Vir die gebruikers van die webwerf Fermata.com is selfmoordvideo’s iets om gedeel en gevier te word – die mees egte ervaring wat hulle kan beleef, en ook wat hulle kan skep. Daniël Roberts, eienaar en bestuurder van dié besonder gewilde webwerf, verkoop dit ook so aan sy gebruikers, maar wanneer hy vir die eerste maal in die openbaar oor Fermata.com praat op ’n televisiekletsprogram, gee dit aanleiding tot ’n reeks verstommende gebeure wat nie net sy lewe nie maar ook dié van Megan Oosthuyzen (belowende joernalis en jong ma), Chris Grobler (geskeide polisiebeampte wie se oorlede dogter ’n Fermata-bydraer was) en Simon Potgieter (student aan Oxford wat met ontgogeling op talle vlakke worstel) onherroeplik verander . . . en in minstens een geval beëindig. ’n Donker, meesleurende tragikomedie. Dit is Henry Jack Cloete – skrywer, joernalis en musikant – se eerste roman.
#Draalnootvirnjanfiskaal - Henry Jack Cloete #Queillerie WAARSKUWING: LESERS SENSITIEF VIR DIE ONDERWERP VAN SELFDOOD, MOENIE VERDER LEES NIE.
Daniël Roberts is die skepper van Fermata.com, ‘n webwerf waarop selfmoordvideo’s (die skrywer het gekies om hierdie term eerder as die hedendaagse selfdood te gebruik en ek volg dus dieselfde roete vir doeleindes van hierdie indruk) gelaai, gedeel en gevier word. Sy vrou, Gina, verdra dit, maar dit dra nie haar goedkeuring weg nie. Aanvanklik is sy identiteit onbekend, maar dan openbaar hy homself op ‘n kletsprogram en chaos bars los.
Megan Oosthuizen, ‘n ambisieuse jong joernalis, is onmiddellik op sy spoor. Sy glo dit kan haar gròòt storie word. Chris Grobler, ‘n polisiebeampte, se dogter se selfmoord is op Fermata.com gedeel en hy blameer Daniël en wil wraak neem. Simon Potgieter, ‘n Suid-Afrikaanse student aan Oxford, vlieg terug huis toe toe die dood van ‘n geliefde ook ‘n skakel met Daniël se webwerf blyk te hê.
Die eerste derde van die boek is regtig interessant; alhoewel dit geensins voorgee om selfmoord te kan verduidelik nie en dit ook op geen manier aanmoedig nie (soos bevestig in die nawoord) is daar verskeie interessante gesprekke oor en standpunte ten opsigte van selfmoord.
Die wiele het egter vir my begin afval met die verskyning van die gewapende vleuel van die ACVV; daarvandaan het dit al meer vreemd begin word. Dit mag dalk as surrealisties beskryf word, maar party situasies (die klomp lyke in Daniël se tuin) het vir my meer aan die absurde gegrens.
Miskien is ek net te dom om dit te snap, maar ek kon (nes Trisa) glad nie die Lea-karakter plaas nie en die einde was vir my regtig onbevredigend.
Daar is soms op Facebook groepe so ‘n speletjie waar iemand ‘n sin of twee skryf om ‘n storie te begin en ander deelnemers doen dan opeenvolgend dieselfde. Die gevolg is gewoonlik effens bizar - dis hoe die laaste 2 derdes van die boek my laat voel het.
Die begin was vit my ‘n belowende 4 sterre, maar dit eindig op ‘n flouerige 3. En dis jammer; dit het baie meer potensiaal gehad, maar het ongelukkig ontspoor en die vlaktes ingestorm sonder om weer die spoor te vind.
Vir die eerste helfte van die boek sou ek 4 sterre gee, maar daarna 2, wat dit dan 'n louerige 3 maak.
Wat het die skrywer regtig probeer doen met Simon? Wat is die storie met die oog? En Lea se karakter het met meer vrae as antwoorde geëindig.
Wat krediet verdien is die vars taalgebruik, die konsep van fermata dot com. Daar was lekker draai, baie ironie, maar vir my te veel blote onverstaanbare situasies.