Toe Covid-19 die mat onder Marita van der Vyver en haar Fransman se voete uitruk en hulle noodgedwonge hul ou groot huis op die Franse platteland moes verkoop, besluit hulle om die meeste van hulle aardse besittings ontslae te raak en ver in die wêreld te gaan reis. In hierdie reis, wat oor drie vastelande strek, word ’n hele leeftyd se herinneringe ontgin. Want soms moet mens baie verloor, en ook bereid wees om self verlore te raak, voor mens regtig vryheid kan wen.
Marita van der Vyver is the author of a dozen novels, a collection of short stories, two collections of humorous essays, picture books for children, many short stories and essays in anthologies, and regular columns in newspapers and magazines. Her books have been published in English, Dutch and German, and her first novel, published in English as Entertaining Angels, became a bestseller and was translated into twelve languages. She lives in France with her family.
Marita van der Vyver is die skrywer van ’n tiental romans, ’n bundel kortverhale, twee versamelings van humoristiese essays, prenteboeke vir kleuters, talle kortverhale en essays in versamelbundels, en gereelde rubrieke in koerante en tydskrifte. Haar boeke word deurgaans in Engels, Hollands en Duits vertaal na die sukses van haar eerste roman vir volwassenes, Griet skryf ’n sprokie, ’n literêre sensasie wat in sowat ’n dosyn tale gepubliseer is. Twee van haar romans, Die ongelooflike avonture van Hanna Hoekom en Dis koue kos, skat, is verfilm. Sy woon in Frankryk saam met haar familie.
Dìe boek moet jy rustig lees, met 'n atlas of Google earth naby sodat jy kan kyk wáár is al die plekke waar Marita en haar Fransman aangedoen het in hulle omswerwinge. Die boek het ook 'n 'klankbaan' - so jy kan lekker saamluister na die musiek waarna sy so dikwels verwys, en jou verbeel jy is dáár, saam met hulle. En die titel noem nie om dowe neute vrees vóór vryheid nie... Hoewel hulle reis deur Europa en Amerika natuurlik báie interessant was, het ek (vanselfsprekend) die reis in Suid Afrika die meeste geniet. My gunsteling plekke op aarde - die Vallei van Verlatenheid, Nieu Bethesda, Gamkaskloof en Nature's Valley - het 'n plek in die boek! Ek kan in my geestesoog sien hoe lyk dit wat sy beskryf, en verstaan hoekom dit juis ook vir haar spesiaal was. Hierdie is nie 'n roman of 'n novelle nie, dis 'n reisverhaal. 'n Reis deur vele lande en landskappe, maar ook 'n reis deur haarself, haar verhouding met Alain en haar verhouding met haar wêreld. Dis 'n boek wat jy weet en weer wil lees, want jy gaan elke keer nòg iets interessants raaklees! Nou wil ek ook my huis verkoop, tasse pak en verkas!
#MyJaarVanVreesEnVryheid – Marita van der Vyver #Tafelberg
Domicilium citandi et executandi is, letterlik vertaal, die genomineerde adres waar ʼn party regskommunikasie ontvang; plek van diening en uitvoering. ‘n Gekose woonplek is, op sy beurt, ‘n noodwendige gevolg van die geografiese ligging van jou beroep en/of jou kinders se skole en/of jou begroting. Totdat dit alles meteens wegval.
Op 1 September 2021 is dit min of meer waar die skrywer en haar geliefde Franse lewensmaat hulleself bevind. Weens ‘n sameloop van omstandighede is hulle woning op die Franse platteland verkoop, hulle kinders het elkeen hulle eie pad begin loop en, na gevegte teen ‘n depressie-mantel en sy meeloper, die alkoholkruk, is daar ook geen meer beroepsverpligtinge wat geografiese gebondenheid noodsaak nie. Dis net hulle, ‘n krokkerige Kangoo, ‘n paar tasse klere, ‘n houtkameelperd, ‘n skaatplank en ‘n opgerolde tapyt. “Soos vlugtelinge uit ‘n oorloggeteisterde land.” (15)
Vir die volgende jaar sou die skrywer en haar Fransman (soos sy na hom verwys) via Europa, Noord-Amerika en Suid-Afrika deurgaans grense oorsteek, ook die wat “slegs in ons verbeelding bestaan” (23) en die swerfjaar het “... al hoe meer ‘n reis (geword) na aanvaarding van alles wat ek nie kan beheer nie.” (49)
Katastrofes is meestal nie onmiddellik amusant nie, maar terugbeskouend was heelwat insidente wel lagwekkend. Daar was die tent wat volstrek geweier het om afgeslaan te word, vroegoggendverwelkomings deur daggawalms, llamas, hase, hitte, en sneeu, tande borsel met lemoensap omdat die water gevries is, waarskuwings teen ratelslange en bomplanters, boomklim en swem in koue, vreemde waters, meganiese uitdagings, sprinkane, ‘n bobbejaan wat deur die Fransman verdryf is deur sy gunsteling Afrikaanse vloekwoord op hom te skreeu, taalverwarrings, en verdwaalpaaie, wat teruggekaats het deur die kultuurgeskiedenis na Odusseus, “...moontlik die grootste verdwaler ooit, die ideale rolmodel vir rigtinglose reisigers...” (76)
Die skrywer trap egter nie in die slaggat wat ‘n reisverhaal dikwels in ‘n stereotipe verander nie, en verwoord dit self as volg: “Reis is nooit net ‘n opeenstapeling van ekstatiese oomblikke en katastrofiese voorvalle wat humoristies oorvertel kan word nie. Dis wat reisboeke jou dikwels laat glo, omdat dit soveel makliker is as om verslag te lewer van die vaal kolle en die vertwyfeling en die verlange wat jy onvermydelik gaan ervaar as jy lank genoeg aanhou reis.” (171)
En juis daarin is die skoonheid van hierdie teks te vinde. Dis nie bloot ‘n vermaaklike hervertelling van ‘n ontstuimige jaar of ‘n feitelike reisbeskrywing nie, dis die deel van ‘n intieme en persoonlike reis na tuiskoms – op verskeie vlakke. Die voetspore van kunstenaars, skrywers en musikante word gevolg, en raakpunte word ook in uiteenlopendheid gevind, Boerneef tot Shakespeare, Stephen King tot John Steinbeck: “Dis wat reis aan jou doen. Dit torring herinneringe los wat so diep in jou vasgestik is dat jy heeltemal daarvan vergeet het, tot ‘n onbekende omgewing jou onkant vang, en eensklaps voel jy skoon rafelrig van onthou.” (117)
‘n Persoonlike hoogtepunt is die beskrywing van die liewe Fransman se ervarings van Suid-Afrika: “...ek hoor hoe my Fransman “Vallei van Verlatenheid” fluister. Asof hy wil seker maak dat hy dit nooit vergeet nie. Ek glimlag in die donker. Ek was verniet bang. Olive Schreiner was reg. Hierdie land het die Fransman ook oorrompel.” (208)
Van Schreiner gepraat, gelukkig vir ons, die lesers van hierdie besondere reismemoir, het die skrywer haar nie laat inperk deur eersgenoemde se woorde nie: “How hard it is to make your thoughts look anything but imbecile fools when you paint them with ink on paper” en het eerder die raad van ‘n ander skrywer nagevolg: “Ek volg Joan Didion se raad en skryf dit neer, pen dit vas in woorde wat my eendag gaan terugbring hierheen.” (42)
Dieselfde woorde wat die leser, reisend of nie, tydloos sal ontroer.