Welkom in die Skool vir Talente. Hier kan almal fantastiese dinge doen. Hulle kan van vorm verander, met diere kommunikeer, water beheer . . . en nog baie meer!
Alva sien uit na hulle nuwe skoolprojek: Hulle gaan fossiele soek onder op die eiland se strand. Maar dan ontdek hulle reusagtige voetspore in die sand. Beteken dit daar is 'n monster op die eiland?
Alva het ‘n interessante vermoë – sommige mag dit as ‘n talent klassifiseer, maar vir haar is dit ‘n las – sy kan diere hoor en verstaan. En as jy, liewe leser, ook dink dit sal handig wees, neem die volgende in ag: as ander mense daarvan weet, sal hulle dink jy het ‘n hele gereedskapkis los, nie net ‘n skroef nie; die diere kan jou nie verstaan nie, so dis eenrigtinggeraas, en dit word nogal lastig as jy wil hoor wat iemand (‘n mens) sê, maar ‘n skaaptrop wat kerm oor wolkleure, raas te hard.
Gelukkig het haar oom onverwags tot haar redding verskyn in die eerste titel in hierdie reeks, toe hy verklap het dat hy gedagtes kan lees en die hoof is van ‘n skool vir kinders soos Alva, kinders met uitsonderlike talente, soos om water te kan beheer, met ‘n fiets in die wolke te kan ry, van vorm te kan verander, of om ‘n menslike magneet te wees. Begerig om haar lastige vermoë minstens te leer beheer, het Alva ingestem om die skool, geleë op ‘n geheimsinnige, newelagtige eiland, by te woon.
In die derde aflewering, oftewel die derde periode, vind Alva en haar vriende nie net massiewe monsterspore op die strand nie, die eienaar daarvan se nagtelike teenwoordigheid word ook verklap deur stukkende dakke, ‘n verwoeste fontein, en ontwortelde bome. ‘n Medeskolier word verantwoordelik gehou vir die skade, en loop gevaar om geskors te word as hulle nie betyds die indringer kan opspoor en ontmasker nie. En daarvoor is spanwerk nodig.
Die reeks is oorspronklik in Duits gepubliseer, die Afrikaanse vertaling is deur Kobus Geldenhuys en die illustrasies is deur Simona M. Ceccarelli. Die hoeveelheid internasionale kinderlektuur wat toenemend in Afrikaans vertaal word, is ‘n verblydende tendens; dit vergroot die bron vir Afrikaanse lesers en maak die klassieke skatkiste toeganklik. Alva se avonture is gepas vir lesers van 9-12 jaar.
Die leerlinge van die Skool vir Talente, met hulle fantastiese gawes, is terug vir nog ’n aflewering in die reeks deur Silke Schellhammer. In hierdie derde periode, verskyn daar weereens ’n geheimsinnige boodskap op die kennisgewingbord, een wat voorspel dat ’n booswig wat wegkruip, onheilspellende dinge gaan doen. Daar is inderdaad verwoesting, en die enigste leidraad is vreemde voetspore in die sand. Ongelukkig wil dit voorkom asof Erik, wat kan transformeer in ’n vlieënde draak, die skuldige is, maar Alva is vasbeslote om te keer dat hy geskors word, en om uit te vind wat of wie veroorsaak die skade by die skool. Soos in die vorige aflewerings, is daar volop aksie met die kinders se buitengewone gawes. Veral wanneer hulle soms moeite het om hulle kragte te beheer en dinge hand uitruk. Kobus Geldenhuys het weereens gesorg vir die teks in lekkerlees Afrikaans en Simona M. Ceccarelli se verbeeldingryke illustrasies bly bekoor. Skool vir Talente Derde Periode: Monsterspore! is ’n geïllustreerde fiksie uitgegee deur Human & Rousseau, ’n druknaam van NB Uitgewers. Die boek is geoormerk vir selfstandige lesers van 9-12 jaar.