe. Drie jaar later dieselfde.
Jy skuif - eintlik jou ouers skuif jou - dus na Boland Bank (en jy kry 'n pienk beursietjie), wat BoE word (wat jy verkeerdelik dink Bank of England beteken), die administrasie word duurder as die rente wat jy verdien, en jou ouers skuif jou maar weer terug na Absa toe. En jy wag ywerig op jou balansstaat in die pos: hoeveel het ek verdien waarvoor ek nie gewerk het nie?
In 2012 gaan my suster Capitec toe - ook maar pas afgestudeer, soek 'n lopende rekening, want waarin moet haar salaris betaal word? Al die ander banke vra astronomiese bedrae vir iemand wat tot onlangs toe net aan kontantbetalings gewoond was (soos om die fort by 'n winkel te hou). My ouers ken nie die bank nie. My suster is gelukkig 'n ISFP en volg haar eie kop. Ek is kort daarna self soontoe - en ek is glad nie spyt nie.
Vir my was Capitec nog altyd 'n lopende bankrekening, en die geld wat ek daarin gebêre het baie min, want die rentekoerse was maar min.
Oor daardie daalspekulante (kortverkopers klink na kabouters): Steinhoff was 'n vulletjie vergeleke met WireCard van Duitsland. Ek weet Capitec was in die visier, maar ek wonder tog of Viceroy nie hond se gedagtes gekry het oor Jannie Mouton sy bates voor die inploffing van Steinhoff onttrek het nie. Ek weet nie.
En daardie Augustus 2022-bediener wat omgeval het... ek was daar. Ek het Twitter soos 'n valk dopgehou, want ek wou 'n oordrag maak. En met Job se geduld geduldig gewag. Maar ons liewe mense is ook so onnosel - party dreig dat hul die bank vir altyd sal verlaat. Mens - jy kan mos 'n tweede lopende rekening hê? As dit eenmaal gebeur, gaan dit mos weer gebeur?
En ek is daarna ook Nedbank toe. Want ek het reeds 'n spaarrekening daar - want ek was toe al lankal nie meer by Absa nie - hoe moeilik sou dit wees? Wel, dit was 'n gesukkel, want ek wou dit persoonlik gaan doen, maar my ISTP-pa glo mos mens kan alles tjop-tjop sommer vanaf die internet doen. My instink het gesê ek moenie. Dis 'n ou bank. Gaan hoogs in persoon bank toe, en neem 'n getuie saam. Maar nee.
Die probleem is, die bank het twee stelsels gehad: by die een by die Teller bestaan die rekening wel, by die ander een nie. Dit is hulpsentrum bel. En ek is bang met elke ding wat ek nou aanvang maak ek dinge net erger - want dinge beweeg nie! O, die groot probleem wat ek weke later hoor - dis FICA wat ek moes hernieu het. Omdat ek nooit 'n lopende rekening gehad het nie, is ek nooit gevra om my FICA te hernieu nie. Maar so leer mens... die probleem is gelukkig uitsorteer.
Ek het nie die helfte van sulke moeilikheid met Capitec gehad nie. Nog nooit.
Ek voel net effe (eintlik baie!) ongemaklik met Capitec wat na Amazon se wolkverwerkingsdienste beweeg het. Ek begryp hoekom hulle dit gedoen het, want dit haal "die wet van die remmende voorsprong" heeltemal uit, dit maak sin. Maar wat doen Amazon met die data? Dis die eerste woord wat ek in die boek daarvan lees.
Ek sou nogal graag in die boek die tipiese "profiel" van die Capitec wou sien. Soos deursnitouderdom en so.
Wat ek op ons dorp beleef het: Capitec was eers langs Pep, presies soos die boek die strategie beskryf. Maar selfs in 2024 kon kontant nie by die kitsbanke gedeponeer word nie - jy moes maar die teller vra. In 2025 sit Capitec nie meer langs Pep nie, maar by die inkopiesentrum met Nedbank en Standard Bank. En die bank het héélwat meer kitsbanke, en het heelwat verruim. Die aanslag is steeds streng informeel. Ek word selfs "Boeta" genoem.
Maar ek dink ook - vir Gen Z wat gaan kom, sal 'n opvolgboek baie deeglik moet verduidelik wat in 1990's aangegaan het. En van 'n glossarium voorsien. Ek is van Gen Y ('n Millennial) so ek begryp 100% wat hier aangaan, al is die 1980's vir my ook soms duister, omdat ek nie die bankreëls en wetgewing van destyds verstaan het nie.