Ami het geweet die dag gaan kom dat sy moet afskeid neem van Paul de Jager, die afgetrede polisiegeneraal wat met mening teen alzheimers baklei het. Maar wat sy nie verwag het nie, is sy laaste opdrag aan haar: Sy moet met die hulp van sy drie eksvroue na ’n stokou onopgeloste saak kyk. Die drie weduwees, soos hulle genoem word, is aanvanklik ewe min lus om aan Paul se versoek gehoor te gee. Niemand kon dan al bepaal hoe ’n vyftienjarige seun van Pretoria in 1998 op pad kafee toe met net R20 in sy sak verdwyn het nie. Met haar eerste besoek aan die Moot besef Ami dat Eberhard Gouws se ma nog lank nie moed verloor het dat haar kind gaan huis toe kom nie. Teen haar sin begin sy al hoe dieper in die raaisel ingetrek word, die halwe waarhede en leuens wat een vir een begin kop uitsteek. En toe verdwyn nog ’n kind . . .
Irma Venter is a thriller writer. She writes books about strong women, interesting men and that fascinating space between right and wrong. Her first book, Skoenlapper, was published in 2012, in Afrikaans. Six of her books have been translated.
Irma Venter is 'n misdaadskrywer. Haar eerste boek word in 2012 gepubliseer. Skoenlapper word gevolg deur Skrapnel, Sondebok, Skarlaken, Sirkus, Sondag en Sewe-en-veertig. Minder as Niks verskyn in 2021, en is die begin van 'n nuwe krimireeks met Ami Prinsloo as die hoofkarakter. Die Verkeerde Vrou is die tweede boek in die reeks, gevolg deur Al Wat Tel. Die vierde boek in die Ami-reeks het pas verskyn – Die Drie Weduwees.
“Soms verwens sy hierdie ding in haar wat moet weet.” (p.326) Hierdie paar woorde sê baie oor ondersoekende misdaadjoernalis, Ami Prinsloo. Sy is onverskrokke, hardkoppig, hou op ’n aweregse manier altyd so na as moontlik aan die waarheid. En sy laat ’n ding nie los nie, nie eers wanneer sy bedreig word of onmin op die hals haal nie. Wanneer haar goeie vriend, afgetrede polisiegeneraal, Paul de Jager, sterf aan ’n koeëlwond, word Ami belas met sy laaste wens, naamlik om ‘n ou saak weer te besoek, dié van ’n vyftienjarige seun wat in 1998 spoorloos verdwyn het. Paul was drie maal getroud, vandaar drie weduwees wat almal ’n rol speel in die ondersoek waarby Ami al hoe dieper betrokke raak. Die interessante storielyn wat vinnig beweeg, het my vasgenael gehou. Ek het ook baie gehou van die manier waarop die skrywer die gebeure in 1998 aangebied het, en wel vanuit die gesigspunt van verskeie rolspelers wat betrokke was. Die drie weduwees is die vierde boek in die reeks oor Ami Prinsloo. Dit volg op Minder as niks, Die verkeerde vrou en Al wat tel. Ek het al bes gegee met reekse, kan eenvoudig nie al die vorige detail onthou nie, maar nogtans kon ek hierdie een met gemak lees en waardeer. Wat weereens bewys watter uitmuntende krimiskrywer, Irma Venter is. Die drie weduwees is uitgegee deur Tafelberg, ‘n druknaam van NB uitgewers, nou onder die vaandel van Jonathan Ball Uitgewers.
Dit is seldsaam dat ’n afgestorwe karakter só lewendig tot ’n verhaal bydra. Paul se teenwoordigheid is deurgaans voelbaar. Waaroor ek steeds wonder, is hoekom hy telkens getrou het met die vrou wat hom bygestaan het tydens ’n ondersoek. Was hy regtig lief vir hulle? Dit is waarskynlik nie die belangrikste vraag nie, maar hulle was nodig vir die storielyn.
Veel swaarder weeg die taak wat op Ami se skouers rus. Ek het myself afgevra wat die arme kind nog kan doen wat nie reeds gedoen is nie Irma Venter ontbloot haar arsenaal bewyse stadig en doelbewus. Só vaardig, dat die leser tot die einde toe vermoedens tussen verskeie verdagtes laat ronddryf. Dit word gou duidelik dat Ami ’n besonder interessante karakter is—iemand wat elke leser móét leer ken. Stout maar slim. Voëltjie maar leeu. Niks gaan by haar verby nie, ook nie die blywende vraagteken rondom Paul se selfdood nie. Die Drie Weduwees is ’n sterk speurverhaal met knap spanningsbou en uitstekende karakterisering. Baie geluk, Irma Venter, met ’n besonder goed geskrewe boek.
Numerologie beskou die syfer as simbolies van harmonie; die eenheid van een, gekombineerd met die dualiteit van twee, verskaf ‘n gebalanseerde spektrum. Verskeie spirituele beginsels draai om die syfer, en selfs die siklus van alles wat lewend geag word, word in drie stadiums beoordeel: geboorte, lewe en dood.
In legendes en sprokies speel die getal ‘n ewe bekende rol: Gouelokkies was met drie bere gekonfronteer, daar was drie varkies, wense word in drieë uitgedeel, ensovoorts. Idiome getuig van die kulturele invloed uitgeoefen deur die getal, en in sport is daar drie tipes medaljes: goud, silwer, en brons.
In beide hierdie romans is die syfer drie van belang; in Roulette speel ‘n drieling ‘n kardinale rol, en in Die drie weduwees is drie gewese vroue van dieselfde man die spil waarom ‘n raaisel draai.
Hier is nog drie punte van ooreenstemming: 1. Die hede word beïnvloed deur ‘n onreg bykans drie dekades gelede gepleeg. 2. Fiela Komoeti se woorde, dat ‘n onreg teenoor ‘n kind nie vergewe word nie, staan sentraal in die verhaal. 3. Die karakters, Sollie Mthembu en Ami Prinsloo, word vir die vierde keer ingespan as protagonis. Beide is kinematografiese spanningsverhale, perfek vir die leunstoelspeurder.
‘n Vriendin wat net so leesverslaaf soos ek is vra my oor die naweek “So hoe is die nuwe Irma Venter?”. My antwoord was eenvoudig dat ek dit heeltemal te vinnig klaar gelees het. Te vinnig, want neersit kan mens nie, maar ook te vinnig want dan moet ons weer heeltemal te lank wag vir ‘n nuwe een. Dit is die dilemma met ‘n nuwe boek van ‘n gunstelingskrywer. Die lekker is té vinnig verby soos ‘n Royal Danish roomys op ‘n snikhete dag. (As jy nie weet wat Royal Danish is nie moet jy in Colbyn, Pretoria tog ‘n draai maak. Dit is so net voor die drumpel van die Moot.)
Ami Prinsloo is ‘n karakter wat haarself nou al lekker tuisgemaak het in die kollektiewe Afrikaanse karakters waarmee lesers soos ek saamleef. Met haar gedrewe denkwyse, slim ondersoeke en kwesbare hart is sy ‘n heerlike karakter wat met elke boek nog bietjie beter nesskop in ons harte. In hierdie boek meld vier heerlike karakters aan om die storie te help vertel – Amie se mentor Paul se drie weduwees en sy suster Delia. Dit is heelik om so goeie beeld van elkeen te kan vorm in jou kop so met die lees saam – elkeen met haar unieke kwaliteite. Soos met die ander Ami Prinsloo boeke raak die boek en die karakters se ondervindings mens aan die hart. As ‘n bonus is dit altyd lekker om bekendes uit die skrywer se vorige boeke raak te loop – al is dit net ‘n Klein kameerol in hierdie boek.
Paul laat met sy afsterwe ‘n opdrag aan Amie – vind uit wat het gebeur met Ebbie Gouws – ‘n 15 jarige seun wat in 1999 in die Moot in Pretoria verdwyn het. Dit is ‘n saak wat Paul nooit kon oplos nie maar die vraag bly steeds hoekom hy juis nou die opdrag vir Ami gee. Sy drie weduwees moet haar help met die saak en Ami kry ook ‘n rooi koevert om te lees met sy gevolgtrekkings. Terwyl Ami besig is verdwyn ‘n seun in die Moot en skielik word haar ondersoek meer dringend.
Hierdie een het my aan die raai gehou tot baie naby aan die einde. Ek maak gewoonlik ‘n merkie met ‘n “sticky note” as ek dink ek weet wie die moordenaar is en las by soos ek aangaan. Dit is ‘n lekker speletjie om na terug te kyk as jy uitvind wie dit gedoen het. Met hierdie boek was daar nie een so vlaggie met die regte antwoord waarna ek kon terugkyk toe die moordenaar ontbloot is nie. Ek was geheel onkant gevang en dit is so lekker want deesdae raai ek al meer te vroeg wie die skuldige is. Ek dink dit is wat té veel krimi lees moontlik doen aan mens. Die storielyn is fasinerend en by tye uiters spannend. Daar is ook ‘n terugwysing na ‘n vorige boek wat Irma se aanhangers dadelik sal snap en sy eie vrae en morele dilemma weer na vore bring.
Ek self het grootgeword en skoolgegaan in die Moot – die karakter van die omgewing word so goed beskryf. Dit is een van daardie areas waar die armstes met die rykes bymekaarkom in een skool. Waar die kafee op die hoek nog bestaan en waar ‘n sin van gemeenskap altyd geheers het. Hierdie boek oortuig my dit moet steeds so wees. Die buurt is aan’t ware ‘n karakter self.
“Die die weduwees” is ‘n heerlike krimi. Ek is net spyt ek het haar nie gebêre vir die vakansie nie want ek het nogal ‘n bietjie slaap in ‘n baie besige werkstyd verloor terwyl ek die boek gelees het.
Hierdie was fantasties. Ek weet eintlik nie wat om nog te sê nie net dat dit regtig fenomenaal was. Seker een van die beste boeke wat ek hier jaar gelees het.
Ami Prinsloo was hartseer om te hoor oor die skielike afsterwe van haar mentor, Paul de Jager. Hy het haar egter gelos met ‘n ou boeiende dossier – die verdwyning van Ebbie Gouws in Moot, Johannesburg. Die saak het in sy eie buurt gebeur en het hom deur die jare erg gepla.
Ami gesels met Paul se drie weduwees, Ebbie se ma en die ander mense in die area. Alles wys na die skuldige pedofiel wat in die area doenig was ten tyde van Ebbie se verdwyning. Maar hy het dit nooit erken nie en daar is geen bewyse teen hom nie. Ami begin nou krap waar dit nie jeuk nie en die klein gemeenskap se geheime kom satdig maar seker na vore.
Toe nog ‘n seun in die area verdwyn, voel dit vir Ami asof tyd uithardloop en die wette en reëls teen haar is, ipv vir die slagoffers. Gaan Ami daai lyn oortree om iemand potensieël te red, of gaan sy magteloos staan en toekyk hoe alles in chaos verander. Snaaks hoe so ‘n ou saak so baie wonde kan oopkrap.
My lesersindruk: Ek is maar ‘n aanhanger van Ami Prinsloo en hierde boek was geen uitsondering nie. Al die interessante karakters, die motiewe, die lang en uitmergelende ondersoek wat alles tot gevolg het. Ek haal my hoed af vir haar! Ek hoop daar kom nog ‘n Ami Prinsloo boek uit!