Jump to ratings and reviews
Rate this book

Weg is nie 'n plek nie

Rate this book
Natasja bevind haar vroegoggend op die snelweg, tien ure noord van Kaapstad. Al haar besittings is agter in die kar en sy sweer sy sit haar voete nooit weer naby Johnny nie. Eers nadat sy op die N18 afgedraai het, onthou George, haar pa se boesemvriend, woon nog op Lelievlei. Miskien moet sy gaan aanklop? 
In dié aangrypende roman herinner die skrywer ons hoe die liefde ons almal raak. En soms skenk die heelal vir jou ’n beskermengel wanneer jy dit die nodigste het.
 

245 pages, Kindle Edition

Published August 22, 2025

Loading...
Loading...

About the author

Santie van der Merwe

11 books5 followers
Santie van der Merwe is ’n tuisteskepper wat meer hou van lees as van afstof, en meer van skryf as van stryk. As jong tuisblyma van twee kinders steek sy voelers uit en publiseer ’n paar tydskrifverhale. Toe haar jongste kind universiteit toe is, skryf sy in vir die Bloemfonteinse Skrywersvereniging se jaarlikse wedstryd, en wen die tweede prys vir haar kortverhaal, ’n Dag in Junie. Dit was net genoeg motivering om haar hekelpen neer te sit en haar hand aan ’n liefdesroman te waag. Santie woon saam het haar man, seun, kat en hond in Centurion.

Ratings & Reviews

What do you think?
Rate this book

Friends & Following

Create a free account to discover what your friends think of this book!

Community Reviews

5 stars
11 (55%)
4 stars
7 (35%)
3 stars
2 (10%)
2 stars
0 (0%)
1 star
0 (0%)
Displaying 1 - 3 of 3 reviews
Profile Image for Amanda.
1,227 reviews
Read
February 12, 2026
“Waarheen is sy op pad? Sy ry weg van alles af, maar weg is nie ’n plek nie.” (p.18) Dit is hierdie besef waarmee Natasja gekonfronteer word terwyl sy blindelings koers kies met die N1 langs, wat aan Santie van der Merwe se nuutste roman ’n treffende titel besorg. Uitsonderlike titels was nog altyd ’n kenmerk van hierdie skrywer se werk. Dink maar aan ’n Goeie jaar vir rose, Anderkant vergeet en Gelyke kans.
Natasja het haar aardse besittings in haar motor gelaai en alles wat vir haar kosbaar was, agtergelaat, veral die twee kinders van Johnny wat sy liefhet soos haar eie. Maar die verwoesting van sy verslawing kan sy nie langer verduur nie, trouens, sy weet nie eers of hy die laaste oordosis oorleef het nie.
Sy beland op Lelievlei en klop aan by George, ’n vriend van haar oorlede pa. Sy vind ’n kunstenaar wat skep uit rommel, en nie ’n man, soos sy aanvaar het nie. Wat volg, is wisselende fokalisering van Natasja en George, waardeur die leser dié twee se geheime, herinneringe en geskiedenis leer ken. Wanneer George vir Natasja in haar ruimte toelaat, moet sy spoke uit haar verlede konfronteer. “In haar geheue gaan deure op skrefies oop, maar sy sien nie kans vir memory lane nie.” (p.99)
Weg is nie ’n plek nie is ’n aangrypende verhaal van verlies en oorlewing, van swaarkry en oorwinning. Terwyl die fokus is op George en Natasja, is daar interessante newekarakters, waarvan die jong Nevermind beslis my gunsteling is. Lees die boek met aandag, want daar is baie lewenslesse versteek tussen die bladsye.
Die uitgewers is Human & Rousseau, ’n druknaam van NB Uitgewers.
Profile Image for Anschen Conradie.
1,582 reviews91 followers
Read
April 20, 2026
#WegIsNieNPlekNie – Santie van der Merwe
#HumanEnRousseau

Vlug is ‘n perspektief, eerder as ‘n aksie. Elke bestemming word bereik met dieselfde bagasie, die lengte van die reis ten spyte, want van jouself kan jy nie wegkom nie. ‘n Nuwe omgewing waarborg nie die agterlaat van jou skaduwees nie.

Die drang om te vlug, minstens te voel dat jy wegkom, is egter soms allesoorheersend. En dis hoe Natasja voel na die ding met Johnny. Die drang is so dringend en intens dat sy slegs pak wat in haar motortjie kan pas, die nuutste skilderye se verf nog nat, en blindweg in ‘n rigting ry. Enige rigting – solank die pad haar wegvoer vanuit Kaapstad.

Tien ure later, steeds iewers tussen woede en waansin, bevind sy haarself in Lelievlei, ver van die gebaande weë met ‘n vae herinnering dat ‘n jeugvriend van haar oorlede pa, George, daar woon en haar ‘n leeftyd gelede genooi het om te kom kuier, al het hulle nog nooit ontmoet nie.

Natasja se ylingse vlug is nie net ‘n gepoogde ontsnapping van pynlike ontnugterings en geforseerde afskeid nie, dis ook ‘n desperate soektog na haarself: “Johnny was nog nie eens agt jaar terug in haar lewe nie, maar sy kan nie onthou wie sy voor hom was nie.” (85) In die intieme isolasie van ‘n kleindorpse milieu moet sy haar verbintenis met verslawing in die oë kyk, en hernude selfondersoek doen na haar persepsie dat sy ‘n teleurstelling vir haar familie is en was: “Die reistasse wat haar ouers vir haar gekoop het toe hulle nog hoop gehad het vir haar.” (11)

Ander temas wat onder die loep geneem word is die eggo’s van jeugliefdes wat nooit tot wasdom gekom het nie; die vernietigende effek van kontrasterende toekomsdrome, die impak van wegspring met ‘n agterstand, en die onderskeid tussen eksentrisiteit en disfunksionaliteit.

George en Natasja tree beurtelings as fokaliseerders op en die narratief laat die leser toe om hierdie twee sentrale karakters beide van buite en van binne te ervaar. Die wisseling van die intimiteit van die perspektiewe verseker ‘n multifunksionele blik op die lief en leed van hierdie karakters vir wie Lelievlei die ‘weg’ vanuit ‘n hoofstroomlewe geword het.

Groei kan selde in isolasie plaasvind en die insluiting van ongewone karakters soos ‘n oorstootdrie-laatlammetjie genaamd Nevermind, en ‘n Helen Martins- kunstenaarsfiguur, verhef die gemeenskap van Lelievlei tot katalisators vir hergeboortes. Subtiele humor word vervleg met koestering en empatie; die platteland het miskien nie Uber Eats nie , maar wel ‘n afleweringsdiens wat nie aan oorspronklikheid ontbreek nie: “Die fiets is nogal iets om te aanskou. Die stuk karton waarop hy self “Mr D” geverf het, die gekleurde linte wat hy van ‘n kinderfiets afgehaal het, die koelboks wat hy agterop vasgemaak het.” (81)

Die kunstenaar se perspektief op sy handewerk, veral op die blootstelling daarvan, word ‘n metafoor vir die oopstel van ‘n andersins verborge innerlike wat met die skuheid van ‘n oester beskerm was: “Dis asof die buite wêreldse oë iets daaraan verander. Daar is noodwendig opinies wanneer iemand na jou kuns kyk. En opinies verander hoe jy self daarna kyk. “ (104)

Die roman kan beskryf word as die dekonstruksie van twee liefdesverhale wat slegs na die afloop daarvan die eerste keer oorvleuel. Die narratief se fokus is op die terugkyk met meerdere kennis, die gevolge van verkeerde besluite, en die besef dat die spreekwoordelike gelukkige einde ‘n kommapunt eerder as ‘n punt is.

#uitdieperdsebek
Profile Image for Rina Coetzee Gous.
147 reviews8 followers
February 12, 2026
Dit is altyd vir my moeilik om my vinger te lê op presies wat die wonder van Santie van der Merwe se boeke is. As mense my vra daaroor, sukkel ek om te verduidelik hoekom ek haar boeke so vreeslik geniet maar ek dink die kern gaan daaroor dat dit eg menslike verhale is. Dat die skrywer die talent het om haar karakters se gevoelens te deel sodat jy hulle as werklike mense ervaar. Die stories is altyd oorspronklik maar gebasseer in die hier en waar wat rondom ons almal bekend is. Die karakters kon net sowel jou bure gewees het maar hulle stories en hoé dit vertel word, is wat die boeke so spesiaal maak.

Natasja vlug halsoorkop uit Kaapstad uit, noord na nêrens om haarself te bevind in haar pa se geboortedorpie, Lelievlei, by George met wie hy sy kinderdae gedeel het. Natasja vlug van hartseer en verraad om haarself te red en bevind haar aan huis by George, wat dalk self ook bietjie redding nodig het soos haar vervalle huis getuig. George maak haar huis, maar later ook haar hart oop vir hierdie kind van haar vriend. Natasja grawe ‘n gaatjie deur George se oppervlakkige dop. Saam vind hulle by mekaar ‘n tuiste in die kleine Lelievlei.

Hierdie boek herinner ons almal dat liefde en behoort op enige plek te vinde is en dat die mense wat jou familie is beide die is wat bloed is maar ook die is wat mens self kan uitsoek. Hierdie boek is ‘n heerlike boek wat enige persoon wat van karakter gebasseerde fiksie hou en nie bang is om emosies in die oog te staar nie. Ek het dit vreeslik geniet om weer ‘n boek uit die skrywer se pen te lees. Ek het gehuil saam met Natasja, diep gekyk saam met George en lekker gelag oor Nevermind se gesegdes.
Displaying 1 - 3 of 3 reviews