#Sweetie – Nataniël
#HumanEnRousseau
Baie lank gelede, toe die Dooie See nog net siek was, was ek ‘n beginner-aanklaer in ‘n ander provinsie. My een hofordonnans was ‘n ernstige jong konstabel, wat vir my heeltyd so half bekend gelyk het. Later het hy my vertel dat hy Nataniël se broer, Erik is. Baie dinge het intussen verander – maar ek bly ‘n aanhanger.
Die voorkoms van sy nuutste bundel is so flambojant soos die skrywer self. Die blou budgie aan die regtekant van die voorblad dien as ‘n maatstaf van leesvordering vir die teks; elke hoofstuk het ‘n klein afbeelding daarvan in die kantlyn, hoe verder die leser in die boek vorder, hoe laer sak die prentjie. Toegegee, ek het eers gedink dis ‘n vuil kol, maar dis voordat ek my bril opgesit het.
Die 31 stories, vyf daarvan in Engels, is afkomstig vanuit verskeie verhoogproduksies van die afgelope twee jaar, en elkeen getuig van die skrywer se unieke waarnemingsvermoë. Oudergewoonte is die aard van die bydraes uiteenlopend, die oog van die kunstenaar sien immers selfs in die alledaagse potensiaal vir vermaak.
Selfspot is ‘n integrale deel van die humor; oor sy eerste sien van die see rapporteer die skrywer: “...al wat ek kon sien, was ‘n baie groot wasmasjien met ‘n oop deur...” (18) en ‘n huweliksbevestiging word opgesom as: “...dat ek gesit en kyk het hoe Julius Caesar se soldate trompet speel terwyl my niggie se beursie...sing...” (165)
Sosiale kommentaar, ingekleur met donker humor, is volop. Oor geprosesseerde kaas: “...millions of people buy and eat these thin slices of yellow misery which then lead to mood swings, violence and racist behaviour” (28), oor ‘n veelkleurige jas: “...dit lyk bietjie asof twee bruide smelt aan weerskante van ‘n visdam...” (109), oor die foto’s van eiendomsagente in die openbaar: “Het jy al ooit ‘n dokter op ‘n bord sien sit en sê, Vertrou my met jou mangel?” (116), en oor daardie klein, stywe mansbroekies: “...dit lyk asof elkeen ‘n kalkoen vermoor...” (143)
Sy voorkomsbeskrywings tower denkbeeldige gesigte met fyn detail voor die geestesoog op: “...as jy lank met hom praat, is jou eerste paar treë daarna ‘n bietjie skeef...” (46); “...sy was altyd Dooietannie genoem omdat haar oë nie tot heel onder geknip het nie, dit het gelyk of hulle wag vir ‘n polisieman se vingers” (70), en “...daar was altyd ‘n dun krakie bokant haar bolip en dit het haar neus laat lyk soos iets wat jy kon oplig soos ‘n klopper teen ‘n voordeur.” (159)
Daar is ook die verhaal van die loodgieter, Voldemort, na wie niemand mag kyk nie, spekulatiewe fiksie waarin tydsreise moontlik is vir enigeen wat drie keer links om draai in die onmiddellike omgewing van oranjekleurige vloeistof, finansiële status wat in Smarties gemeet word, en ‘n kitskuur om mense te oorreed om hulle oë oop te maak: “...steek dan...’n voet uit asof daar ‘n pedaal is wat sou help om dit te laat oopgaan.” (126)
Nataniël se humor is tydloos en uniek, meer as ‘n vinnige giggel, eerder ‘n grinnik met stof tot nadenke.
#uitdieperdsebek