Jump to ratings and reviews
Rate this book

Klein wonderwerk

Rate this book
Petrus dra swaar aan die verlies van sy vrou en sy sig. Nou moet hy besluit wat van sy geliefde plaas, Pronkbos, gaan word. Sy enigste seun het van kleins af meer in rekenaars as in boer belang gestel en ná sy egskeiding oorsee gaan werk. Sy seun se eksvrou en sy enigste kleinkind het van die aardbol af verdwyn. Nou wil Petrus sy kleinseun opspoor sodat hy sy Pronkbos aan iemand kan nalaat voor dit te laat is.
In die ry by die munisipale kantoor ontmoet Petrus vir Anina, ’n jong ma en maatskaplike werker. Anina is as kind al deur haar oom seksueel misbruik en later deur haar neef na ’n bordeel in die hawe geneem. Haar geliefde ouma was te siek om te help en haar ouers wou haar nie glo nie. Toe sy gaan studeer, het sy gedink sy ontsnap. Nou is sy getroud met ’n man wat haar mishandel en bekommerd oor haar seuntjie.
Petrus vertrou nie jong vroue nie. Anina haat ou mans. Tog besluit hulle om mekaar te help. Maar hoe oorkom jy jare se seer en wantroue? En hoe vind jy ’n aangenome kind as die ma doelbewus haar spore doodgevee het? Kan twee generasies wat op verskillende maniere en plekke mishandel is, mekaar ooit daarvan oortuig dat vergifnis die enigste weg na vryheid uit hul wrokkigheid is?
Dis eers toe Petrus vir Anina en haar seuntjie na Pronkbos nooi en Petrus se seun ook daar opdaag, dat Petrus en Anina die vrede vind waarna hulle al so lank soek.

199 pages, Paperback

Published February 1, 2025

5 people are currently reading
9 people want to read

About the author

Hans du Plessis

30 books6 followers
Hans du Plessis is op 15 Januarie 1945 in Pretoria gebore. Hy matrikuleer aan die Afrikaanse Hoër Seunskool, Pretoria en behaal ’n B.A. aan die Universiteit van Pretoria. Terwyl hy onderwys gee, verwerf hy ook die U.O.D., Hons. B.A. en M.A, laasgenoemde twee met lof, aan UNISA. In 1975 verwerf hy ’n doktorsgraad in Afrikaanse Taalkunde ook aan UNISA. Daarna volg hy ’n postdoktorale kursus in die linguistiek aan die Universiteit van Harvard. Hy woon verder in 1991 skryfskole in Iowa en Oklahoma by. Hy het reeds 160 publikasies agter sy naam, maar debuteer in 1978 as skeppende skrywer met die digbundel Kleinwild. Sy akademiese publikasies sluit taalkundehandboeke en taal- en letterkunde-artikels in nasionale en internasionale tydskrifte in. Sy skeppende werk sluit ses digbundels, drie jeugromans en vier romans in. Verder publiseer hy ook vele gedigte, rubrieke en kortverhale. Ses dramas en musiekspele uit sy pen word by verskillende kunstefeeste opgevoer. Sy veertiende, Karos orie dyne, verskyn binnekort. Hy verwerf onder andere die C.R, Swart-prys vir tienertoneel, die ATKV-kinderboekprys, ’n erepenning van die SA Akademie en die CBSA-prys vir godsdienstige werk vir die digbundel, Innie skylte vannie Jirre, waarvan daar nou reeds meer as 65 000 eksemplare verkoop is. Hans du Plessis is getroud met Magdaleen Potgieter en hulle het vier getroude seuns en sewe kleinkinders.
Hans is 'n paar maande voor sy tagtigste verjaardag oorlede. KLEIN WONDERWERK was veronderstel om saam met sy verjaardagviering gepubliseer te word, maar moes toe postuum verskyn.

Ratings & Reviews

What do you think?
Rate this book

Friends & Following

Create a free account to discover what your friends think of this book!

Community Reviews

5 stars
8 (47%)
4 stars
3 (17%)
3 stars
4 (23%)
2 stars
2 (11%)
1 star
0 (0%)
Displaying 1 - 3 of 3 reviews
Profile Image for Amanda.
1,154 reviews
February 10, 2025
Ek het die (vir my) goeie gewoonte om dadelik, of so gou as prakties moontlik, ’n lesersindruk te skryf nadat ek ’n boek klaargemaak het. Sodoende is die nuanses en die feite vars in my geheue. Met die voltooiing van Hans du Plessis se laaste roman, Klein Wonderwerk, het hierdie voorneme bietjie in die stof gebyt. Só groot was die inpak, dat ek, nadat ek dit reeds Saterdagaand klaargemaak het, nou eers die moed bymekaarskraap om daaroor iets te sê.
Met die intrapslag is daar ’n aantyging teen strukture wat verval en amptenare wat laks omgaan met hulle take, en wel vanuit die oogpunte van ’n jong ma wat ’n kind probeer hanteer in ’n ry wat nie beweeg nie, en ’n bejaarde wat nie meer kan staan nie, maar te trots is om te gaan sit. Dit is dan juis hierdie ontmoeting waaruit die storielyn voorspruit, wat blyk uiteindelik baie groter as bloot ’n “klein wonderwerk” te wees. Heidi Quade word heel van pas aangehaal: “A coincidence is a small miracle when God chooses to remain anonymous.” (p.149)
Hans du Plessis hanteer die uitdagings van ouderdom met die deernis en respek wat mens kan verwag van ’n skrywer van sy formaat, een wat self al op gevorderde ouderdom was met die skryf van hierdie werk. Maar dit is veral die aspekte van mishandeling van kinders, mensehandel, prostitusie en derglike euwels, wat mens laat sidder. Ek was niks hiervan te wagte toe ek die boek optel nie.
Petrus en Anina se gesprekke het ’n duidelike doel: “Vertel is onthou en onthou help om te vergeet,” (p71).
Dit stem my hartseer dat die skrywer nie hierdie boek in sy hande kon hê alvorens hy vlak voor sy 80ste verjaarsdag oorlede is nie. Ek het hom in 2017 ontmoet by ’n skryfskool en het onder die indruk gekom van die respek wat hy gehad het vir die werk van skrywers in alle genres. Ek sal graag hierdie roman weer wil lees, want daar is baie om te absorbeer en te verteer. Dit gaan ’n ereplek kry in my versameling van prof Hans se boeke.
Profile Image for Anschen Conradie.
1,487 reviews84 followers
Read
May 5, 2025
#KleinWonderwerk – Hans du Plessis
#Lapa

Enigiets wat werk in die staatsdiens, word smalend as ʼn wonderwerk beskryf. Hierdie cliché is ‘n sydelingse tema in die roman, en dien as katalisator vir ‘n verslag van ‘n ongewone ontmoeting – met apologie aan Rona Rupert. ‘n Meer volledige uiteensetting is egter dat die verbreking van ‘n vaste natuurwet deur ‘n bonatuurlike krag as ‘n wonderwerk geag word, overgesetsynde is dit ‘n wonderbaarlike of onbegryplike gebeurtenis.

Petrus se wêreld, wat eens sy geliefde Martha, sy seun Johan, en die familieplaas, Pronkbos, ingesluit het, het verklein tot vereensaming in ‘n aftreeoord. Daar verloor hy sy ontslape wederhelfte daagliks opnuut, worstel met sy kwynende sig, mymer oor Pronkbos wat in die hande van ‘n huurder verkeer, en worstel om sy seun in anderland te onthou. Die naam van sy voormalige skoondogter het hom alreeds ontgaan, en sy enigste kleinseun is kwalik meer as ‘n ontwykende herinnering.

Die mishandeling en uitbuiting gedurende haar kinderjare staan weer lewensgroot voor Anina se deur wanneer die patroon homself in haar huwelik herhaal. ‘n Onbeplande ontmoeting tussen haar en Petrus gee aanleiding tot ‘n gemeenskaplike soektog na bevryding van die verlede, ten spyte van – of dalk juis omdat – die een die ander se verpersoonliking van hulle pynlike wrokke is.

Die insig en deernis waarmee seksuele uitbuiting van jong vrouens beskryf word, herinner sterk aan “Die opstand van Poppie Nel” (Lapa, 2020) met uitsprake soos: “Die gemeenskap is meer bekommerd oor wat met die slagoffer se lyf gebeur het as oor die verkragting van ‘n siel.” (84) Eweneens word die klein daaglikse afstanddoenings in die lewe van ‘n vereensaamde bejaarde met empatie beskryf: “Dit voel vir my asof ‘n ou man in ‘n ouetehuis doodgaan, terwyl hy in die aftreeoord met waardigheid te sterwe kom.” (26)

Die sensitiewe verhaal, die laaste uit die pen van die skrywer wat op 25 Oktober 2024 oorlede is, word ongelukkig ontsier deur herhalings, soos die uiteensetting van ‘n karakter se skolastiese geskiedenis (39 en 57), en onvanpaste taal. ‘n Jeugdige karakter verwys byvoorbeeld, in ‘n oorwegend formele teks, na ‘n “dude” (80) maar ‘n minagtende verwysing na ‘n vaderfiguur behou die skroomvallige “oukêrel” (99).

Teenstrydighede is ook opvallend. Petrus se sig is derhalwe verswak dat hy nie gelaatstrekke kan uitmaak nie: “Ek weet nie hoe jou gesig lyk nie...Ek sien iemand sit, maar die besonderhede kan ek nie sien nie.” (130) maar hy kan wel raaksien dat Anina se oog geswel is (76). Aanvanklik is daar geen twyfel dat Johan se troue nie weens ‘n swangerskap was nie en dat hulle baba eers twee jaar later gebore is (67 en 168) maar later word die drade lomp bymekaargetrek deur die bewering dat sy vrou wel swanger was ten tye van hulle troue (195).

Die roman word in drie stemme aangebied, die hoofstukke wat numeries genommer is, het ‘n verteller in die derde persoon narratief aan die woord, terwyl afwisselende hoofstukke, aangedui deur die karakter se naam, die eerste persoon narratief aanwend. Die gevolg is ‘n geheelbeeld wat die leser intieme betrokkenheid in beide die hede en verlede veroorloof, vele klein wonderwerke van alkante beskou.

#Uitdieperdsebek
Profile Image for Trisa Hugo.
Author 10 books34 followers
May 1, 2025
Hans du Plessis se laaste boek is ’n pynlike bekoring, tekenend van menswees.

Met Klein wonderwerk bied Hans du Plessis vir die leser ’n aangrypende verhaal van verlies, pyn, vergifnis en die brose hoop wat tussen mense ontstaan wanneer hulle mekaar op onwaarskynlike maniere ontmoet en ’n pad mee stap. In hierdie laaste roman wat voltooi is kort voor sy afsterwe in Oktober 2024, bewys Du Plessis waarom hy so ’n gerespekteerde plek in die Afrikaanse letterkunde beklee het.

Die verhaal het stadig aan die gang gekom en gesukkel om my dadelik te boei. Toe die agtergrond egter duidelik word, was dit Du Plessis se insig in die kompleksiteit van menswees, wat die verhaalgegewe voortgedryf het.

Kritiek is daar wel. Die klimaks en slot is té toevallig, amper gejaagd en té netjies afgerond vir die diepgang wat die voorafgaande gebeure kenmerk. Plekname is funksioneel en beskrywend, maar grens aan irriterend. Pronkbos, Hengelaarshoek en Huis Mooifontein. Stel dit teenoor Hawebaai, Valsekloof, Kloofbek.

In geheel is Klein wonderwerk ’n ode aan menslikheid, aan die onverwagte ontmoetings wat die gang van ons lewens beïnvloed. Dis ’n spieël waarin ons ons eie pyn, onvermoëns maar ook moontlikhede en hoop herken. Beslis ’n waardige afsluiting van die geliefde professor se oeuvre.

Displaying 1 - 3 of 3 reviews

Can't find what you're looking for?

Get help and learn more about the design.