#Skorpio – Deon Meyer
#HumanEnRousseau
Bennie Griessel en Vaughn Cupido gee nuwe betekenis aan die vinkel-en-koljander-idioom. In teenstelling met die kruie wat soortgelyk in voorkoms, maar verskillend in smaak is, verskil die skraal-en-vaal alkoholis en die flambojante gastronoom soos dag en nag, maar word ewe gereeld as die kruie in dieselfde asem genoem. En wanneer Deon Meyer hulle vir literêre diens oproep, is die leser moord en spanning, met ‘n politieke geurtjie, gewaarborg.
Skorpio is geen uitsondering nie. In ware Meyer-styl krap die leunstoelspeurder saam kop om te probeer ontsyfer hoe ‘n skaapwagtershut, ‘n karavaan, en die agterdogwekkende dood van ‘n privaatspeurder met mekaar verband hou. Die kopkrappery ontaard in die uitpluk van hare wanneer die ontsyfering van die leidrade in dringendheid toeneem, lyke opstapel, en dit duidelik word dat die horlosie onverbiddelik na ‘n internasionale ramp aftik.
Griessel se stryd om nie van die waterkar af te tuimel nie, verkry ‘n nuwe dimensie en die leser word dieper as gebruiklik in sy psige toegelaat. ‘n Kombinasie van tegnieke word hiervoor aangewend: Die transkripsie van ‘n onderhoud met ‘n joernalis word op toepaslike stadiums by die teks, in kursief gedruk, ingesluit, asook sy eie insig aangaande sy internalisering van verwonding, naamlik “Hy beleef die oomblik van dood te intens. Asof dit met hóm gebeur, asof hy die een is wat so skreeuend aan die lewe wil vasklou terwyl die dood hom insluk.” (41) en Cupido se belewing daarvan, uitgespreek tydens ‘n onderhoud met ‘n getuie, “Jy’s ma net sensitive gebou, jy moet ‘n way kry om te cope, want jy vat die trauma diep.” (266), kombineer om lesersbetrokkenheid en empatie te verseker en te behou.
Cupido se stryd teen die skaal word eweneens ontleed om aan hom ‘n weerloosheid ten spyte van sy gladde tong te verskaf: “Wys jou net, ons manne het ook feelings. We just express them differently.” (133) Sy moedige pogings om objektiwiteit te behou ten spyte van die feit dat een van die oorledenes ‘n persoonlike vriend van hom was, dra ook by tot sy ontwikkeling as karakter; van grapjas- allesweter tot sensitiewe (soms) onsekere.
Spanning word afgewissel deur humor, dikwels verskuil in ironie. ‘Silwertong’ Cupido vergeet wat ‘n skaapwagtershuisie in Engels is (252), bevelvoerder Witkop Jansen se uittrapsessies word voorafgegaan deur Skriflesing en gebed (289), en die onduidelike spraak van ‘n brandingenieur lei tot die bynaam ‘Dok Mompelman’ (169).
Meyer se fenomenale talent om ‘n sterk, relevante spanningslyn te skep kan nie ontken word nie, maar sy internasionale gewildheid en sukses as skrywer is gegrond op sy uitsonderlike vermoë om veelvlakkige en realistiese karakters te skep. Selfs diegene wat grootliks op die periferie verskyn, word nie afgeskeep nie. ‘n Verdagte word evokatief beskryf as “...die borselkop het humeurige grys aan die slape.” (173), die bekendstelling van Kolonel Witkop se persoonlike lewe, “Hy is kaalvoet, dra ‘n kortbroek en T-hemp, sy tenger, beplooide lidmate sigbaar.” (97) laat die leser met nuwe oë na hom kyk, en Griessel se intense belewenis van die opinie van sy kinders, “Maar hier, by die kampvuurwarmte van sy seun se trots, wil hy net die knusheid daarvan nou geniet.” (337) maak van ‘n spanningsroman ‘n kragtoer van emosie en meelewing.
#uitdieperdsebek