Susan Coetzer was ’n swaarmoedige Sannie eerder as Susan Super C. Christus met sy wyse rigtingwysers het haar begeester om haar moue op te rol en geestelike transformasiewerk in haar lewe te doen. Hierdie proaktiewe werk het ’n paar mooi dinge gebring soos vryheid, vrede en wysheid. Susan nooi jou om saam met haar op ’n reis te gaan. Mag hierdie reis jou aanspoor om nooit moed te verloor nie, maar aan te hou stap totdat jy ook ’n energieke, veerkragtige en borrelende mens in Christus is.
Die inleiding tot Super C, begin met ’n uitdagende vraag: “Is jou lewe as Christen vir jou lekker? Is jy gelukkig en tevrede met waar jy tans is?” (p.11) Die skrywer gaan dan voort en lys ’n stuk of 19 stellings waarmee jy jou antwoord kan kwalifiseer, dinge soos praktiese probleme soos werksdruk of finansies, maar ook meer emosionele sake soos “Ek is gestres” of “Ek maak nie ’n verskil nie.” (p.12). Met die eerste oogopslag het ek ewe meewarig gevoel dat dit nie op my van toepassing is nie, en die boek tersyde gestel. Toe ek nou weereens begin lees daaraan, was ek vinnig geboei deur die eerlikheid waarmee Susan Coetzer haar lewensreis skets.
Van ’n gelukkige baba en suksesvolle leerder, het haar lewe drasties verander toe haar ouers skei. Sy is self deur twee mislukte huwelike en haar selfbeeld was broos. Dit was eers toe sy ’n belangrike waarheid gesnap het, dat sy geluk begin smaak het: “Want geluk, leer die Woord ons, is ’n neweproduk, nie ’n hoofproduk op sigself nie. Geluk is ’n uitvloeisel van ons intieme verhouding met Christus.” (p.51) Die boek is baie waardevol vir enigeen wat ook soekend is na ’n meer sinvolle verhouding met Christus en ’n meer vervulde lewe. Aan die einde van elke hoofstuk lys die skrywer dinge om oor na te dink en in ’n joernaal neer te pen. Die stellings wat sy maak, motiveer sy telkens uit die Woord, en wel met aanhalings uit verskeie vertalings, onder andere die 1933/53 vertaling, die 1983 vertaling, Die Nuwe Lewende Vertaling van 2006, en The Message. Dit verhef na my mening die inhoud na meer as bloot ’n motiveringsboek, wat dit wel ook inderdaad is. Die skrywer is immers al jare ’n suksesvolle motiveringspreker met Christus as haar rolmodel. Super C is ’n publikasie van Lux Verbi, die geestelike druknaam van Jonathan Ball Uitgewers.