Wat gebeur met ’n man wat sy lewe elke dag in gevaar stel en later telling verloor van die aantal misdadigers wat hy al doodgeskiet het? As baasspeurder by die Wes-Randse Moord- en roofeenheid was Charles Miller betrokke by die meeste skietgevegte waarin misdadigers dood is. Die eenhede was beroemd en berug vir die wyses waarop hulle gewapende roof- en moordsake in die sewentiger- tot negentigerjare opgelos het. In die dae van sensasiewekkende bankrowe soos die Krugersdorpse tonnelbankroof, gesinsmoorde en passiemoorde wat die gemeenskap geruk het, is daar nie sagkens met misdadigers gewerk nie. Charles se storie is enersyds die verhaal van die Moord- en roofeenhede se hardhandige werkwyse. Dit is andersyds ook die verhaal van bloedbesmeerde moordtonele, smerige informante en die trauma waaraan speurders in die uitvoering van hul pligte blootgestel is. Oor die jare moes Charles talle kollegas aan die dood afgestaan. Die enigste ontlading is in brandewyn en Coke gevind. ’n Sielkundige beskryf wat polisielede aan die gang hou en wat in hul psiges gebeur wanneer hulle aan onmenslike trauma blootgestel word. ’n Ware verhaal van die donker kant van die samelewing en van wat dit kos om misdadigers aan die pen te laat ry.
Albert Blake is ’n Suid-Afrikaanse skrywer, geskiedkundige en prokureur van Roodepoort. Hy is ook 'n navorsingsgenoot verbonde aan die Department Geskiedenis van die Universiteit van die Vrystaat.
Ek wonder hoeveel mense het hierdie boek misgeloop, want ek kry die indruk dit het ver onder die radar gevlieg. Miskien is ek verkeerd.
Blake vat die spoor van Charles Miller, legendariese speurder by die destydse Wes-Randse Moord-en-Roof-Eenheid. In die proses krap hy ‘n skatkis van meestal onbekende (vir die wye publiek) moordsake oop.
Nou met skatkis bedoel ek nie dat dit prettig is nie – maar dit skets soos min boeke die realiteit van wat moordspeurders aan blootgestel is op ‘n feitlik daaglikse basis. Dit nou boonop in die ou bedeling, toe hierdie dinge nog redelik onder beheer was. Van sinnelose aanranding en moord op ‘n tenger jong man in die middel van die nag, tot ‘n 28-jarige vrou wat verkrag, keelaf gesny en gemutileer word, tot ‘n “onskuldige” koeël wat in die lug afgevuur word en ‘n dogtertjie ‘n ent verder in ‘n huis dood. Tussendeur is daar bankrowers, swendelaars, onluste en nogmaals gewetenlose geweldenaars.
Die boek bring die fanatiese toewyding wat hierdie speurders tot hulle werk gehad het na vore in ‘n era waar bitter min moordsake nie opgelos is nie. Maar dit delf ook dieper as dit. Dit vra bv. vrae oor die doodstraf. “ In die dekade na die afskaffing van die doodstraf is 250 000 mense in Suid-Afrika vermoor. Dit is veel meer as die totale aantal Suid-Afrikaners wat in die voorafgaande 150 jaar se oorloë in die land gesterf het.” Vir baie speurders was die afskaffing van die doodstraf ‘n knou vir hulle moraal, want dit het gevoel of hulle al die harde werk doen en hulle nekke uitsteek net sodat ‘n geweldenaar oor ‘n paar jaar weer die strate kan betree.
In die woorde van prof. Carel Snyman uit die boek: "'n Strafregsisteem wat voorgee dat die reg op lewe die hoogste reg is, maar wat in die praktyk eindig met een van die hoogste pro-rata moordsyfers te wêreld, is 'n siek sisteem wat met verwronge beginsels werk." Marteling van gewelddadige kriminele deur die speurders om so gou as moontlik ‘n skuldigbevinding te bewerkstellig kom ook onder die vergrootglas. Aan die een kant die argument van jy kan nie op hoë grond aanspraak maak as jy jouself aan dieselfde dinge as die misdadiger skuldig maak nie. Dan aan die ander kant die speurders se standpunt: moet ‘n geweldenaar eerder weer vry loop om hulle dade voort te sit as om ten alle koste weggebêre te word? Daar is nie ‘n maklike antwoord nie.
Dit ontbloot ook die effek wat die konstante blootstelling aan moord en dood op Miller (en natuurlik almal in dieselfde posisie) gehad het. Selfs meer as 20 jaar nadat hy die polisie verlaat het ly hy steeds aan chroniese post-traumatiese stres. Die boek gaan in meer besonderhede oor spesifieke dinge waarmee hy sukkel in – bv. hoe hy sukkel om te stort na ‘n reeks moorde in mynstorte, en hoe die reuk van Lifebuoy seep wat deur die myners gebruik is nagmerries in hom wakker maak.
Hierdie is ‘n belangrike boek, en ek dink veral die jonger geslag, die “defund the police”-crowd, moet bietjie hier lees wat dit vat om die polisiewerk te doen wat jy vanaf jou veilige rusbank op ‘n fênsie selfoon sit en kritiseer. Om te sien met watter euwels daar op ‘n daaglikse basis mee gehandel word, en of jy dink jy die heeltyd jou pose mooi sal kan hou onder alle omstandighede soos wat blykbaar van polisiemanne verwag word.
Moord-en-Roof skep ‘n boeiende beeld van speurwerk en misdaad uit ‘n vergane era, en dit laat ook nie na om dieper vrae te vra en die menslike ervaring na vore te bring nie.