Sedert die verskyning in 1982 van haar bekroonde debuut, Halfkrone vir die Nagmaal, het E. Kotze haar gevestig as fyn en intieme waarnemer van mens en natuur, veral van die onherbergsame Weskus. Die lot van vroue en kinders in die ruwe Sandveld, die swaarkry van ’n vissermanslewe, die wel en wee van gewone, eenvoudige mense, word subtiel en treffend geteken. En altyd ook met die oog op die mooie, die humoristiese. Diepsee bevat ’n keur uit E. Kotze se kortverhaalbundels Halfkrone vir die Nagmaal, Silt van die aarde, Halwe hemel, Waterwyfie en ander woestynverhale en Die wind staan oos. Kotze is ook die skrywer van Die slag van die breekbrander en die gewilde romans Toring se baai en Hoogty.
Die sukses van E. Kotze se Hulle noem haar Carminda, het my geïnspireer om Diepsee, wat al lank ongelees in my versameling is, op te neem. Dit is ’n versameling van kortverhale uit voorheen gepubliseerde bundels. Met ’n treffende skryfstyl, lewenservaring en intieme kennis van die Weskus en sy mense, sorg die skrywer vir verhale wat diep ontroer. Sy vertel van die mense, die armoede, die see, die kreeffabriek, ontbering en siekte, alles in ’n taal met woorde waarmee ek soms nie bekend is nie, maar tog kan verstaan binne die duidelike konteks. Ek kon saam met die karakters, wat lewe kry tussen die bladsye, swaarkry, huil, lag, hulle dooies begrawe en gespaarde lewens vier. Baie moeilik om ’n gunsteling uit te sonder, want die stories is uiteenlopend, die gemene delers ten spyt. Hierdie bundel, in 2014 uitgegee deur Tafelberg, is waarskynlik uit druk, maar oorweeg dit sterk om dit op te raap as jy dit iewers op ’n rak sien.
In die voorwoord tot hierdie bloemlesing vertel die samesteller, Suzette Kotzé-Myburgh, van haar leeservaring van E Kotze se stories. Sy haal ook aan wat André P. Brink oor Kotze se bekroonde debuutbundel Halfkrone vir die Nagmaal: “Liewe Here, maar dis ’n mooi boek!”
Ek het nie ’n lang leesgeskiedenis van hierdie skrywer se werk nie, maar met die lees van Diepsee kan ek maar net Brink se woorde beaam.
Wat haar werk vir my besonders maak, is die vreemde wêreld wat sy teken: ’n wêreld waar mense swaarkry, fisiese arbeid moet verrig, en maar sien en kom klaar. Dit maak alles ingewikkeld: basiese lewensomstandighede (selfs wasgoed doen is ’n reis), menseverhoudings, die hantering van siekte is alles soveel meer problematies as in ons gerieflike stadsbestaan. Daarby is haar taalgebruik en woordeskat skerp ingestel in die omgewing: hierdie leser ken nie al haar terme nie, maar uit die konteks is dit tog duidelik. So bestendig sy ’n aspek van die woordeskat en verryk sy haar lesers. Haar insig in mense sorg dat haar karakters lewensgroot uit die bladsye tree en die leser fassineer. Jy ontwikkel groot bewondering vir mense wat hul omstandighede oorstyg en met waardigheid probleme oplos.
Haar verhale tel dus onder die kroonjuwele van Afrikaans weens die boeiende mense en omstandighede, en die gespierde, presiese taalgebruik.
E Kotze takes her reader to a place (mostly South Africa’s West Coast) and a period (early twentieth century, in most cases) that forced people into situations where hard physical labour was a requirement and comfortable accommodation and daily living were hard work. Her muscular, precise prose, capturing specific terminology and descriptions that fit in the period and the circumstances, entices the reader to appreciate the characters’ victories and attempts at better lives.