’n Jong man begin werk by ’n apteek in Bloemfontein maar is gou ontnugter deur sy lot. Is werk, eet en slaap al wat die volgende vyftig jaar vir hom voorlê? Wanneer hy afkom op die mistikus Thomas à Kempis se geskrifte, begin hy droom oor ’n asketiese lewe – weg van geldmaak en ambisie. Op die vooraand van sy reis na ’n Franse klooster, ontdek hy hy het ’n oom wat ’n Katolieke priester geword het, en nou woon in Parys. ’n Aangrypende roman oor ’n pelgrimstog na aanvaarding van die self.
Johannes de Villiers is ’n skrywer en meditasie-instrukteur. Hy bedryf ’n jogaskool in Bloemfontein. Hy lei landwyd slypskole en naweekkursusse oor meditasie en mindfulness. Johannes was jare lank joernalis by Huisgenoot, Rapport en Die Burger, en ook voorheen dosent in joernalistiek aan die Universiteit van Stellenbosch.
#OpPadNaNKloosterInDieSneeu – Johannes de Villiers #HumanEnRousseau
Die woorde van Eitemal is in die Wandellied verewig: “As ek moeg word vir die lewe in die stad / lok my die wandelpad…” Koos du Plessis het dieselfde versugting verwoord: “Iewers in die bosse is ‘n poort na ‘n vergete land....” Die tema verskyn in vele variërende gedaantes en versinnebeeld telkens die mens se soektog na rede en vrede, wat altyd elders skyn te wees. Repos Ailleurs, inderdaad.
In 2003 bevind ‘n vier en twintigjarige homself in ‘n soortgelyke eksistensiële krisis. Ontnugter deur die oënskynlike sinneloosheid van sy bestaan, vertrek hy na Parys met die oog op ‘n gesprek met sy vervreemde grootoom, Adelbert, op daardie stadium ‘n afgetrede priester. ‘n Verhaal vanuit sy skooljare het ‘n metafoor vir sy persoonlike begeerte geword, om so ver as moontlik “...van die wêreld van mense en hulle skeppings weg te kom sonder om die band onherstelbaar te verbreek.” (8)
Op sy beurt vertel Adelbert aan sy jong neef die verhaal van sy eie reis na ‘n klooster in die sneeu: “Die gebeure waarvan ek jou wil vertel, het hul in een naweek in 1964 afgespeel...” (99) Die jeugdige protagonis neem weer beheer van die narratief wanneer hy in die toekoms (2003-2016) die vertelling hervat: “My monastiese aspirasies... was bra oppervlakkig. Ek wou eintlik net wegkom van ‘n lewe van voortslepende verveling, verantwoordelikheid en nimmereindigende menslike wrywing...” (126) Hy ervaar die lewe sonder Adelbert as een waar die “...fyn draad wat my met die wêreld van mistiek en kloosterspiritualiteit verbind het...” (143) weg is, en in 2023-2024 beskryf hy homself as “...vier en veertig jaar oud en voortydig middeljarig.” (147) En steeds soekend.
Deur middel van terugflitse in briewe en telefoongesprekke word die leser in die binnewêreld van verskeie karakters toegelaat en perspektiefwisseling skep ‘n geheelbeeld van situasies wat andersins eensydig sou wees. Die teenstelling met die protagonis se waarneming van Adelbert se bykans oordrewe formaliteit en die geopenbaarde eenvoud van sy geloofspad, aksentueer die aanvaarding van die onverklaarbare: “Ons verstaan geloof as die daad om jou in nederigheid voor iets groters neer te lê, jou onbegrip te bely en gedurig te vertrou dat oortuiging en begrip jou gegun sal word wanneer die tyd weldra reg is daarvoor.” (231)
Die wyshede van die Prediker, dat daar niks nuuts onder die son is nie en dat alles wat is, reeds was en weer sal wees, word gekombineer met die pelgrimstog van Coelho se Santiago, om ‘n toeganklike teks wat die universele soeke na sin en die self krities ondersoek, aan die denkende leser te bied.
Op pad na n klooster in die sneeu develops as an introspective exploration that attunes a routine pharmacist from Bloemfontein with the pursuit for stillness and purpose high in the French Alps. De Villiers creates an understated discord between the rural plains and the jagged, snow-capped mountains, provoking both a physical and inner landscape of reflection. The unity welded between the protagonist and his priest-uncle serves as an intellectual anchor—an elucidation of how conviction and kinship empower one another's journey of self-understanding. De Villiers's background as a journalist and meditation instructor harmoniously converges into a style that prompts existential reflection without posing answers. This book calls upon you to attune to stillness in the corridor of your own thoughts and to uncover how simplicity can be a doorway to wisdom.
Die boek sal my nog lank laat nadink oor diie mistieke en spirituele vs ‘n suiwer rasiononele manier van lewe. Die skrywer se navorsing is puik. Miskien verbeel ek my, maar daar word min oor die Katholieke kerk in Afrikaans geskryf. Dit was baie interessant om meer oor die kerk se binnewerking in Afrikaans te lees. Die boek is baie goed geredigeer en daar is geen “kindle” uitleg-foute nie. Dit is ‘n verademing na twee ander plaaslike boeke wat ek onlangs gelees het wat heelwat foute gehad het.
Op pad na 'n klooster in die sneeu is 'n uitsonderlike boek wat geestelike ervarings met fyn nuanse verwoord. Dit stem jou in soveel opsigte tot nadenke oor die wese van lewe en van geloof in die Onsienbare. Deeglik nagevors en boeiend tot verhaal uitgebou, is dit 'n boek wat ek graag aanbeveel.