’n Groep jong Suid-Afrikaanse Jode, die teiken van ’n terreuraanval in Kairo, is die vlam in ’n kruitvat vir grootskaalse oorlog in die Midde-Ooste. In die middel daarvan, die joernalis Ruby Heyns, in besit van verdoemende inligting wat die skaal in dié konflik kan swaai. Wanneer Ruby Heyns oornag verdwyn, moet Staatsekuriteit se Reuben Kruger al sy tegniese kennis inspan om haar spoor op te tel. Spanning en aksie uit die boonste rakke!
Jaco Wolmarans is ‘n Kaapstadse vryskutskrywer, videovervaardiger en fotograaf. As voormalige joernalis het hy sy loopbaan in die Ooskaap as misdaad- en hofverslaggewer begin voor hy in die negentigers na korporatiewe joernalistiek en later vryskut-kopieskryf oorgeskakel het.
Jaco het in die laat tagtigers ‘n paar kortverhale gepubliseer, maar dit sou jare duur voor sy militêre diens-agtergrond en uitgebreide Afrika-reise sy begeerte om ‘n vollengte-boek te skryf, laat herleef het.
‘n Werkbesoek aan Mosambiek het as aansporing vir sy debuutwerk, BOS, in 2018 gedien. Die werk is wyd verwelkom as ‘n nuwe rigting in Afrikaanse literatuur: ‘n kombinasie van tradisionele spesmagte-literatuur en politieke intrige, gemeng met omgewingskwessies en intelligensie-aktitiwiteite.
Sy opvolg, die historiese roman SKAG, volg die politieke gebeure rondom die bou van Suid-Afrika se kernwapens in die tagtigers en die rampspoedige gevolge vir die land se jong demokrasie sou hierdie wapens in ver-regse hande val.
In IVOOR volg Jaco se spesmagte-karakters, Tex en Carlos, geheimsinnige betalings aan buitelandse rekenings uit die apartheidsjare. Die verhaal neem die twee terug na hul eie bloedige verlede as kleinspan-operateurs in Angola. IVOOR was ‘n ATKV Woordfeertjie-finalis vir spanningsromans in 2022.
In DOLOS skuif die aksie na Mosambiek en Islamitiese ekstremiste en heroïen-smokkel. Die karakters bevind hulself midde-in ‘n staatsgreep, en bring só al Jaco se fiksie-belangstellings byeen: die skatkis van onaangeraakte stories uit Suider-Afrika se politieke en militêre verlede, sameswering en politieke intrige.
Jaco bly in Milnerton saam met sy vrou Nicky en bestee sy vrye tyd op ‘n seilplank – verkieslik teen hoë spoed.
Donkermaan (Tafelberg, 2025) was die verhaal van Ruth, Sekelmaan, in breë terme ‘n opvolg, tel die drade op in die hede, drie dekades na sy voorganger, en fokus op Ruby, Ruth se dogter.
Ruby is ‘n Suid-Afrikaner met Joodse wortels, ‘n verslaggewer vir Reuters. ‘n Groep jong Suid-Afrikaners wat beplan om, onder die dekmantel van die bywoning van ‘n muurbaltoernooi in Kaïro, wederregtelik by die Joodse weermag aan te sluit, verskyn op haar radar en word die sneller wat dreig om die magsbalans in die Midde Ooste te versteur.
In Suid-Afrika is Reuben Kruger is ‘n onwaarskynlike held; ‘n sosiaal onbeholpe seilplankryer in diens van Staatsekuriteit: “...hy huiwer op die rand van die outismespektrum, met die vermoë om skakels en versteurings van patrone te sien waar ander bloot na data staar” (30). In Israel lig ‘n skim uit Ruth se verlede sy kop: Saul Grossman, haar voormalige Mossad-hanteerder, nou gefokus op die opsporing van Al-Masri, die argitek van die nagmerrie wat op Oktober 2024 gevolg het, en bereid om enige offer op die altaar te plaas in die proses: “My Here, Saul, jy is harteloos.” (77)
Die roman is in drie dele verdeel. Die eerste, Volmaan, dek die tafel vir die klimaks waarna onvermydelik opgebou word. Die leser het insae in die beplanning en denke van die meerderheid karakters, ook die antagoniste, en die hoofstukke wissel ten opsigte van perspektiewe en ruimtes. Die plofbaarheid van die situasie word duidelik gemaak wanneer die effek van ‘n Hellfire evokatief beskryf word as “Ses sekondes later flits die skerm voor hulle. ‘n Vuurbal , dan stof en tuimelende steenwerk sigbaar” en die gruweltoneel in skrille kontras met die nonchalante reaksie van die betrokke beampte gestel word: “Hy stoot sy stoel terug, strek sy stram rug. Sy werk is klaar vir die nag. Hy gaap weer. “Ek gaan koffie kry”, sê hy en stap uit.” (13)
Deel 2, Halfmaan, neem die leser terug na Israel, 2012, en ontbloot die subtiele spel van misleiding wat die eerste deel uiters vernuftig gespeel het. Deel 3, Sekelmaan, volg met ‘n dreigende openbare teregstelling, die leser nou terdeë bewus van die wesenlikheid van die gevaar en die potensiële internasionale impak daarvan. Die gewetenloosheid van die aangewese laksman word, soos met die Hellfire-scenario, beklemtoon deur middel van koelbloedige kontraste in sy denkpatroon: “Hy het sy instruksies. Ramadaan se sebri-sekelmaan verskyn more-oggend om 4:53, ‘n gepaste tyd vir ‘n openbare onthoofding. Op kamera. In die Kangoo sit hy ‘n paar oomblikke voor hy aanskakel en tob oor ‘n gewigtige besluit: hoender of tjips eerste?” (337)
Sekelmaan, soos Donkermaan, slaag daarin om die tragedie en kompleksiteit van die konflik in die Midde Ooste met sobere uitkyke en realistiese waarskynlikhede in ‘n spioenasieroman van formaat te omskep. Die fiktiewe gebeure, soos die werklikheid, skets ‘n veelkoppige monster met tentakels in die alledaagse, verby tyd en grense.
Sekelmaan neem die leser weer diep die skadukant van internasionale politiek en spioenasie in. ’n Wêreld waar besluite nie in parlemente geneem word nie, maar in stil vertrekke, oor gekodeerde oproepe en deur mense wat weet hoe om spore uit te wis. Nes in Donkermaan bevind ons ons midde-in ’n spanningsveld waar Israel, geheime operasies, oorlog en magspeletjies sentraal staan.
Ruth se dogter, Ruby, is ‘n joernalis wat nie ‘n ding kan los as sy eers snuf in die neus gekry het nie. Ruby bevind haar in ‘n wêreld waar politieke alliansies is onstabiel is, ideologieë bots, en elke aksie het gevolge wat veel verder strek as die onmiddellike missie. Ruth wil teen alle mag vir Ruby beskerm, maar hulle bly aan verskillende kante van die land en Ruby is haar eie mens wat meer risiko’s neem as die gemiddelde. Daar is wel iets wat vir Ruth pla, asof die gevoel van dinge wat nie heeltemal pluis is nie. Nes destyds in Stellenbosch.
My lesersindruk: Ek het nogals gewonder hoe mens ‘n fiksie boek gaan skryf gebaseer op die hele Israel situasie wat voor ons afspeel elke dag in die nuus. Hierdie boek was toe so geskryf dat dit soms voel of die gebeure in die boek werklik is, ek was heel beïndruk. Die boek was lekker spannend met baie kinkels wat jou vasgenael hou. Ek moet erken toe ek die lang lys van karakters se name in die voorkant sien toe sak my hart in my skoene, maar om eerlik te wees ek het baie maklik bygehou met al die verksillende karakters en hulle rolle.