#MetAnderWoorde – Wilna Adriaanse
#Tafelberg
Dit kan oorloë veroorsaak, maar ook die motivering agter ʼn wit vlag wees; dit kan harte breek én heelmaak; dit kan in oormaat gebruik word, of glad nie, en ons almal soek soms daarna, veral wanneer oorgebruik clichés tot gevolg het en ons ander benodig.
Woorde.
Daar is ook soms gebeurtenisse wat so traumaties is dat woorde daarvoor ontbreek; wanneer die liggaam rou, maar die tong hardnekkig swyg. Kristina Lazarus, ‘n finalejaar LLB-student, het oudergewoonte in Stellenbosch gaan draf: “Haar voete ken die pad soos voëls elke jaar hulle pad na die somer vind. Haar hartklop gee die pas aan en haar asem is wit ontploffinkies voor haar mond.” (7) Sy daag egter nie weer op by die studentehuis wat sy met Helen en Cato deel nie, en word in ‘n oënskynlike toestand van skok gevind met geen waarneembare beserings nie, maar ook met geen herinnering aan wat met haar gebeur het tydens die ure wat sy vermis was nie.
Amnesie is nie die enigste bron van bekommernis nie; die Kristina wat met haar drafskoene in die pad geval het, is nie dieselfde Kristina wat in die vroeë oggendure gevind was nie; die eens sorgvrye student is apaties, angstig en ‘n vreemdeling vir haarself en andere: “Sy laat my dink aan ‘n huis wat altyd verlig was en nou skielik is al die ligte dood.” (65)
Ben Krige het, op sigwaarde, ‘n silwer lepel in die mond. As gerekende psigiater met ‘n filmster-voorkoms aan die hoof van ‘n eksklusiewe kliniek, ontbreek dit hom nie aan bewonderaars nie. Sy kinderjare het egter verseker dat sy emosies agter doringdraad bewaar word en die enigste mense wat bekend is met sy binnewêreld, is sy skoolvriend Willem, en sy vrou, Lise. ‘n Ingrypende gebeurtenis het veroorsaak dat hy weier om studente as pasiënte te aanvaar, maar hy kan kwalik Willem se versoek weier om Kristina in sy professionele hoedanigheid by te staan.
Die roman ondersoek die manifestasies van die reaksies op trauma, die mag van woorde om te genees, die terugvind van taal wanneer dit ten diepste verborge geraak het, en keer die vooroordele en negatiewe konnotasies aangaande psigiatriese klinieke en behandeling op sy kop. Kristina verkies om deur middel van aanhalings te kommunikeer aangesien dit haar aan woorde ontbreek en, wanneer sy wel gevoelens kan verbaliseer, herken sy haarself nie daarin nie: “Ek is die skerwe wat nooit weer gaan pas nie en nie regtig meer waarde het nie. My vingerpunte het hulle sensasie verloor en my voete vind nie meer vanself hul pad vorentoe nie. My eie naam het vir my vreemd geword. Ek ís nie meer nie.’ (172)
Ben word gekonfronteer met sy eie verval in niksseggende clichés, en moet opnuut semantiek en betekenis ondersoek. ‘n Gesprek tussen hom en Kristina wat die begrip ‘gesond’ ondersoek, is ‘n voorbeeld hiervan, en stel hom uiteindelik in staat om te kan sê: “Ek dink ons is gesond wanneer die goeie én die slegte in ons denke en gedrag geïntegreer word en ons steeds ‘n goeie skoot optimisme behou.” (224)
Die roman se eerste publikasie was in 2006, en die heruitgawe getuig van die tydlose relevansie van die gekose temas. Min het sedert die eerste verskyning van die teks verander, die enigste moontlike uitsondering is kommunikasie deur middel van sms’e wat sedertdien grootliks deur WhatsApp-boodskappe vervang is. Dit doen egter geen afbreuk aan die waarheid dat ons steeds dikwels na ander woorde soek wanneer die tam gebruiktes nie meer aan ons behoeftes voldoen nie.
#uitdieperdsebek