#SoetroosVanSaron – Theolla Langenhoven
#Kwela
Vertalers en teksinterpreteerders verskil oor die tipe blom wat deur die Hoogliedskrywer besing was; sommiges reken dit was ‘n narsing, ‘n tipe lelie, eerder as ‘n roos. Laat dit wees wat dit wil, vir die doeleindes van hierdie roman is die blom van die klein dorpie Saron se naam Delicia Basson.
Haar ongekunstelde en beskermde omgewing waar sy streng volgens die Bybel grootgemaak is deur Ouma Toesie, is ligjare verwyder van die rykmansbuurt in Stellenbosch waar sy, te danke aan ‘n studiebeurs van die Nichols-familietrust, haar intrek neem toe sy as student by die universiteit aldaar aanvaar word.
Ouma was beide ma en pa nadat haar eie ouers kort na haar tiende verjaarsdag in traumatiese omstandighede gesterf het. Sy is ‘n streng matriarg met ononderhandelbare beginsels: “Niks is vir Ouma belangriker as ‘n netjiese huis nie, want as die dood in die nag kom, moet niemand kan sê jy was morsig nie.” (10) Haar addisionele bron van inkomste, “Ouma verkoop biere om die pot aan die kook te hou” (84) is wel ‘n oënskynlike teenstrydigheid, maar Delicia is daarteen beskerm: “Uhm, ek het nog nooit wyn of so gedrink nie...” (37)
Die studentelewe aan huis van die Nichols-gesin open ‘n heel nuwe wêreld vir Delicia. Sy het daar arriveer in die buurman, Oom Tas, se geroeste Cressida; nou neem ‘n chauffeur haar na haar klasse in ‘n luukse wit Mercedes. Manikure, pedikure, ontwerpersuitrustings en gesigsbehandelings is hier die alledaagse.
Spreekwoorde mag as clichés afgemaak word, maar hulle ontstaan is meestal in die realiteit gewortel. In hierdie geval, bo blink en onder stink. ‘n Naïewe meisie van die platteland is nie opgewasse teen gekultiveerde koelbloedigheid en die mag wat rykdom verleen nie, veral nie as sy boonop saggeaard en goedhartig genoeg is om selfs ‘n fladderende mossie uit die water te help: “Toe die voëltjie naby genoeg is, gee sy hom ‘n hupstoot terug tot op die blaar.” (69)
“En plaasjapie-ekke val toe vir alles, want ek was nog nooit verder as Wellington nie.” (163)
Delicia se traumatiese kinderjare en ervaring van uiterste vorme van geslagsgebaseerde gesinsgeweld was weliswaar die rede vir Ouma Toesie se oorbeskerming en die pyn daarvan sou haar lewenslank bybly, “G’n mens kan soe ‘n storie vetel en orraait wiesie...” (88), maar dit is terselfdertyd die bron van haar krag om op te staan teen misdadigheid wat met geld en mag gewapen is: “Ek wil nie soos my ma opeindig nie.” (166)
Shunté, of soos Ouma Toesie sê, Santay, is nie net Delicia se nuwe boesemvriendin en vertroueling nie, haar sin vir humor in kombinasie met die afwesigheid van die wag voor haar mond, is boonop ‘n vermaaklike aspek van die teks: “Hoekom as mens seekry of sad is, bring hulle vi mens sykewater? Waa oppie pak staan daa: Gebryk vi skok?” (151)
Die verskil in taalgebruik van hierdie twee karakters is realisties en oortuigend en aksentueer die verskille in hulle grootwordplekke en -omstandighede, terwyl Shunté se Kaaps aangewend word om ‘n ligter aanslag tot die lewe teenoor Delicia se standaard-Afrikaans te illustreer. ‘n Moontlike punt van kritiek hier is egter dat die vertellerstem en die van Delicia moeilik onderskeibaar is.
‘n Verwysing na Julian Jansen se relevante Moord op Stellenbosch, is subtiel in die teks geplaas (21), en ‘n intertekstuele paaseier wat hulde bring aan Bettina Wyngaard se Nicci de Wee en haar geliefde Sally (“Sally de Wee” – 237) is ewe gepas.
‘n Tegniese fout op bladsy 235 krap effens, strafsake het nie “defendants” nie, wel beskuldigdes; die persoon hier aan die woord is die staatsaanklaer, wat nie daardie fout sou gemaak het nie.
Niks hiervan doen egter afbreuk aan die feit dat hierdie debuutroman sosiale werklikhede vreesloos en outentiek aanspreek nie. Delicia se onskuld in jukstaposisie met die klatergoud van bevoorregting, vergroot die impak van die skokkende onregte wat teenoor haar gepleeg word. Die teks is nie onnodig donker nie en behou hoop en moed op positiewe uitkomste desnieteenstaande die euwels van ongelykheid en gewetenlose uitbuiting.
#Uitdieperdsebek