Speurder Adriaan Kruger is op die spoor van ’n moordenaar wat só pynlik netjies te werk gaan dat hy oënskynlik geen leidrade agterlaat nie. Boonop lyk dit asof die moordenaar doelbewus kat-en-muis met hom speel. Sal hy die moordenaar kan vastrek voordat dié weer toeslaan? Dié senutergende misdaadondersoek waarin Adriaan gewikkel is, sal die leser aan die raai hou tot en met die heel laaste bladsy.
Tydloosheid is moeilik voorspelbaar, tyd alleen sal oordeel. Heruitgawes en herdrukke in soverre dit publikasies aangaan is ‘n maatstaf, maar nie die enigste nie.
In 1999 publiseer Human en Rousseau die eerste uitgawe van Die rooi angelier. Die skrywer word aangedui as Alex Muller, en die kopiereg verklap weinig meer deur bloot te konstateer: “Kopiereg deur die skrywer streng voorbehou.” Die voorafgaande roman, Die vyf susters (1998), was by dieselfde uitgewer en met dieselfde minimale inligting. Die derde en vierde romans, Drie misdade in ‘n knoop (2000) en Bloedbande (2001) is ewe vaag, maar in 2003 verklap Hotel Bergsig se agterplat dat Alex Muller ‘n skuilnaam van Eleanor Baker is, en na haar afsterwe in 2002, behoort die kopiereg aan die Baker Trust. Die reeks word nou heruitgegee onder Baker se eie naam.
Die protagonis in hierdie reeks is Adriaan Kruger, ‘n wewenaar-speurder wat melk bo alkohol verkies en sy hand aan origami waag, alhoewel sy kollegas min waardering vir sy pogings het en kwalik tussen ‘n swaan en ‘n hyskraan kan onderskei. Desjare was die “knussie” genre nog relatief onbekend in Afrikaans, maar toe reeds was die reeks beskryf as soortgelyk aan die speurverhale van Agatha Christie. Die booswigte is alledaagse mense, nie vreesaanjaende monsters wat ‘n hele gemeenskap in vrees dompel nie, en die ondersoeker is Jan Alleman, maklik om mee te identifiseer en by aanklank te vind.
Die titel verwys na ‘n aandenking wat ‘n reeksmoordenaar op sy slagoffers neerlê. Die modus operandi herhaal homself telkens: ‘n Jong vrou word ontvoer en ‘n rooi angelier word naamloos by Adriaan afgelewer. Die lyk van die slagoffer word dan sorgsaam geklee in ‘n spierwit jurk, netjie uitgelê met ‘n enkele rooi angelier. Daar is geen aanduiding dat die vrouens gemartel word nie, inteendeel, benewens ‘n geheimsinnige reeks kruisies wat in hulle vel uitgekerf is, en die feit dat die liggaam geheel en al bloedloos is, blyk dit dat hulle gevoed en luuks behandel is, hare gewas, naels gepoleer, geparfumeer en vel met room versorg.
Humor is ‘n belangrike element van ‘n “knussie”, maar dit moet subtiel in die teks verweef word en neig na droog en terloops, eerder as na komedie en geforseerd. ‘n Uitstekende voorbeeld is ‘n streng, formele, ouer dame, wat jeremiades oor bure afsteek en “... leun vorentoe sodat haar stewige onderklere liggies kraak.” (25)
Veranderings in die ruimte waarteen die verhaal afspeel is ‘n uitdaging wanneer ‘n heruitgawe meer as twee dekades na die oorspronklike verskyn. In hierdie roman is dit die prys van langafstandhooflynoproepe wat onveranderd behou is in die heruitgawe en wat ‘n ouwêreldse sjarme en nostalgie daaraan verleen, eerder as om afbreuk daaraan te doen: “Hy het Sanet twee keer per week gebel, nie meer nie, omdat dit duur is en hulle spaar hard vir hulle wittebrood.” (20)
Terug na tydloosheid. Ek het die roman in 2025 met dieselfde genot gelees as destyds in 1999.
Speurder Adriaan Kruger is weereens terug op die rakke met ’n splinternuwe baadjie, ’n heruitgawe van Eleanor Baker se tweede boek in die speurreeks wat sy geskryf het onder die skuilnaam, Alex Muller. Die rooi angelier volg op Die vyf susters, wat vroëer vanjaar verskyn het. Ek sukkel nogal regtig om deesdae die drade op te tel wanneer daar ’n opvolgboek verskyn, wat hier ook die geval was. Mettertyd het ek grepe uit die vorige storie so stuk-stuk herroep, want vir herlees was daar nie tyd nie. Sou jy egter nie die eerste boek gelees het nie, gaan jy tog hierdie nuwe knussie kan waardeer. Die skryfstyl is baie vloeiend, sonder te veel grusame detail. Die skrywer slaag selfs daarin om ’n tikkie meegevoel te skep met die moordenaar vanweë dinge uit sy verlede wat hom geknou het. Die jongste van die vyf susters het, met die oorspronklike moordondersoek, reeds die oog gevang van ons speurder, ’n wewenaar en regtig ’n ordentlike man wat eers ses maande wag voordat hy vir Karien kontak. Op die spoor van ’n reeksmoordenaar, stel hulle ontwikkelende verhouding, sonder dat hy besef, vir Karien in lewensgevaar. Die spanningslyn word volgehou tot heel aan die einde. Ek het wel snuf in die neus gekry oor die identiteit van die moordenaar, maar die hoofverdagte was deurgaans ’n baie goeie kandidaat, gegewe sy karakter en optrede wat deeglik weergegee word. Die rooi angelier is uitgegee deur Human & Rousseau, ’n druknaam van NB Uitgewers.