Wat skuil agter die Sheldon-fortuin? Zabeth Meyer beland op Kronkelrivier om navorsing vir die krimiskrywer Wilbur Sheldon te doen. In die Victoriaanse herehuis, Sheldon Manor, kom sy Wilbur se skatryk familie en al hul vreemde tragedies en intriges teë: Eers verdrink die oudste Sheldon-kleinkind, en ʼn paar jaar later sterf sewe Sheldons op een dag. Net een erfgenaam van die Sheldon-fortuin bly Die onbekwame Keith. En Ethel, die familiematriarg, is al in haar tagtigs. Kort ná Zabeth se aankoms gebeur daar nog ’n ongeluk by Sheldon Manor en skielik lyk gebeure van vyf en twintig jaar gelede heel anders ... Tussen Zabeth, Wilbur en die aantreklike Liam moet hulle die Sheldons se donker geheime en hul elkeen se eie verlede ontrafel voor nog iemand seerkry.
Chanette Paul word rond en bont groot. Sy woon nege skole by, studeer aan vyf universiteite en het al in sewe provinsies gebly. Haar eerste verhaal waarvoor sy betaling ontvang het, is ‘n sprokie wat sy op sestienjarige ouderdom geskryf het en op Siembamba voorgelees is. Die tweede, ‘n kortverhaal, is in haar universiteitsjare in Huisgenoot gepubliseer. Eers twintig jaar later, in 1995, gee sy weer aandag aan haar skryfwerk. Sedertdien het ‘n verskeidenheid verhale en humoristiese artikels in tydskrifte verskyn asook in die omgewing van 50 boeke in verskillende genres.
Chanette Paul het laasnag my slaap gesteel en vanoggend my aandag gekaap. Met groot genoegdoening kan ek sê dat die intriges van die Sheldons, Meyers en Volkwyns nou ontrafel is. Hoewel ek nog lank sal kan tob, want hierdie verhaal het soveel diepte en genoeg karakters om ’n lywige karakterlys en ’n stamboom voor in die boek te regverdig – wat ek inderdaad geraadpleeg het. Zabeth Meyer kom midde van ’n storm en oorstromings in Kronkelrivier aan om navorsing te doen vir ’n nuwe boek van krimiskrywer, Wilbur Sheldon. En dit is bepaald nie die laaste storm wat losbreek op die Sheldonlandgoed nie. Die drama het ’n kort speelvak, van 21 Oktober tot 8 November, maar is volgepak met spannende gebeure en moeilike interpersoonlike verhoudings. Die voorgeskiedenis van die karakters en die onderskeie families, kompleet met sterftes wat nooit verklaar is nie, word soomloos by die gebeure ingewerk. Dit verseker dat die lesers deurentyd betrokke bly. Die epiloog, een jaar later, rond hierdie besondere stuk werk perfek af. Dit bly vir my fassinerend hoe ’n skrywer soos Chanette Paul so ’n magdom van inligting kan versamel en interessant aanbied, los punte bymekaarbring, subtiele wenke laat en die leser en ook die karakters op baie dwaalspore lei. Déjà vu is ’n puik voorbeeld van al die bogenoemde. Dit staan wydsbeen oor ’n paar genres en sal ’n wye spektrum van lesersmake kan bevredig. Die boek is uitgegee deur Lapa Uitgewers, ’n afdeling van Penguin Random House SA
Déjà Vu is soos enige ander Chanette Paul boek. Dit trek jou in vanaf die eerste hoofstuk en hou jou vas dat tyd totaal en al verlore gaan. As jy wil wegraak in 'n storie, lees Déjà Vu.
Wanneer die veg- of vlugrespons eers geaktiveer is, word dit nie soos ‘n kamerlig afgeskakel nie. Maar die regte boek op die regte tyd help baie. Uitstaande fiksie slaag daarin om die leser so volkome van die werklikheid te verwyder dat dit inderdaad lewensreddend van aard kan wees. In my geval het dit voorkom dat ek iemand met ‘n tas oor die kop moker. Op ‘n lughawe. En daarvoor bedank ek hierdie roman.
Die openingstoneel is stormagtig. Letterlik. Zabeth Meyer arriveer in Kronkelrivier waar sy navorsing vir ‘n skrywer, Wilbur Sheldon (nie Smith nie) moet doen. Dis donker, ‘n storm woed, en ‘n vloed bedreig die gemeenskap: “Die straatligte lyk... soos bruide met digte sluiers toe sy die dorp binnery.” (13)
Die Sheldon-familie is die Eden-distrik se Ewings. Hulle Southfork is ‘n Engelse herehuis, Sheldon Manor, “Imposant is nie die woord nie” wat spog met balkonne, dakvensters, dekoratiewe broekiekant, ‘n leiklipdak, gietysterversierings op nokke, Victoriaanse erkenvensters, ‘n koepelvoordeur, loodglasruite, en “...sierlike syfers van die jaartal: 1898.” (45)
Enige vooraanstaande familie met vingers in elke denkbare plaaslike belang, het natuurlik nie ‘n tekort aan intriges, tragedies en geraamtes nie. Die Sheldons is geen uitsondering nie, en geheimsinnige sterftes, aangenome kinders, en buite-egtelike skandes maak van die ingeslote familiestamboom en lys van karakters en verwantskappe (6-8) ‘n handige verwysingsraamwerk. Met Zabeth se aankoms is Ethel die spreekwoordelike matriarg wat die septer swaai oor die Sheldon-dinastie met sy swakkeling-erfgenaam, Keith, die kunstige feetjie, Marjorie, beeldskone Pamela, en aangenome, charismatiese Liam: “Dit moet moeilik wees om as ‘n koekoek beskou te word, terwyl daar steeds van jou verwag word om op te tree asof jy die kroonprins is omdat die werklike kroonprins se kroon te skeef sit.” (135)
Zabeth se gevoel van déjà vu neem toe soos wat die raaisels opstapel en haar onwillige betrokkenheid duidelik word: “Eintlik is dit asof alles in hierdie omgewing gedupliseer of selfs verdriedubbel word, al is die gebeure nie presies dieselfde nie.” (208)
Paul se indrukwekkende oeuvre word gekenmerk deur sterk vroue as hoofkarakters. Zabeth is dieselfde dam se eend, sy is geensins meer ‘n bakvissie nie, onafhanklik, volwasse, reeds deur die lewe gelouter, aantreklik, sensueel, en intelligent. Oudergewoonte wissel Paul egter die agtergrond en ruimte van haar verhaal om ‘n unieke narratief te skep: Liam beoefen ‘n ongewone beroep as ignoloog, die geskiedenis van die omgewing word subtiel by die teks ingesluit, en toksiese manlikheid en patriargie word vernuftig gebalanseer deur die teenpool, naamlik die euwel van vals aantygings van seksuele teistering, ook deel van die veelkleurige tapisserie te maak.
Belangeverklaring: Ek het geheimsinnige regsvrae deur die skrywer na die beste van my vermoë probeer beantwoord, sonder om enige idee van die konteks te hê. Die eindresultaat was dus nie net vir my ook ‘n aangename verrassing nie, dit het my boonop vermaak, geboei en gered van ‘n moontlike aanrandingklagte; ontsnappingsfiksie deur ‘n meesterhand.
Hierdie spanningsverhaal met n skoot romanse in was 'n baie lekker lees!
Dit gaan oor 'n komplekse familie wat deur baie swaar tye gegaan het, eerstens met die verdrinking van die oudste kleinkind en daarna die vergiftiging van sewe familielede op een dag. Wil iemand die Sheldon naam in oneer bring of gaan dit oor die rykdom wat geërf kan word?
Dit is nou jare na die harseer gebeure en Zabeth Meyer word deur die skrywer Wilbur Sheldon na die Sheldon Manor gestuur om navorsing te doen oor sy familie vir n opkomende boek maar steek daar meer agter hierdie versoek en watter geheime gaan alles ontbloot word?
Natuurlik gaan daar n vonk wees tussen Zabeth en Liam Sheldon maar is dit 'n romanse wat gedoem is van die begin af?
Dis voorwaarlik een besonderse Boek. Ek kon nie die Boek ne'er sit nie. En dit vat Baie om te sê van iemand wat net Engels lees. Chanette Paul is een ongelooflike skrywer. 😱😁
Déjà Vu deur Chanette Paul was vir my ’n heerlike leeservaring vol spanning, familiegeheime en ’n tikkie romanse. Die verhaal begin wanneer Zabeth Meyer, ’n navorsingsassistent vir krimiskrywer Wilbur Sheldon, gestuur word na Sheldon Manor in Kronkelrivier om navorsing te doen vir sy nuwe boek. Maar soos mens kan verwag in ’n Chanette Paul-roman, is dinge glad nie so eenvoudig nie.
Die Sheldon-familie het ’n donker geskiedenis, verdrinking, vergiftiging, en nou die dood van Keith, die enigste oorlewende erfgenaam. Zabeth bevind haarself vinnig in die middel van ’n ingewikkelde intrige, en saam met Liam Sheldon, Ethel se regterhand, word hulle albei as verdagtes beskou. Die geheimenisse van die verlede begin uit die kas tuimel, en Zabeth se jare se navorsing vir Wilbur se krimis kom haar goed te pas.
Wat vir my gewerk het, was Paul se vermoë om spanning en emosie te balanseer. Die karakters is geloofwaardig en kompleks, veral Zabeth en Liam. Die Victoriaanse herehuis, Sheldon Manor, skep die perfekte atmosfeer vir die drama wat ontvou. En die titel, Déjà Vu, pas perfek by die gevoel van herhaling en onverwerkte trauma wat deur die verhaal loop.
Ek het ook gehou van die bekende Suid-Afrikaanse plekke wat in die boek voorkom; dit maak die storie nog meer eg en tasbaar. Paul se prosa is toeganklik en vloeiend, en sy hou jou aan die raai tot die einde toe. Die roman is slim gestruktureer, met genoeg draaie om jou aandag vas te hou.
As jy hou van plaaslike fiksie met ’n sterk spanningslyn, interessante karakters en ’n bietjie romanse, sal jy Déjà Vu geniet. Dis nie haar mees intense werk nie, maar dit is beslis een wat jou laat dink én voel.
Dankie aan LAPA Uitgewers vir die geleentheid om hierdie boek te lees