Jump to ratings and reviews
Rate this book

Die laaste leuen

Rate this book
Sophia het weer een van die episodes gehad waar sy eenvoudig wegraak. Asof sy in die put is waarin sy as kind met haar troetelkuiken, Rebecca, geval het. Swart. Niks.
Toe sy bykom, vind sy haar man, die popster Max Bladen, met ’n bloederige wond aan sy kop. Wie het Max reg hier in hul leefkamer aangeval? Dit kan tog nie wees dat sý . . .?
Te midde van ’n mediasirkus, word Sophia gearresteer. En sy sal bitter vinnig ’n manier moet vind om haar onskuld te bewys – al kan sy niks onthou nie.

346 pages, Kindle Edition

Published August 11, 2025

Loading...
Loading...

About the author

Ratings & Reviews

What do you think?
Rate this book

Friends & Following

Create a free account to discover what your friends think of this book!

Community Reviews

5 stars
2 (18%)
4 stars
4 (36%)
3 stars
4 (36%)
2 stars
0 (0%)
1 star
1 (9%)
Displaying 1 - 2 of 2 reviews
Profile Image for Anschen Conradie.
1,582 reviews91 followers
Read
October 16, 2025
#DieLaasteLeuen – Anita du Preez
#Queillerie

Die storie agter die storie is die moeite werd om te vertel. Anita du Preez is alombekend as skrywer van liefdesverhale, onder meer Mooier as Marilyn (2019) en Op soek na Tretchikoff (2020). Die groot K het egter toegeslaan en sy onderskei sedertdien tussen haar lewe daarvoor en daarna. BC (before cancer) het sy romans soos hierbo vermeld geskryf, AC (after cancer) is sy ‘n onverskrokke 76-jarige wat aan wedlope deelneem, heel gemaklik die middelvinger wys, en ‘n sielkundige riller – die roman nou ter sprake – neergepen het.

Sophia Blijdenstein, die protagonis, het engtevrees en ‘n liefde vir kuns in gemeen met die skrywer. Volgens ‘n skrywersonderhoud: “Altwee van ons moes eers deur ‘n helse ervaring gaan om uit te vind wie en wat ons werklik is en waartoe ons eintlik in staat is.”

Hierdie helse ervaring begin toe Sophia haar man, die gewilde minnesanger, Max Bladen, bewusteloos op hulle rusbank vind: “Watse nat pappery sit hier in sy hare? Soos binnegoed. Bloederig. Sponserig hier by sy regterslaap. Die kussing is deurdrenk. Hele agterkop sopnat. Kan nie wees nie. Dis blóéd so opgedam in sy oor.” (11)

Max is in ‘n koma, nie in staat om te verbaliseer wie hom aangerand het nie. Die bebloede lampie het slegs Sophia se vingerafdrukke op, daar is geen tekens van ‘n inbraak nie, en hulle was alleen in die huis. Gedeeltelike amnesia kniehalter Sophia se eie pogings om sin van die nagmerrie te maak. Sy is wel bewus van kneusmerke op haar liggaam. En ‘n argument oor ‘n gesiglose vrou, Lila.

Dis oorgenoeg vir Sersant Wolfgang Bekker. Sy word gearresteer vir poging tot moord. En, sou Max nie oorleef nie, sal die klag na moord verander. Midde-in ‘n mediastorm probeer haar regsverteenwoordiger haar red deur middel van ‘n verweer van outomatisme. Dat sy, weens ‘n geskiedenis van epilepsie en somnambulisme, nie in staat was om ‘n gewillige handeling uit te voer nie en dat sy derhalwe ontoerekeningsvatbaar was ten tye van die pleging van die misdryf.

Sophia se soektog na die waarheid lei deur die vroue-afdeling vir verhoorafwagtendes in Pollsmoor, ‘n forensiese evaluasie in Valkenberg, en ‘n kriminele verhoor. Hede en verlede, werklikheid en illusies, waarheid en leuens word ineengevleg. Sy onthou flitse van ‘n hoenderkuiken, Rebekka, ‘n put met slymgroen water, en ‘n sussie, Helena, terwyl die stemme van haar oorlede pa en die digter, Ingrid Jonker, rigtingwysers op haar onseker pad word.

Die leser word deurlopend aan die raai gehou, Sophia is self nie seker wie Max wou vermoor het nie, dit kon immers sy self gewees het, en elkeen met wie sy in aanraking kom, vertel ‘n ander weergawe van die beweerde waarheid. Haar verblyf in Pollsmoor en Valkenberg word evokatief beskryf deur haar benewelde waarnemings met ‘n kliniese, onsimpatieke omgewing, en immer teenwoordige bedreigings te kombineer: “Nes ‘n Polaroid kom dinge geleidelik in fokus. Nes die eerste ruk na Pa se dood. Om elke oggend van voor af te onthou.” (84)

Sophia se betroubaarheid as verteller word die spilpunt van die leser se uitdaging, as kind het sy immers haarself ‘n ongewone verbeelding aangeleer: “Dat ‘n ding nie hoef asem te haal om te voel nie. Die tandeborsels se koppe wil nader aan mekaar gedraai wees om te gesels. Haar kamerjas se belt skree waar dit tussen die twee kasdeure vasgeknyp is.” (103) Die werklikheid word wasig, en die grense tussen reg en verkeerd vervaag.

Die ontknoping is vernuftig en geloofwaardig, tydsaam en boeiend. Die leidrade was teenwoordig, net subtiel versteek.

Enkele regstegniese foute kom voor, ‘n kriminele saak kan nie teruggetrek word na ‘n pleit geneem is nie (193, 248), die staat kan nie tydens die verdedigingsaak ‘n getuie roep nie (192) en die terme landdros en regter word foutiewelik as sinonieme gebruik (248), maar dit doen geensins afbreuk aan die verhaallyn nie en beïnvloed ook nie die gebeure op enige noemenswaardige wyse nie.

Die laaste leuen is ‘n knap raaiselriller met eksentrieke en komplekse karakters wat ongewone situasies moet navigeer, en die leser uitdaag om waarheid en leuen te onderskei.
Profile Image for Roelia (Roelia Reads).
491 reviews1 follower
January 29, 2026
Die Laaste Leuen deur Anita du Preez is ’n meesterlike psigologiese riller wat my van die eerste hoofstuk af vasgenael het. Die verhaal volg Sophia Blijdenstein, ’n kunstenaar met engtevrees en ’n komplekse verlede, wat haar man bewusteloos in hul huis aantref. Met haar vingerafdrukke op die bebloede lampie en geen herinnering aan die gebeure nie, word sy die hoofverdagte in ’n poging tot moord. Haar reis deur Pollsmoor, Valkenberg en die hof is intens, benoud en emosioneel uitputtend op die mees boeiende manier.

Du Preez se navorsing skemer deur in elke toneel. Die beskrywings van die tronkomgewing, die psigiatriese evaluasies en die regsproses is so realisties dat dit amper dokumentêr voel. Sophia se onbetroubaarheid as verteller is die hart van die spanning. Haar flitsende herinneringe, haar innerlike stemme en haar worsteling met waarheid en illusie hou die leser voortdurend op die raai.

Die karakters is ryk en menslik, veral Snow Botha, wat warmte bring in ’n andersins donker verhaal. Die ontknoping is slim, stadig opgebou en heeltemal bevredigend. Die Laaste Leuen is ’n indrukwekkende skuif na die spanningsgenre vir Du Preez en ’n boek wat ek sonder huiwering aanbeveel vir enige liefhebber van psigologiese raaisels.

Met dank aan #Queillerie uitgewers (JBP)
Displaying 1 - 2 of 2 reviews