Is jy orraait, Elizabeth? is ’n verhaal oor drie vroue wat dekades lank bevriend is en elkeen met hulle eie persoonlike probleme en gesinskwessies worstel. Dit is ’n roman wat diep menslike ervarings en die kompleksiteit van interpersoonlike verhoudings ondersoek. Want niemand ken jou diepste seer en jou moordende baklei teen die houe van die lewe so goed soos ’n naby vriendin nie. Sy koester jou en beskerm jou, selfs teen jouself.
#IsJyOrraaitElizabeth – Rozaan de Wet Boer #Tafelberg
Dis ‘n bekende cliché dat ʼn olifant happie vir happie geëet moet word. Die waarheid daarvan kan egter nie ontken word nie, sommige uitdagings is bloot te groot om as ‘n enkele struikelblok aangedurf te kan word.
Elizabeth is kort na die geboorte van haar seun, Philip, met die spreekwoordelike olifant gekonfronteer. Anders as haar eersgeborene, ‘n perfekte klein dogtertjie, behoort Philip aan die klein groepie wat paradoksaal as “hemelkinders” bekendstaan. Maar Down se sindroom is geen geringe saak nie, Philip word deur die wêreld as gestremd geag en Elizabeth en haar man, Derik, word deurlopend uitgedaag deur die beperkinge waaraan hulle geliefde kind onderworpe is; sy tong en verhemelte bemoeilik duidelike spraak, hy word gekortwiek deur obsessiewe kompulsies, het ‘n verswakte immuunstelsel in kombinasie met ‘n stadige reaksie op antibiotika, bars in onbeheerste lagbuie uit en word in terme van sy voorkoms beoordeel: “Sy gesellige lyf met die snaakse stappie aan hom en daarmee saam die kenmerke van Down se sindroom, soos die Oosterse trek om sy oë, klein oortjies wat laag langs sy kop sit en sy fris, kort nek.” (69)
Sy is deel van ‘n vriendekring wat mekaar se belange op die hart dra. Die voorkomsbewuste Mirna bestaan in ‘n wêreld van plastiese chirurgie, sonbeddens, en eksotiese vakansies, waar haar man, Rico, tweede, of selfs derde, viool speel naas haar honde en haar seuns: “Miskien is sy soos ‘n pop wat probeer lewe.” (75) Ada verskil lynreg van Mirna. Sy is ook buite haar loopbaan as dinamiese onderwyseres ‘n organiseerder van formaat wat nie huiwer om links en regs opdragte uit te deel nie. Grys haarwortels en die dra van sokkies by plakkies skeel haar min. Haar dogter is egter die een aspek van haar noukeurig beplande lewe wat, gebuk onder die las van ‘n eetversteuring, weier om in haar baan te bly. En, in die agtergrond, is daar ook Linelle, die aartsflankeerder.
Die roman se fokus is primêr op verhoudings en vriendskappe, maar daar is geen twyfel oor die feit dat Philip die spil is waar om die verhaal draai nie. Elizabeth is grotendeels die ruggraat van die vriendskapskring, maar sy word gedefinieer deur haar seun. Sy is allermins die fiktiewe perfekte moederfiguur, en derhalwe ook nie die perfekte vriendin nie, en bely dat sy dikwels tussen irritasie en skuldgevoelens vasgevang word.
Die roman speel af oor ‘n tydperk van vyftien jaar. Dis derhalwe ‘n onbegonne taak om elke gebeurtenis in detail uit te spel, en daarom is die roman episodies van aard. Elke hoofstuk is soos ‘n kameraflits wat ‘n donker kamer vir ‘n oomblik verlig en slegs daardie moment word aan die leser oorgedra. Elke moment, in die gedaante van ‘n hoofstuk, vorm beide ‘n volledige verhaal en ‘n bousteen van die geheelbeeld. Hierdie stene volg deurentyd chronologies, met die uitsondering van enkele terugblikke in tyd, en verseker sodoende kontinuïteit.
Die geheelindruk is een van weerloosheid, van versteekte vrese, van selftwyfel en skuldgevoelens, maar ook van kameraadskap, humor, deernis en die inherente krag van vroue wat mekaar se arms omhoog hou.
Is jy orraait, Elizabeth?, die titel van die nuwe roman deur Rozaan de Wet Boer, kon netsowel lui, Is jy orraait, Mirna? of selfs, Ada? Die verhaal ondersoek die langstaande vriendskap tussen hierdie uiteenlopende vroue, die uitdagings waarmee hulle te make het en die wyse waarop hulle mekaar ondersteun en aanvul, ook deur krisisse bystaan. Die skrywer verweef heelparty gewigtige sake in die storielyn, onder andere dwelmverslawing, angsaanvalle, kompulsiewe koopgewoontes, eetversteuring en huweliksontrou. Primêr in Elizabeth se storie, is die lewe saam met ’n kind met Downsindroom. Die moeilike aspekte, soos die aanvanklike aanvaarding, maar ook die mooi van die pad wat hulle stap, word in detail uitgebeeld. “Hy laat jou anders sien, beter sien, dieper kyk. Soos dat die lewe sonder ’n gejaag en met geduld geleef moet word.” (p.63) Omdat die verhaal uit afwisselende perspektiewe aangebied word, moet die leser nogal met aandag lees, hoewel die verteltrant gemaklik is. Dit kon byna twee afsonderlike boeke regverdig, want veral Elizabeth en Mirna is sterk karakters met komplekse stories. Rozaan de Wet Boer het verskeie kortverhale gepubliseer voordat haar debuutroman, Uit die hart van ’n vrou, in 2019 verskyn. Is jy orraait, Elizabeth? Is uitgegee deur Tafelberg, ’n druknaam van NB Uitgewers.
Daar is genoeg stof tot nadenke in 'Is jy orraait , Elizabeth?' Drie vriendinne elk met 'n eggenoot met uiteenlopende karaktertrekke. Die gebeurtenisse gee insig in elke persoon se gevoelens en ervarings. Die drie vriendinne hanteer elke omstandigheid met eie idees hoe om als te hanteer. Daar loop ook 'n sterk christelike draad deur die hele boek. Werklik die moeite werd om te lees. Rozaan het beslis goed navorsing gedoen en sekerlik ook uit haar eie ondervindings geput om so 'n uistekende boek die lig te laat sien.