Julia is die kamerprokureur in Izak Marais se regspraktyk op Worcester. Wanneer hy die oggend voor ’n groot hofsaak ineenstort, moet Julia dringend sake beredder – ten spyte van die feit dat sy gesweer het sy sit haar voete nooit weer in ’n landdroshof nie. Om dinge nog meer te kompliseer is Julia heimlik daarvan oortuig dat die aangeklaagde skuldig is aan moord. Dié pakkende hofdrama speel af in die Boland – die eerste in die nuwe reeks met die regsgeleerde Julia Blomerus in die hoofrol.
As jy nog altyd gewonder het hoe ’n hofsitting verloop sonder om die geleentheid te kry om een by te woon, kan Die ooggetuie, ’n debuutwerk deur Wilna Roux, dalk jou vrae beantwoord. Hierdie hofdrama gaan jou nie vermoei nie, want buiten die hofprosedures en regsaspekte wat heel geloofwaardig aangebied word, is daar ’n skeut romanse, konflik, ou liefde, vorige trauma, lojaliteit, dankbaarheid, siekte en boeiende speurelemente wat van hierdie verhaal ’n komplekse aanbieding maak. Julia Blomerus keer terug na haar geboortedorp en werk as kamerprokureur in die praktyk van haar geliefde oom Sakkie. Die voorwaarde was dat sy nie hofwerk doen nie. Die rede vir haar fobie oor hofprosedures bied die skrywer geleidelik en slim aan met soomlose terugflitse. Wanneer oom Sakkie ineenstort voordat die moordverhoor van Lizanne Malan moet begin, word Julia verplig om die saak oor te neem. Dit word ’n interessante soeke na antwoorde, na leidrade, en na ’n onwillige ooggetuie wat homself telkens uit die voete maak. Die hofsaak verloop anders as wat Julia beplan het en daar is ’n verrassende wending of twee. Ek gaan myself nie skuldig maak daaraan dat ek dit verklap nie. Die boek het my tot ná middernag besig gehou. Ek kan dit aanbeveel vir elkeen wat hou van ’n goeie storie, sonder kru taal en onnodige geweld, maar volop intrige. Die skrywer is ’n self prokureur van Worcester, en haar kennis van die onderwerp en milieu is dus voor die hand liggend. Dit is goeie nuus dat hierdie die beoogde eerste is in ’n reeks. Die ooggetuie is uitgegee deur Human & Rousseau, ’n druknaam van NB Uitgewers.