Speurder Adriaan Kruger verhuis saam met sy nuwe vrou na ’n dorp in die Suid-Kaap. Maar weldra vind hy onheil is nie beperk tot die grootstad nie.
Die egpaar is nog besig om hul voete te vind toe Adriaan met ’n raaiselagtige verdwyning en ’n vergiftiging gekonfronteer word. Hy vind ook uit van ’n onopgeloste saak wat lyk asof dit daarmee verband hou.
Drie misdade, wat oënskynlik geen raakpunte het nie, maar los jy één op, vermoed Adriaan, word die ander los drade ook vasgeknoop.
Tydloosheid is moeilik voorspelbaar, tyd alleen sal oordeel. Heruitgawes en herdrukke in soverre dit publikasies aangaan is ‘n maatstaf, maar nie die enigste nie.
In 2000 publiseer Human en Rousseau die eerste uitgawe van Drie misdade in ‘n knoop. Die skrywer word aangedui as Alex Muller, en die kopiereg verklap weinig meer deur bloot te konstateer: “Kopiereg deur die skrywer streng voorbehou.” Die voorafgaande romans, Die vyf susters (1998) en Die rooi angelier (1999), was by dieselfde uitgewer en met dieselfde minimale inligting uitgegee. Die vierde roman, Bloedbande (2001), is ewe vaag, maar in 2003 verklap Hotel Bergsig se agterplat dat Alex Muller ‘n skuilnaam van Eleanor Baker is, en na haar afsterwe in 2002, behoort die kopiereg aan die Baker Trust. Die reeks word nou heruitgegee onder Baker se eie naam.
Die protagonis in hierdie reeks is Adriaan Kruger, ‘n voormalige wewenaar-speurder wat melk bo alkohol verkies en sy hand aan origami waag, alhoewel sy kollegas min waardering vir sy pogings het en kwalik tussen ‘n swaan en ‘n hyskraan, of ‘n hoenderhaan en ‘n kraanvoël (22), kan onderskei. Desjare was die “knussie” genre nog relatief onbekend in Afrikaans, maar toe reeds was die reeks beskryf as soortgelyk aan die speurverhale van Agatha Christie. Die booswigte is alledaagse mense, nie vreesaanjaende monsters wat ‘n hele gemeenskap in vrees dompel nie, en die ondersoeker is maklik om mee te identifiseer en by aanklank te vind.
As gevolg van die gebeure in Die rooi angelier, verruil Adriaan, nou getroud met Karien, Gauteng vir Overberg, ‘n rustige dorpie in die Suid-Kaap: “Op ‘n kleiner plek moet Karien veiliger wees, moet die kanse minder wees dat sy as gevolg van sy werk in gevaar verkeer.” (6) Haar vrees vir verveling, “Jy gaan seker net een keer per maand uitgeroep word na ‘n plaas waar ‘n bok verdwyn het.” (8) word gou besweer toe ‘n boer spoorloos verdwyn. Al was hy, volgens alle aanduidings, ‘n onsmaaklike vent wat sy vrou mishandel het, moet hy immers opgespoor word. Dan word ‘n bejaarde dame vermoor – grusaam en slinks vergiftig – en dit word duidelik dat hierdie twee skynbare onverwante gebeure nie net met mekaar verband hou nie, maar ook met ‘n onopgeloste saak vanuit die verlede. Drie misdade vir die prys van een.
Humor is ‘n belangrike element van ‘n “knussie”, maar dit moet subtiel in die teks verweef word en neig na droog en terloops, eerder as na komedie en geforseerd. ‘n Uitstekende voorbeeld is die beskrywing van ‘n lyk: “Adriaan kyk af op die ou dame. Sy lê in die middel van die uitgesakte matras en behalwe dat sy dood is, lyk sy nie veel beter as die vorige keer nie.” (41)
Terug na tydloosheid. Ek het die roman in 2026 met dieselfde genot gelees as destyds in 2000.