Laat ek reg aan die begin bieg: ek was nog nooit ’n gretige leser van misdaadfiksie nie. Maar ek is vinnig besig om agter te kom dat ek iets mis. Op die oomblik beperk ek my tot Deon Meyer, Robert Galbraith en die Yslander Yrsa Sigurdardóttir, met enkele ander ekskursies in die genre – bloot weens die geweldige aanbod, en dalk ook omdat ek van my brillense ligroos getint hou.
Maar ek weet wanneer ’n storie my beetpak en boei, wanneer ek hulpeloos oorgegee is aan die krag van ’n vertelling. En dit kry Martin Steyn reg met Skuldig – ek het vasgenael gelees.
Steyn het in 2014 gedebuteer met Donker spoor, waarin Jan “Mags” Magson die marteldood van ’n aantal tienermeisies ondersoek het. Hy het sedertdien van loopbaan verander: die ontsteltenis was te groot. Sy spanmaat, Colin Menck, moet nou in Skuldig met ’n nuwe medewerker saamwerk: Derek Winters is 15 jaar jonger as hy en al is daar nie fout met hom nie, voel Menck ongemaklik sonder Magson om hom by te staan.
Dan word ’n middeljarige tandarts in sy huis tereggestel – die moord is klaarblyklik baie professioneel gepleeg. Voor sy dood het die slagoffer met sy eie bloed die woord “skuldig” teen die muur geskryf. Die rede vir die moord, die rede waarom Willem Vorster as “skuldig” gesien word, is duister.
’n Week later is daar nog so ’n moord. En kort daarna ’n derde. Wat is die gemeenskaplike faktor? Is die reeks eindeloos, of is daar ’n stel mense wat skuldig is aan een bepaalde daad?
Menck, as sentrale karakter in Steyn se tweede boek, worstel met hierdie saak, veral met die komplisering daarvan. Hy is ’n enigmatiese kernfiguur, uniek onder die speurfigure waarvan ek kennis dra, omdat hy nie gebuk gaan onder ’n gebrek of ’n krisis in sy lewe nie. Hy is ’n gelukkige gesinsman, baie verlief op sy vrou, gaande oor sy kinders – en uiteindelik word hierdie liefde, hierdie geluk, deel van die verhaal.
Steyn bevolk sy roman met ’n hele aantal interessante karakters wat Menck bystaan in sy werk. Die verhoudinge wissel, maar is meestal gemaklik omdat hulle mekaar lankal ken. Soms is die gesprekke by ’n moordtoneel lighartig, ligsinnig selfs; die leser kom gou agter dat hierdie gemeensaamheid nie disrespek aandui nie, maar ’n poging om die wrede werklikheid van die taak te hanteer. Die karakteruitbeelding sorg dat die leser omgee vir die mense wat ons samelewing beveilig; jy wil hê hulle moet slaag in hul doel en heelhuids uit die stryd tree.
Nog ’n sterk punt in Steyn se vertelling is die gedetailleerde beskrywing. Dis duidelik dat hy deeglik navorsing gedoen het en baie goed weet hoe ’n lykskouing byvoorbeeld werk. Die besonderhede verryk die verhaal (selfs al raak dit soms effens grillerig!), bring die leser onder die indruk van die erns van die verhaal en sorg ook dat jy weet hoe opmerksaam ’n polisielid met misdaadtonele en speurwerk moet omgaan om suksesvol te vorder. Die detail sorg ook dat die verhaal deeglik in ons dag en tyd geanker is.
Ek reken dat ook meer ervare misdaadlesers Skuldig sal geniet. Die deernis waarmee Steyn sy karakters uitbeeld en die helder beeld wat hy skep van die omgewing en die misdade verseker dat ek beslis in die toekoms leestyd sal afstaan aan sy verhale – en hy beter vinnig skryf aan die derde boek, want Skuldig maak dit heeltemal te duidelik dat die lewe nie eindig by die laaste bladsy nie! (Resensie geskryf vir Media24 se Boekeblad)
Steyn's second novel is a rewarding read, even if one is not a seasoned reader of crime fiction. He has done thorough research, draws his characters with empathy and entices the reader to read almost without breaking right to the end. And then bite nails while awaiting the third novel - what a cliffhanger!