Bekende sakeman Peet Hoffman word laatnag in sy studeerkamer dood-geskiet. ’n Paar dae later word ’n egpaar in hul naweekhuis in die bos vermoor. Die vroulike slagoffer is op ’n veel gruweliker wyse om die lewe gebring, maar die modus operandi van al drie moorde toon duidelike ooreenkomste. Waarom het Terese Ebersohn se moordenaar haar met soveel passie gehaat? En hoe hou die drie moorde verband met die ontvoering van ’n bejaarde man kort daarna? Voor hy hom kom kry, bevind majoor Alek Strauss hom in die middel van ’n klein oorlog waarin die raaisels van die hede slegs deur die verlede opgelos kan word.
Hierdie spanningsvolle boek is reeds die vyfde uit die pen van díe talentvolle skrywer. In Nagdier word majoor Alek Strauss en sy span blootgestel aan nóg afgryslikhede wat 'n mens jou skaars kan indink. Jy kan wel hierdie boek op sy eie lees, want daar word kortliks verwys na gebeure en karakters in die vorige boeke, maar vir die volle impak van Alek Strauss se verhaal, beveel ek aan dat jy van voor af begin met die reeks. Die FSO span krap kop oor die moord van bekende sakeman, Peet Hoffman. Kort daarna word nog 'n egpaar wreedaardig vermoor in hul naweekhuis in die bos. Alhoewel daar ooreenkomste is tussen die drie moorde, kry die span net nie die kloutjie by die oortjie nie. Daar is doringkrone op sommig tonele gevind en die simboliek van kraaie (wat ook in die vorige boeke 'n rol gespeel het) word ook weer hier gevind. Majoor Strauss se span volg elke moontlike leidraad op, maar die nodige skakels bly hulle ontwyk... Tot die verlede hulle skielik weer in die gesig staar in die vorm van 'n slagoffer wat hulle uit die kloue van die gewetenlose Ehmke gered het. Mense verdwyn, Alek begin twyfel of Ilse wél alles uit haar verlede met hom gedeel het, en die kring van Ehmke se gruweldade maak steeds rippels. Hierdie is weereens 'n blitsblaaier van formaat waarvoor ek gretig 'n paar ure se slaap verloor het. Ek kan nie wag vir die volgende boek in die reeks nie!
Burokratiese rompslomp, korrupsie en onbevoegdheid kniehalter diegene wat nog oor die wil en energie beskik om kriminele dade en elemente te beveg. Die skepping van denkbeeldige ondersoekeenhede in misdaadfiksie is nie slegs ‘n suksesvolle wyse om langdradigheid te vermy nie, maar skenk ook aan die leser die hoopvolle potensiaal dat die goeie wel – al is dit net op papier – die bose kan oorwin.
Majoor Alek Strauss, verbonde aan die fiktiewe FSO, figureer in elk van Lotz se romans. Hy is aan lesers bekendgestel in Roofdier (2021) en het in drie romans daarna ontwikkel tot ‘n volwaardige en oortuigende karakter, beide in sy professionele en privaat hoedanighede. As getroude man en toegewyde pa van ‘n jong dogtertjie, staan hy tydens die openingstoneel in die proloog van hierdie roman langs ‘n oop graf. Die identiteit van die oorledene word reeds in die eerste sin aan die leser verklap, en die tydslyn word dan drie weke teruggerol.
‘n Sakeman word in sy studeerkamer doodgeskiet. Sy vrou, wat ook tuis was, is ongedeerd. ‘n Egpaar word in ‘n naweekhuis in die bos vermoor, die vrou aansienlik meer grusaam as haar man, en ‘n bejaarde man word ontvoer. Op die oog af is die misdade onverwant, maar die leser word in die universele verteller se vertroue geneem en besef gou dat daar ‘n besliste verband tussen die voorvalle is. En die krummelspoor van leidrade loop terug na die verlede.
Die drie romans wat chronologies tussen Roofdier en Nagdier geplaas is, kan wel alleenstaande gelees en waardeer word, alhoewel dit aanbeveel word om die volledige reeks in publikasievolgorde te lees ten einde die karakterontwikkeling optimaal te volg. Nagdier voorveronderstel egter kennis van Roofdier, en derhalwe word die vooraf lees daarvan sterk aanbeveel.
Benewens die sterk spanningslyne en raaisels waarvoor Lotz reeds bekendheid verwerf het, en wat sy oudergewoonte skep en behou deur middel van spronge in beide tyd en perspektief, word die verhouding tussen Alek en sy vrou, Ilse, in die nuutste roman opnuut onder die vergrootglas geplaas: “Vir die eerste keer in twee jaar voel dit nie vir hom of hy regtig vir Ilse saakmaak nie.” (128) Die konflik en toenemende wantroue in hulle verhouding vorm ‘n integrale deel van die roman en is direk relevant by die ontrafeling van die leidrade.
Die uitkring van boosheid en die teruggroei van die stert daarvan as die kop nie afgekap word nie, tree na die voorgrond en word in spanningsformaat ontgin en gestroop, maar laat nietemin die leser met genoegsame vrae om ‘n sesde boek te regverdig.
Wanneer sakeman Peet Hoffman laatnag doodgeskiet word, lyk dit aanvanklik soos ’n enkele misdaad. Tot nog ’n moord volg. En nóg een. Elke slag wreder, elke leidraad net vaer as die vorige. Majoor Alek Strauss en sy span word in ’n doolhof van raaisels ingetrek. Die druk om die saak op te los bou op — nog mense sterf, en elke slagoffer word gevind met ’n doringkroon op die kop. ’n Gruwelfiguur of boodskap? Niemand weet nie.
Om die verbinding tussen die moorde te vind, en die ware motiewe agter die geweld te verstaan, word ’n moeilike en gevaarlike spel vir Alek en sy span. Hoekom lyk dit al hoe meer asof dit ‘n groep is wat saam moor? Gaan hulle gestuit word voor nog mense gruwelik vermoor word?
My lesersindruk: Toe ek die eerste hoofstuk lees en besef dit begin met ’n begrafnis van een van my gunsteling karakters, én daardie onverduidelikde spanning tussen Alek en sy vrou, het ek geweet hierdie boek gaan erg aan die hartsnare trek. Die eerste Alek-Strauss-boek se nagevolge haal nou in en die spoke van die verlede veroorsaak nuwe trauma wat niemand verwag het nie. Ek hoop daar is nog ‘n volgende Alek Strauss boek! Baie spannend soos altyd
Blitsblaaier op steroïde! Marie stel weereens nie teleur nie. Ek het hom binne 2 dae klaar gelees. ‘n Waardige opvolger vir Roofdier.
Alek Strauss en sy span by die FSO ondersoek ‘n moord waar die slagoffer agter gelaat word met n doringkroon op sy hoof. Dit neem hulle op ‘n “jagtog” na die moordenaar. Na ‘n tydjie verskyn daar nog ‘n slagoffer - maar daar is verskille in die moorde. Soos goeie jaghonde betaam begin die raaisel ontrafel. Die boek is ook deurtrek van simboliek en kraaie wat ook in Roofdier voorgekom het.
Die uiteinde … elke hond kry sy dag, en ‘n brak kry twee.
Marie se uitstekende manier om tonele te beskryf dat dit afspeel soos ‘n film in jou kop skitter weer in hulle aanwesigheid! Diè feit dat dit in my geliefde Suid-Afrika in Pretoria afspeel dra natuurlik by tot my voorliefde vir haar krimi’s.