In 1998 was hulle onskuldige tieners. In 2025 is hulle verdagtes. Sersant Sollie Mthembu se nuwe ondersoek lei hom terug na ’n onopgeloste dossier van die negentigs. Om die moordenaar te stuit, en tegelyk iemand na aan hom se lewe te red, moet Sollie agter die kap van die byl Is dit wraak? Of word mense stilgemaak? Roulette is die bekroonde skrywer Sidney Gilroy se vyfde roman – ’n onthutsende krimi wat die gevolge van familiegeheime en gevaarlike speletjies onder die vergrootglas plaas.
Sidney Gilroy is ’n projekbestuurder en digitale spesialis wat sedert 2015 deeltyds as stokperdjie skryf. Hy woon in Reebok, Suid-Afrika saam met sy kat. ~ Sidney Gilroy is a project manager and digital specialist who has been writing part-time as a hobby since 2015. He lives in Reebok, South Africa with his cat.
Numerologie beskou die syfer as simbolies van harmonie; die eenheid van een, gekombineerd met die dualiteit van twee, verskaf ‘n gebalanseerde spektrum. Verskeie spirituele beginsels draai om die syfer, en selfs die siklus van alles wat lewend geag word, word in drie stadiums beoordeel: geboorte, lewe en dood.
In legendes en sprokies speel die getal ‘n ewe bekende rol: Gouelokkies was met drie bere gekonfronteer, daar was drie varkies, wense word in drieë uitgedeel, ensovoorts. Idiome getuig van die kulturele invloed uitgeoefen deur die getal, en in sport is daar drie tipes medaljes: goud, silwer, en brons.
In beide hierdie romans is die syfer drie van belang; in Roulette speel ‘n drieling ‘n kardinale rol, en in Die drie weduwees is drie gewese vroue van dieselfde man die spil waarom ‘n raaisel draai.
Hier is nog drie punte van ooreenstemming: 1. Die hede word beïnvloed deur ‘n onreg bykans drie dekades gelede gepleeg. 2. Fiela Komoeti se woorde, dat ‘n onreg teenoor ‘n kind nie vergewe word nie, staan sentraal in die verhaal. 3. Die karakters, Sollie Mthembu en Ami Prinsloo, word vir die vierde keer ingespan as protagonis. Beide is kinematografiese spanningsverhale, perfek vir die leunstoelspeurder.
Sidney Gilroy se Roulette is plattelandse noir op sy donkerste en dapperste.
In 1998 was hulle net seuns. In 2025 is hulle verdagtes. Sersant Sollie Mthembu keer terug na ’n ou dossier wat hom dwing om nie net ’n reeks moorde op te los nie, maar ook sy eie familiegeheime te konfronteer.
Die Ludick-drieling, hul vriende, en Lara (die jong suster in die middel van alles) vorm die kern van ’n verhaal wat draai om Russiese roulette, dobbel, en die gevolge van stiltes tussen mans. Gilroy dekonstrueer die plaasroman en loer in die Afrikaner se erfstukkas: toksiese manlikheid, onderdrukte emosies, en die donker kant van die manlike psige word ontbloot.
Wat werk? Alles. Die spanning is intens, die karakters eg, en die narratiewe tegniek (wat ek nie hier gaan verklap nie) is briljant. Gilroy se styl is beeldend en eerlik.
’n Volbloed krimi!
Dankie aan NB Uitgewers/Jonathan Ball Publishers vir die geleentheid om hierdie boek te lees.