#DieReünie – Erla-Mari Diedericks
#Romanza
My leesstapel sal my waarskynlik oorleef, en die verskeidenheid is uiteenlopend genoeg om ‘n verkleurmannetjie nagmerries te gee. Erla-Mari Diedericks se Stoom-Romanzas kan ek nie weerstaan nie, hulle mag klein wees, maar het stewige plekke op my stapels.
Hoekom?
Eerstens: Sy weet hoe om erotiese tonele te skryf. Kinematografies, sonder om banaal of stereotiep te wees. Tweedens: Sy skryf oortuigend. Haar romantiese hoofkarakters is nie bakvissies nie, hulle is volwassenes wat al ‘n bietjie gelewe het. Nie perfek nie, nie skatryk nie, bloot gewone mense, met vrese, foute en begeertes. En derdens: Sy laat my lag. Die humor is dikwels subtiel, donker en satiries, en balanseer die erotika op ‘n vermaaklike wyse.
Andrea is op pad na ‘n skoolreünie. Sonder ‘n metgesel, maar met wraakplanne teenoor Stiaan wat haar jare gelede soos ‘n warm patat gelos en uit haar lewe verdwyn het. Haar vrees vir vlieg – met ‘n knipoog na Erica Jong se Fear of Flying – lei tot ‘n ontmoeting met Konrad. En die res is geskiedenis.
Konrad is in voorkoms die tradisionele ridder, maar verfrissend anders as die hoofstroomhelde nie verbitterd teenoor vroue of gewond in die liefde of gebuk onder een of ander tragedie in sy verlede nie. Hy is beide kinderlik-opreg en intelligent-spitsvondig; spring met groot vreugde op ‘n bed, maar kyk met sensitiwiteit na vroulike sentiment.
En hy kan soen: “Ander mans dink weer hul tong is ‘n ruitveër. Heen en weer en heen en weer.” (64) Nie hy nie. Die stoom is ook nie tot die jacuzzi beperk nie. Publieke plekke is ‘n uitdaging, eerder as ‘n spreekwoordelike Area 51:
“Ons kan nie hier nie!”
“Niemand sal weet nie.” (97)
Ek wou Andrea ‘n paar keer wakkerklap en het later besluit sy moet dan maar voortploeter, ek sal self vir Konrad vat as sy nie wil nie. Maar dis ‘n Romanza. Hulle vind mekaar. Stomend. Vermaaklik. Oortuigend.
#Uitdieperdsebek