Ek het hierdie een meer geniet as die skrywer se eerste boek, Slagyster. Die storie beweeg redelik vinnig en met net oor die 300 bladsye word dit nooit 'n uitgerekte worsteling nie.
Daar is tog 'n paar dinge wat pla. Die plot is nie baie oorspronklik nie: 'n persoon wat deelnemers aan 'n onreg uit die verlede doodmaak is al redelik algemeen gebruik (dink aan Feniks van Deon Meyer, The White Road van John Connolly, ens.). Die ontknoping laat hopeloos te veel aan die toeval oor, tot die punt waar dit half onwaarskynlik voorkom. Die Wim Jonker karakter word ook bietjie "over-the-top" aangebied, en tree vir my meer soos 'n kinderagtige dwaas as 'n ervare speurder op. Die skrywer maak ook veral aan die begin van die boek te veel van 'n punt daarvan om die leser pertinent te vertel dat Kassie op 'n onortodokse manier handel. Die "show us, don't tell us" beginsel geld hier.
Laastens, en ek besef hierdie is 'n klein persoonlike jeuk wat ek moet krap, maar vir my bederf dit die realisme van 'n toneel: die impak van koeëls ruk nie mense agteroor soos wat 'n paar keer in die boek beskryf word nie. Dit gebeur net in Hollywood flieks, suiwer vir visuele effek.
Maar hierdie is als kleinighede op die ou end in wat meerendeels 'n lekker speurverhaal is wat maklik lees. Die kunsvervalsing was ook vir my baie interessant en is iets waaroor ek verder gaan oplees. Ek sal definitief nog van die skrywer se boeke lees.