#Heks – Dibi Breytenbach
#Queillerie
In die jaar 2024 in sonnige Suid-Afrika kan jy tot twintig jaar as gas van die Departement Korrektiewe Dienste deurbring as jy iemand ‘n heks noem. Want in sommige kulture kan so ‘n bewering steeds ‘n lewe kos. In ander is ‘n heks ‘n vriendelike, ietwat dom, dogtertjie met ‘n kat genaamd Mattewis, in sprokies is sy dikwels ‘n knorrige ou tante met ‘n moesie en ‘n ewig pruttende pot, en as skelwoord verwys dit dikwels na ‘n persoon, gewoonlik ‘n vrou, met ‘n skerp tong. Die enigste punt van ooreenstemming is dat ‘n heks iemand is met vermoëns wat nie deur die hoofstroom begryp word nie.
Die anonieme heks-verteller is getroud met G, haar gade, maar het ‘n verhouding met M, haar minnaar. Sy is ‘n vryskut korporatiewe skrywer, maar ook ‘n voetsoldaat in drie oorloë, die een teen die gewetenlose uitbuiting van vrouens deur patriargie en die skoonheidsindustrie, die een wat woed in Oekraïne, en die een op haar eie tuisfront. Sy huil, vir ‘...al die vroue van die wêreld omdat hulle stukkend en belieg is en opgefok word deur boelies.’ (233), sy ‘...voel die Oekraïniërs se pyn.’ (225), maar is huiwerend voor die toetrede tot haar eie oorlog: ‘...die valbrug van my lippe bly verbete teen die tierende kartetse gesluit.’ (155)
Van kindsbeen af was stories en mites haar ontvlugting, die sneller vir haar metamorfose van ‘n weerlose slagoffer van alkoholgeïnduseerde gesinsgeweld, tot ‘n storieverteller wat haar eie eindes kan kies. As volwassene is juis dit weereens haar redding; Baba Yaga in die hoenderpoothuis, die kikimora agter die stoof, en die widmi van Lisa Gora, bemagtig haar innerlike heks om tot wasdom te bloei en haar soos die fluitjiesriet te kan laat uitroep dat die keiser donkie-ore het.
‘Heks’ ontroer, verleen vlerke, vermaak, begeester, onthul die stories binne stories en die uiteenlopende aard van oorloë. Ongetwyfeld een van my 2024-leeshoogtepunte.
⭐️⭐️⭐️⭐️⭐️ #Uitdieperdsebek