#OpPadNaNKloosterInDieSneeu – Johannes de Villiers
#HumanEnRousseau
Die woorde van Eitemal is in die Wandellied verewig: “As ek moeg word vir die lewe in die stad / lok my die wandelpad…” Koos du Plessis het dieselfde versugting verwoord: “Iewers in die bosse is ‘n poort na ‘n vergete land....” Die tema verskyn in vele variërende gedaantes en versinnebeeld telkens die mens se soektog na rede en vrede, wat altyd elders skyn te wees. Repos Ailleurs, inderdaad.
In 2003 bevind ‘n vier en twintigjarige homself in ‘n soortgelyke eksistensiële krisis. Ontnugter deur die oënskynlike sinneloosheid van sy bestaan, vertrek hy na Parys met die oog op ‘n gesprek met sy vervreemde grootoom, Adelbert, op daardie stadium ‘n afgetrede priester. ‘n Verhaal vanuit sy skooljare het ‘n metafoor vir sy persoonlike begeerte geword, om so ver as moontlik “...van die wêreld van mense en hulle skeppings weg te kom sonder om die band onherstelbaar te verbreek.” (8)
Op sy beurt vertel Adelbert aan sy jong neef die verhaal van sy eie reis na ‘n klooster in die sneeu: “Die gebeure waarvan ek jou wil vertel, het hul in een naweek in 1964 afgespeel...” (99) Die jeugdige protagonis neem weer beheer van die narratief wanneer hy in die toekoms (2003-2016) die vertelling hervat: “My monastiese aspirasies... was bra oppervlakkig. Ek wou eintlik net wegkom van ‘n lewe van voortslepende verveling, verantwoordelikheid en nimmereindigende menslike wrywing...” (126) Hy ervaar die lewe sonder Adelbert as een waar die “...fyn draad wat my met die wêreld van mistiek en kloosterspiritualiteit verbind het...” (143) weg is, en in 2023-2024 beskryf hy homself as “...vier en veertig jaar oud en voortydig middeljarig.” (147) En steeds soekend.
Deur middel van terugflitse in briewe en telefoongesprekke word die leser in die binnewêreld van verskeie karakters toegelaat en perspektiefwisseling skep ‘n geheelbeeld van situasies wat andersins eensydig sou wees. Die teenstelling met die protagonis se waarneming van Adelbert se bykans oordrewe formaliteit en die geopenbaarde eenvoud van sy geloofspad, aksentueer die aanvaarding van die onverklaarbare: “Ons verstaan geloof as die daad om jou in nederigheid voor iets groters neer te lê, jou onbegrip te bely en gedurig te vertrou dat oortuiging en begrip jou gegun sal word wanneer die tyd weldra reg is daarvoor.” (231)
Die wyshede van die Prediker, dat daar niks nuuts onder die son is nie en dat alles wat is, reeds was en weer sal wees, word gekombineer met die pelgrimstog van Coelho se Santiago, om ‘n toeganklike teks wat die universele soeke na sin en die self krities ondersoek, aan die denkende leser te bied.
#Uitdieperdsebek