Ballonne simboliseer feesvieringe, behalwe as ‘n hanswors rooies vanuit ‘n stormwatersloot uitdeel. Te danke aan Stephen King is daardie scenario eerder die voorspel tot ‘n gruwel. Die proloog van hierdie roman herinner aan ‘n Derry-toneel: Vier mediese studente is in ‘n hospitaalgang. Tande lê uitgestrooi op die vloer; die ligte begin een-een doodgaan, en ‘n opgeblaasde blou chirurgiese handskoen kom soos ‘n ballon aangesweef.
Die gordyn sak en open op ‘n nuwe toneel, voorafgaande tot die proloog.
Lola Anley rapporteer vir diens by die Noordeberg Hospitaal. Haar verblyf kom as ‘n verrassing; die glorieryke Straussmann-huis waar slegs die beste mediese studente mag tuisgaan, en wat sy met drie ander deel. Maar die proloog het immers gewaarsku dat onheil dreig en die eerste rammelings daarvan manifesteer toe sy besef dat die vorige inwoner van haar kamer, Asher Parker, ‘n jaar gelede grusaam in die krematorium vermoor is en dat die skuldige steeds op vrye voet is.
Spanningsverhale in kombinasie met die bonatuurlike word as rillers in die Afrikaanse literatuur beskryf. Dit verskil van die Engelse onderskeid tussen ‘thrillers’ en ‘horrors’, waar eersgenoemde normaalweg nie bonatuurlike elemente bevat nie en ook minder grafies is as laasgenoemde. Waar bloed kruip val, soos sy voorganger, Bloed van ‘n vlinder (2025), iewers tussen hierdie twee genre-beskrywings. Die raaiselelement is teenwoordig en die leser word ‘n leunstoelspeurder aan Lola se sy om die identiteit van die moordenaar te ontrafel voordat sy self ‘n slagoffer word. Daar is egter ‘n sterk suggestie van die bonatuurlike wanneer tonele waarvoor daar skynbaar geen reële verklaring is nie, ook ingesluit word.
Lola, as protagonis, is ook die enigste fokaliseerder. Haar geloofwaardigheid is derhalwe die leser se enigste bron van waarneming. En juis hier word ‘n heerlike kinkel in die kabel by die teks ingesluit: Sy was, tot onlangs, in ‘n psigiatriese kliniek. Haar tweelingsuster, Mandi, is oorlede, maar verskyn steeds aan en kommunikeer hoorbaar met haar. Ten spyte van die waarskuwing: “Partykeer gee ons liggame en gedagtes vir ons inligting wat nie in die werklikheid pas nie. Ons sien dinge, hoor dinge.” (100) hou sy vol dat sy nie hallusineer nie, dat dit haar werklikheid is.
Die leser moet dus ‘n tweeledige raaisel oplos; ‘n waardeoordeel aangaande Lola se betroubaarheid as waarnemer moet gemaak word voordat die leidrade ontleed en die moordenaar se identiteit bepaal kan word. Net om sake selfs meer te kompliseer, is Lola self nie oortuig van haar eie geloofwaardigheid nie: “...die moontlikheid dat dit dalk net haar verbeelding was, maak haar banger.” (102)
Die roman is oorspronklik in 2020 deur Nukkerig (Edms.) Bpk gepubliseer, maar die 2026-uitgawe is bygewerk en ‘n paar addisionele kinkels is bygevoeg; perfek vir lesers wat bietjie gil by hulle gril verkies.
Die was so boeiende storie! Van die begin af het die skrystyl my aandag getrek en ek moes gereeld keer om nie vooruit te lees nie omdat ek deel was van Jonathan Ball Uitgewers se leesfees. Maar toe daai laaste paar hoofstukke so intens begin raak kon ek nie myself keer nie, ek moes net weet wat aangaan en wie die skuldige party is.
Ek het 'n spesmaas gehad oor een van die karakters, en ongelukkig was ek so verkeerd as wat kan kom, maar wie die eintlike persoon was, was net so verbasend! Ek was ook reg om te sê ek vertrou niemand nie want die skuldiges het net meer en meer geword.
Die is 'n wonderlike boek vir diegene wat hou van rillers, ek sal definitief dit aanbeveel.
Baie dankie aan Marieta Carrick en Jonathan Ball Uitgewers vir die leesfees, die boekpakkie en die lekkernye!
-----
This was such a captivating story! From the beginning, the writing style caught my attention and I often had to stop myself from reading ahead because I was part of Jonathan Ball Publishers' reading festival. But when those last few chapters started to get so intense I couldn't stop myself, I just had to know what was going on and who the guilty party was.
I had a sneaking suspicion about one of the characters, and unfortunately I was as wrong as can be, but who the real person was was just as surprising! I was also right to say that I don't trust anyone because the guilty parties just kept increasing.
This is a wonderful book for those who like thrillers, I would definitely recommend it.
Many thanks to Marieta Carrick and Jonathan Ball Publishers for the reading festival, the book package and the goodies!
Waar Bloed Kruip is ’n donker, atmosferiese riller wat my onmiddellik terugneem het na die geheimsinnige wêreld van Noordeberg Hospitaal. Die verhaal volg Lola Anley, ’n talentvolle mediese student wat ’n plek kry in die eksklusiewe Straumann Huis. Haar opgewondenheid verander vinnig in ongemak wanneer sy uitvind dat sy in die kamer van Asher Parker gaan bly, ’n student wat ’n jaar tevore vermoor is. Die moord is nooit opgelos nie, en die spanning rondom hierdie onvoltooide verhaal vorm die kern van die boek.
Carrick skep ’n beklemmende atmosfeer waar elke karakter verdag voel en elke kamer ’n nuwe bedreiging kan inhou. Die vreemde insekte plae, die aggressiewe huismaats en die nagmerries oor Lola se oorlede tweelingsuster dra almal by tot ’n gevoel van konstante onstabiliteit. Wat die boek besonders maak, is hoe dit die uiterlike spanning balanseer met Lola se innerlike stryd. Sy is nie net ’n slagoffer van omstandighede nie, maar ’n jong vrou wat probeer oorleef, studeer en sin maak van haar eie verlede.
Die raaisel rondom Asher se dood word stadig en slim opgebou, en die finale onthullings voel bevredigend en maak sin. Waar Bloed Kruip is perfek vir lesers wat hou van mediese thrillers, sielkundige spanning en stories waar niemand heeltemal is wie hulle voorgee om te wees nie.
Hierdie boek het my van die eerste bladsy af vasgevang. Waar Bloed Kruip is ‘n storie vol spanning, emosie en verrassings wat jou heeltyd laat raai oor wat volgende gaan gebeur. Ek kon eenvoudig nie die boek neersit nie.
Marieta Carrick se skryfstyl trek jou diep in die storie in en laat jou voel asof jy saam met die karakters elke geheim en elke onthulling beleef. Die spanning bou perfek op, en net wanneer jy dink jy weet wat aangaan, gebeur daar weer iets wat alles verander.
Dit is een van daardie boeke wat jou heeltemal opslurp – jy sê vir jouself “net nog een hoofstuk”, en voor jy jou oë uitvee is dit baie later as wat jy beplan het.
‘n Absolute fantastiese leeservaring wat ek vir enige iemand sal aanbeveel wat hou van ‘n storie wat jou laat dink, voel en heeltyd op die punt van jou stoel hou.
Waar Bloed Kruip is werklik 'n uitsonderlike sielkundige riller wat my van die begin af op die punt van my stoel gehad het!🤯 Marieta se skryfstyl was uitsonderlik en boonop fassinerend. My brein het voortdurend oortyd gewerk met al die moontlike uitkomste. Al die karakters was 'n misterie en my vermoede oor elkeen het dubbeltyd gewerk.... 👀
Daar is baie teorieë en spekulasies wat my gedagtes aan die gang gehou het, en ek is mal daaroor dat terwyl ons hierdie geheimsinnige oomblikke beleef, ons steeds ons dokters doktersdinge in die hospitaalomgewing sien doen🩺 Die mediese aspekte was regtig interessant en maklik om te volg, wat iets is wat ek altyd sal waardeer van 'n skrywer as iemand wat nie kundig is in die mediese veld nie😅
Ek kan nie wag om meer van @marietacarrickauthor se stories te lees nie en ek sal beslis my oë op haar toekomstige werk hou😍 Bloed van n Vlinder is reeds op my tbr 🦋✨️
Weereens baie dankie aan @jonathanball_local vir hierdie saamlees geleentheid, ek het dit vreeslik baie geniet!💛
Lola Anley het gedink sy kan skoon begin by Noordeberg Hospitaal. Sy het nie geweet wat die gange van die hospitaal wegsteek nie.. en as die mure kon praat.
As een van die top mediese studente het sy haar plek in die gesogte Straumann-huis gekry en sy bly nou saam met 3 ander studente ook in die huis. Sy het ook ontdek dat sy nou die kamer van Asher Parker gaan inneem wat n jaar gelede vermoor is en hierdie moord was een groot onopgeloste raaisel. Alles was opwinded, totdat sy vreemde goed begin sien en hoor; haar oorlede tweelingsuster inkluis.
Lola het n verlede, maar die probleem met verledes is dat hulle soms kop uitsteek.
Die tempo van die storie was vinnig. Die skrywer het so geskryf om leser boeiend en in spanning te hou. Daar was so een of twee plekke met tikfoute.
In die 27ste hoofstuk toe dink ek, ek weet wie die moordenaar is, tot my skok... Maar dit is nie die ergste nie... Dis die Epiloog wat my nou laat sit met amper 50 vrae...
Vir enige een wat lief is vir die hospitaalruimte mediese sielkundige riller, hierdie boek is vir jou.
Lola is n mediese student wat oorgeplaas is van n ander hospitaal nadat iets met haar gebeur het.
Wanneer sy by Noordeberg Hospitaal aankom, vind uit sy gaan in die kamer bly waar 'n top student 'n jaar gelede op kampus vermoor is. Asher se dood is nooit opgelos nie. Lola voel dis haar plig om uit te vind wat met Asher gebeur het wanneer sy haar oorlede tweeling suster begin sien en hoor praat.
So baie dinge gebeur en jy weet nooit wat eintlik die werklikheid is nie, of wie die skuldige is nie.