Sarah het geen begeerte om met grasie oud te word nie. Sy dra onpaar oorbelle, ’n groot sonbril en haar hare is bloedrooi gekleur. Wat sy wel nie op haar ouderdom verwag het nie, is om na haar 55ste martriekreünie genooi te word. En boonop vereis die uitnodiging dat sy ’n metgesel saambring – wat sy, ’n weduwee, wáár moet kry? Sy is nuuskierig oor die affêre, maar om na haar grootworddorp terug te keer gaan ou wonde oopkrap. En sy gaan vir Franco, die hartevertrapper, weer in die oë moet kyk!
Kristel Loots bly knus agter die boereworsgordyn in die Kaap. Sy luister na die stories om haar en skryf graag oor die vroue wat sy hier – en elders – raakloop. “Gewone” voorstedelike vroue, soms met voorskote om die geronde heupe, ander tye weer modieuse stadsbewoners in stylvolle stiletto’s wat vir niks skrik nie. Of oor “anderste” vroue, verskillende vroue, vroue met issues. Want menswees en veral vrouwees en die vele fasette daarvan fassineer haar. Vroue is stunning en dikwels die hoeksteen wat huis en haard aanmekaar hou en elke vrou het ’n storie.
Onse Sarah het meer as net ʼn naam gemeen met die Bybelse Sara. Beide het gelag by die gedagte aan bejaarde katelkaskenades: “Sal ek wellus hê noudat ek oud geword het...?” (Genesis 18:12) In Sarah se geval was dit nie ‘n engel wat die tyding gebring het nie, getrou aan die moderne era het die nuus per e-pos opgedaag; hulle matriekklas, almal nou óf saliger óf ‘n sewentigplusser, hou hulle vyf en vyftigste reünie.
As weduwee wat meestal met haar potplante en kleinseun praat, is die soektog na ‘n gepaste metgesel ‘n dilemma. Sarah is allermins ‘n bedeesde verdraer van die onvermydelike uitdoof van die lig, sy veg daarteen in ware Dylan Thomas-styl. Haar hare is bloedrooi, sy dra modieuse, veterlose tekkies, onpaar oorbelle, is ‘n kenner van die kamoefleerkuns met die aanwending van ‘n winkeltrollie as stabiliteit eerder as ‘n kierie, en verkies ‘n mooi bril bo ‘n funksionele.
En ‘n metgesel is ‘n moet. Want die persoon wat die uitnodiging gestuur het, is Franco Fourie. “Maar vandag sien sy sowaar weer sy naam, die naam wat sy al ‘n leeftyd in haar hart ronddra. En in ‘n geheime kamer in haar hart versteek.” (15)
Sarah se soektog na Meneer Reg is ‘n driewielfiets wat eerstens amusante uitkomste tot gevolg het, maar ook twee addisionele spore trap. Sy word opnuut met haar eie veroudering en verganklikheid gekonfronteer: “Wanneer het alles so verander? Haar oë dowwer, haar mond meer knoopsgaatjie, hoekom sien sy haar ouma wanneer sy na haarself kyk?” (181) Daarmee saam moet sy ook die verlede in die oë kyk, want haar grootworddorp gooi ‘n skaduwee, veral oor die herinneringe aan haar pa. Voorheen was hy “...Robin Hood, Wolraad Woltemade, die dissipel Johannes en Superman, alles in een.” (72) Maar dit was voordat die waterskeidende dag van die dertiende aangebreek het. “Daar is besluit haar pa is skuldig en sy gesin dus ook.” (58)
Loots ondersoek al die fasette van vrouwees in haar skryfwerk met ‘n treffende kombinasie van humor en relevansie. In Sarah se geval word die aanslae van veroudering, gekompliseerde familiebande, en jeugdige teleurstellings wat onder papierdun pleisters verberg is, op ‘n vermaaklike en empatiese wyse aangebied.
Onpaar oorbelle, ’n bos vuurrooi hare wat soms lyk na Moses se besembos, ’n verskeidenheid brille omdat die oë nie meer mooi kyk nie en jare wat die sewentigmerk lankal oorgesteek het. Dit is dié Sarah wat Kristel Loots aan ons bekend stel. En natuur is daar die pille, “so fênsie, die mediese fonds betaal glad nie daarvoor nie.” (p.274) Lees jy verby die kenmerkende skerp humor van hierdie skrywer, ontdek jy groot lewenservaring, wysheid, hartseer, vertroebelde verhoudings, onsekerheid oor die ouderdom se uitdagings. Daar is nostalgie: die His Master’s Voice-draadloos, Spiekeries Viviers wat ons onbehoorlik vroeg op ’n Saterdagoggend voor die radio gehad het wanneer die rugbyspanne oorsee speel. Ook onbeantwoorde liefde wat opnuut kom pla wanneer ’n uitnoding na ’n 55 jaar reünie Sarah se geordende bestaan kom omkrap. Wat volg is ’n uiters vermaaklike reis saam met Sarah, haar soeke na ’n plus een, wat uiteindelik uitloop op Sarah plus drie. Siegfried, haar gunstelingkleinseun, is ’n kosbare element van die storie, en ’n paar onverwagte wendings sorg dat die storielyn nie voorspelbaar word nie. Sarah plus een is uitgegee deur Queillerie, ’n druknaam van NB Uitgewers. Ek kan dit aanbeveel vir ’n lekker vinnige lees, wat jou gaan laat lag en laat nadink.