Jump to ratings and reviews
Rate this book

Sarah plus een

Rate this book
Sarah het geen begeerte om met grasie oud te word nie. Sy dra onpaar oorbelle, ’n groot sonbril en haar hare is bloedrooi gekleur. Wat sy wel nie op haar ouderdom verwag het nie, is om na haar 55ste martriekreünie genooi te word. En boonop vereis die uitnodiging dat sy ’n metgesel saambring  – wat sy, ’n weduwee, wáár moet kry? Sy is nuuskierig oor die affêre, maar om na haar grootworddorp terug te keer gaan ou wonde oopkrap. En sy gaan vir Franco, die hartevertrapper, weer in die oë moet kyk!

252 pages, Kindle Edition

Published September 8, 2025

Loading...
Loading...

About the author

Kristel Loots

53 books14 followers
Kristel Loots bly knus agter die boereworsgordyn in die Kaap. Sy luister na die stories om haar en skryf graag oor die vroue wat sy hier – en elders – raakloop. “Gewone” voorstedelike vroue, soms met voorskote om die geronde heupe, ander tye weer modieuse stadsbewoners in stylvolle stiletto’s wat vir niks skrik nie. Of oor “anderste” vroue, verskillende vroue, vroue met issues. Want menswees en veral vrouwees en die vele fasette daarvan fassineer haar. Vroue is stunning en dikwels die hoeksteen wat huis en haard aanmekaar hou en elke vrou het ’n storie.

Ratings & Reviews

What do you think?
Rate this book

Friends & Following

Create a free account to discover what your friends think of this book!

Community Reviews

5 stars
4 (26%)
4 stars
5 (33%)
3 stars
4 (26%)
2 stars
2 (13%)
1 star
0 (0%)
Displaying 1 - 5 of 5 reviews
Profile Image for Anschen Conradie.
1,549 reviews89 followers
Read
November 26, 2025
#SarahPlusEen – Kristel Loots
#Queillerie

Onse Sarah het meer as net ʼn naam gemeen met die Bybelse Sara. Beide het gelag by die gedagte aan bejaarde katelkaskenades: “Sal ek wellus hê noudat ek oud geword het...?” (Genesis 18:12) In Sarah se geval was dit nie ‘n engel wat die tyding gebring het nie, getrou aan die moderne era het die nuus per e-pos opgedaag; hulle matriekklas, almal nou óf saliger óf ‘n sewentigplusser, hou hulle vyf en vyftigste reünie.

As weduwee wat meestal met haar potplante en kleinseun praat, is die soektog na ‘n gepaste metgesel ‘n dilemma. Sarah is allermins ‘n bedeesde verdraer van die onvermydelike uitdoof van die lig, sy veg daarteen in ware Dylan Thomas-styl. Haar hare is bloedrooi, sy dra modieuse, veterlose tekkies, onpaar oorbelle, is ‘n kenner van die kamoefleerkuns met die aanwending van ‘n winkeltrollie as stabiliteit eerder as ‘n kierie, en verkies ‘n mooi bril bo ‘n funksionele.

En ‘n metgesel is ‘n moet. Want die persoon wat die uitnodiging gestuur het, is Franco Fourie. “Maar vandag sien sy sowaar weer sy naam, die naam wat sy al ‘n leeftyd in haar hart ronddra. En in ‘n geheime kamer in haar hart versteek.” (15)

Sarah se soektog na Meneer Reg is ‘n driewielfiets wat eerstens amusante uitkomste tot gevolg het, maar ook twee addisionele spore trap. Sy word opnuut met haar eie veroudering en verganklikheid gekonfronteer: “Wanneer het alles so verander? Haar oë dowwer, haar mond meer knoopsgaatjie, hoekom sien sy haar ouma wanneer sy na haarself kyk?” (181) Daarmee saam moet sy ook die verlede in die oë kyk, want haar grootworddorp gooi ‘n skaduwee, veral oor die herinneringe aan haar pa. Voorheen was hy “...Robin Hood, Wolraad Woltemade, die dissipel Johannes en Superman, alles in een.” (72) Maar dit was voordat die waterskeidende dag van die dertiende aangebreek het. “Daar is besluit haar pa is skuldig en sy gesin dus ook.” (58)

Loots ondersoek al die fasette van vrouwees in haar skryfwerk met ‘n treffende kombinasie van humor en relevansie. In Sarah se geval word die aanslae van veroudering, gekompliseerde familiebande, en jeugdige teleurstellings wat onder papierdun pleisters verberg is, op ‘n vermaaklike en empatiese wyse aangebied.

#uitdieperdsebek
Profile Image for Amanda.
1,206 reviews
October 26, 2025
Onpaar oorbelle, ’n bos vuurrooi hare wat soms lyk na Moses se besembos, ’n verskeidenheid brille omdat die oë nie meer mooi kyk nie en jare wat die sewentigmerk lankal oorgesteek het. Dit is dié Sarah wat Kristel Loots aan ons bekend stel. En natuur is daar die pille, “so fênsie, die mediese fonds betaal glad nie daarvoor nie.” (p.274)
Lees jy verby die kenmerkende skerp humor van hierdie skrywer, ontdek jy groot lewenservaring, wysheid, hartseer, vertroebelde verhoudings, onsekerheid oor die ouderdom se uitdagings. Daar is nostalgie: die His Master’s Voice-draadloos, Spiekeries Viviers wat ons onbehoorlik vroeg op ’n Saterdagoggend voor die radio gehad het wanneer die rugbyspanne oorsee speel. Ook onbeantwoorde liefde wat opnuut kom pla wanneer ’n uitnoding na ’n 55 jaar reünie Sarah se geordende bestaan kom omkrap.
Wat volg is ’n uiters vermaaklike reis saam met Sarah, haar soeke na ’n plus een, wat uiteindelik uitloop op Sarah plus drie. Siegfried, haar gunstelingkleinseun, is ’n kosbare element van die storie, en ’n paar onverwagte wendings sorg dat die storielyn nie voorspelbaar word nie.
Sarah plus een is uitgegee deur Queillerie, ’n druknaam van NB Uitgewers. Ek kan dit aanbeveel vir ’n lekker vinnige lees, wat jou gaan laat lag en laat nadink.
16 reviews2 followers
February 12, 2026
Sarah het geen begeerte om met grasie oud te word nie. Sy dra onpaar oorbelle, ’n groot sonbril en haar hare is bloedrooi gekleur. (Die bloedrooi hare laat my wonder of Kristel dalk tong in die kies haarself as model vir Sarah gebruik het) Sy bly nog in haar eie plekkie en kuier net van tyd tot tyd saam met ander tydgenote by die Handige Handjies-groep waar hulle hekel en brei en stories uitruil. Nie dat Sarah self hekel nie – sy weet glad nie hoe om ‘n hekelpen te gebruik nie – haar kleinseun, Siegfried, het homself leer hekel in ‘n poging om sy geliefde ouma te help. Nou word hy verplig om haar spogblokkies namens haar te hekel sodat sy nie uitgevang word nie.
Tot op die rype ouderdom van 73 jaar het Sarah en haar klasmaats nooit ‘n matriekreünie gehad nie. Sarah is dus baie verbaas toe ‘n epos in haar inboks land waar sy en haar plus een uitgenooi word na hul 55 ste reünie. En om die kroon te span kom die epos van haar destydse crush, Franco Fourie.
Waar moet sy, ‘n weduwee, ‘n plus een uitgrawe? En dit op haar ouderdom. Dalk moet sy op die dating apps na iemand soek. Daar is tog heelwat plekke wat mans per uur uithuur. Maar dis gewoonlik jong spiertiere, nie mans van ouderdom nie. En dit sal nie betaamlik wees as sy met ‘n jong bok daar opdaag nie.
Sarah plus een is lekker ligte, komiese vermaak. Maar dit spreek wel ernstige kwessies aan soos ouderdom wat mens inhaal en alles wat daarmee gepaard gaan. Dit raak ook verhoudingsprobleme, verwerping en wrokke wat saamgedra word, aan. Dit is alles behalwe ligte onderwerpe, maar Kristel Loots weef dit so mooi in die verhaal in dat dit nie ‘n mens met ‘n swaarmoedigheid agterlaat nie.
Die pragtige verhouding tussen Sarah en haar kleinseun, Siegfried, laat ‘n warm gevoel in mens se binneste. Dit is so lekker om te sien hoe die twee met mekaar skerts en hoe op sy gemak hy met sy ouma is. “Jinne Ouma, jy kan nie eens die wysheid van die grysheid met my deel nie, want jy kleur jou hare.” “Ouma, jy moenie jou marbles staan en verloor nie hoor, met wie gaan ek dan nonsens praat?”
Ek onthou uit my jongdae die sogenaamde Trust Bank meisies. Hulle het altyd kort rokkies en “hoë hare” gehad. Daardie meisies was die ‘elite’ van die bank en meer vir vertoon as werksdoeleindes aangestel.
Sarah was in haar jeug een van daardie Trust Bank meisies. Loots skryf van die Trust Bank girls wat so gespog het met die hoogste hare en kortste minirokkies. Die stewels tot by die knieë en polonektruie in die winter en halternekrokkie in die somer. Vir Sarah wat op skool as die vet een bekend gestaan het, was dit ‘n groot prestasie om een van die Trust Bank-meisies te wees.
Die skandaal met die destydse dorpsfees word ook weer uit die sloot gegrawe en hang soos ‘n donker wolk om Sarah. Sal sy na 55 jaar uiteindelik uitsluitsel kry oor dit wat werklik destyds gebeur het?
En hoe sal sy en Franco na al die jare teenoor mekaar optree? Want sy het in haar skooldae ‘n erge crush op hom gehad, maar hy het haar nooit raakgesien of aandag aan haar gegee nie.
Ek het heerlik gelees aan hierdie boek en ek glo lesers wat van Kristel Loots se boeke hou, en ook die wat Rudie van Rensburg se Hans-reeks geniet het, sal groot byval hierby vind.
#irmaink




Profile Image for Roelia (Roelia Reads).
475 reviews1 follower
February 23, 2026
Sarah Plus Een deur Kristel Loots is ’n heerlike, hartverwarmende roman wat humor en menslikheid op ’n besonderse manier kombineer. Die verhaal volg Sarah, ’n 73‑jarige weduwee met vuurrooi hare, onpaar oorbelle en ’n lewenslus wat glad nie by haar ouderdom pas nie. Wanneer sy onverwags ’n uitnodiging ontvang na haar 55‑jaar matriekreünie, met die vereiste dat sy ’n metgesel saambring, word haar rustige bestaan behoorlik deurmekaar geskud. Die feit dat die uitnodiging van haar ou skoolliefde, Franco Fourie, afkomstig is, maak dit net meer ingewikkeld.

Wat die boek egter besonders maak, is die warmte en diepte onder die humor. Loots skryf met groot empatie oor veroudering, ou teleurstellings, familiebande en die onverwagte maniere waarop die verlede ons steeds vorm. Die verhouding tussen Sarah en haar kleinseun, Siegfried, is ’n hoogtepunt; liefdevol, snaaks en ongelooflik eg.

Die roman is lig en maklik om te lees, maar nooit oppervlakkig nie. Dit laat jou glimlag, maar ook nadink oor die mooi en die broosheid van menswees. ’n Aanbeveling vir enigeen wat hou van karaktergedrewe stories met humor en hart.

Met dank aan Jonathan Ball Publishers Quellerie
Displaying 1 - 5 of 5 reviews