#Roulette – Sidney Gilroy (#HumanEnRousseau) &
#DieDrieWeduwees – Irma Venter (#Tafelberg)
Drie.
Die magiese syfer.
Numerologie beskou die syfer as simbolies van harmonie; die eenheid van een, gekombineerd met die dualiteit van twee, verskaf ‘n gebalanseerde spektrum. Verskeie spirituele beginsels draai om die syfer, en selfs die siklus van alles wat lewend geag word, word in drie stadiums beoordeel: geboorte, lewe en dood.
In legendes en sprokies speel die getal ‘n ewe bekende rol: Gouelokkies was met drie bere gekonfronteer, daar was drie varkies, wense word in drieë uitgedeel, ensovoorts. Idiome getuig van die kulturele invloed uitgeoefen deur die getal, en in sport is daar drie tipes medaljes: goud, silwer, en brons.
In beide hierdie romans is die syfer drie van belang; in Roulette speel ‘n drieling ‘n kardinale rol, en in Die drie weduwees is drie gewese vroue van dieselfde man die spil waarom ‘n raaisel draai.
Hier is nog drie punte van ooreenstemming:
1. Die hede word beïnvloed deur ‘n onreg bykans drie dekades gelede gepleeg.
2. Fiela Komoeti se woorde, dat ‘n onreg teenoor ‘n kind nie vergewe word nie, staan sentraal in die verhaal.
3. Die karakters, Sollie Mthembu en Ami Prinsloo, word vir die vierde keer ingespan as protagonis.
Beide is kinematografiese spanningsverhale, perfek vir die leunstoelspeurder.