Aangrypend, ontroerend, inspirerend. - Marita van der Vyver ‘n Alledaagse gesin. ‘n Onverwagse krisis. ‘n Kind was haar gesin soos ‘n growwe klip skuur en vorm … ‘n onvergeetlike leeservaring. - Hanlie Retief Tydens ’n gesinsvakansie raak die sewejarige Anneke siek en draai by die dood om. Sy herstel, maar met ernstige weens breinskade word haar verstandelike agteruit-gang elke maand meer sigbaar. Om die sprankelende kind wat lag en presteer te behou, en die naderende gestremdheid af te weer, gaan die gesin op ’n soektog na ’n wonderkuur. Alles word probeer, van alternatiewe behandelings en ’n vreemde dieet tot ’n besoek aan die profeet TB Joshua in Nigerië. Soos die siekte toeneem, word alles vir Juliana vreemd en onherkenbaar – haar kind, sy self en haar gesin. Sy voel onbevoeg om haarself of haar gesin te red. Haar eens vrolike huis word ’n plek waar elke lid van die gesin op ’n ander manier leer om te oorleef. Want Anneke se siekte laat almal se unfinished business uit die kas val. Juliana se pad na aanvaarding dwing haar uiteindelik om ook op haar eie spore terug te loop en haar idee van ma-wees te heroorweeg. Bloedvreemd vertel die aangrypende verhaal van ’n ma se poging om haarself en haar gesin heel te hou en vrede te maak met ’n kind wat nou “in ’n ander vorm leef”. Juliana Coetzer skroom nie om te wys wat in die binnekamers van haar huis gebeur nie en laat die leser beurtelings saam met haar huil én lag.
Ek gee nie maklik vyf sterre nie, want dit impliseer volmaaktheid en ek dink geen boek kan volmaak wees nie. Die groot toets is of 'n boek my aandag enduit kan behou, want ek het nie die beste aandagspan in die wêreld nie. En daar is soveel ander boeke wat wag om gelees te word dat mens nie tyd kan mors op iets wat jou nie werklik boei nie. Bloedvreemd kry vyf sterre, want dit het my laat aanhou lees tot my oë nie verder kon nie. En dit was die moeite werd. Dis die aangrypende ware verhaal van 'n gesin wat eintlik 'n kind verloor, hoewel sy aan die lewe bly vashou het. Maar dis ook die verhaal van 'n ma wat verlies op soveel vlakke ervaar en wat uiteindelik ook voor die sentrale kwessie in haar lewe te staan kom. Die skryfstyl is gemaklik, met fyn skerfies humor wat die hartseer verlig. Daar is nie goedkoop sentimentaliteit of selfbejammering nie. Die gesin se worsteling word eerlik weergegee en geen maklike oplossings word aangebied nie. Uiteindelik is dit 'n verhaal waarin hoop en liefde seëvier. 'n Boek wat elke ma en elke dogter moet lees.
Ek lees maar min 'ware' verhale. Lees is vir my ontsnapping - die werklikheid is meesal werklik genoeg. Maar toe koop ek Bloedvreemd, uit nuuskierigheid meer as enigiets anders, en toe ek begin lees kan ek nie weer ophou nie. Ek lees tot my oë toeval en toe hulle oopgaan, strek ek eerste my hand uit na my e-leser om verder te lees. Bloedvreemd skop mens in die hart, keer op keer. Jy lag en jy huil tegelyk.
Juliana is een van die eerlikste en dapperste mense wat ek nog ooit teëgekom het. Sy is snaaks, weerloos, woedend, eerlik - alles in een gerol. Ek verstaan SO hoe sy soms oor Anneke gevoel het, omdat ek nog altyd glo die Here weet vir wie om gestremde kinders te gee, want ek sou dit nie gemaak het as ma vir 'n gestremde kind nie. Juliana leer my dat mens doen wat jy moet doen, of jy nou wil of nie. Want jou kind bly jou kind en liefde vir jou kind strek verby alle grense en uithouvermoëns
Ek neem 'n paar aanhalings uit haar boek met my saam vorentoe:
Dit is hoe jy jou vriende kies: hulle moet meer vertroue in jou hê as wat jyself het
Ek moes leer as iets nie perfek in my oë is nie, beteken dit nie dit het ‘n fout nie.
Ek moes leer om lief te hê al pas dit nie in ‘n vierkantige boks nie.
En ek moes leer dat ek myself kan vertrou om moeilike situasies te hanteer.
Ek moes my krag sien sodat ek almal s’n kan sien.
“You’re braver than you believe, and stronger than you seem, and smarter than you think.”
Ik heb dit boek gekocht en gelezen nadat ik de link had doorgekregen van een vriend. Ik moet eerlijk toegeven dat ik dit boek anders nooit had gevonden en gelezen, maar ik heb er zeker geen spijt van gehad. Ik ben geen fan van het genre sick-lit (lees: boeken over zieke kinderen met veel drama en zelfbeklag) en ik was dan ook blij dat dit helemaal niet in dit rijtje thuishoort. Ja, het is non-fictie en het gaat over een ziek kind, maar het is ook zoveel meer dan dat. De emoties zijn rauw, de verhaallijn veel breder en de uiteindelijke conclusie is eentje waar iedereen een boodschap aan heeft (ook al is je eigen situatie mijlenver weg van deze van de schrijfster). Verder gaat het niet zozeer over een ziek kind, maar een moeder en haar leven - en het kind is een deeltje van dat leven (en dat alles zonder dat storende zelfbeklag). Het boek is in het Afrikaans geschreven, maar dat mag Nederlandstaligen zeker niet tegenhouden. Bepaalde uitdrukkingen of nuances gaan misschien wat verloren, maar het boek leest vlot en gevoelens gaan verder dan taal. Persoonlijk vond ik het zelfs leuk om Afrikaans te lezen en zo wat bij te leren - zowel op linguistisch vlak als over de cultuur. Respect voor de schrijfster dat ze haar toch wel geladen historie in zulke vlotte pennenvrucht heeft omgezet.
Blurb: Tydens ’n gesinsvakansie raak die sewejarige Anneke siek en draai by die dood om. Sy herstel, maar met ernstige breinskade wat haar verstandelike agteruitgang elke maand meer sigbaar maak. Om die sprankelende kind wat lag en presteer te behou, gaan die gesin op ’n soektog na ’n wonderkuur. Alles word probeer, van alternatiewe behandelings en ’n vreemde dieet tot ’n besoek aan die profeet TB Joshua in Nigerië. Soos die siekte toeneem, word alles vir Juliana vreemd en onherkenbaar – haar kind, sy self en haar gesin. Juliana se pad na aanvaarding dwing haar uiteindelik om haar idee van ma-wees te heroorweeg. Bloedvreemd vertel die aangrypende verhaal van ’n ma se poging om haarself en haar gesin heel te hou en vrede te maak met ’n kind wat nou “in ’n ander vorm leef”.
My indrukke: Alhoewel die boek 'n ware verhaal is, het dit vir my gelees soos 'n riller. My simpatie vir wat die hele familie moes deurgaan, het geen einde nie. Ek was op 'n stadium oortuig dat die skrywer se huwelik nie die tragedie gaan deurstaan nie. Gelukkig was ek verkeerd. Die openhartigheid waarmee die skrywer die verhaal vertel, is verbysterend, en ek is seker die lesers het steeds nie 'n idee van die regte gebeure en gevoelens nie. Hoe hulle staande bly, gaan my verstand tebowe.
Daar was oomblikke waar ek letterlik hardop gelag het, soos toe sy vir Fanus gryp in die kerk en hom vertel dat hy moet seker maak sy val nie. Sy wil nie haar naam met 'n plank slaan voor al die mense nie. Dis so eg menslik dat ek nie kon help om te lag nie. Maar vir die meerderheid van die boek was ek regtig na aan trane, en toe ek laataand gisteraand die boek klaar lees, het ek gevoel asof ek vuisvoos en emosioneel uitgemergel is. Dit gaan my 'n wyle neem om die boek te verwerk.
Nietemin is dit een boek wat sy volle vyf sterre verdien. Ek het hom nie in een sitting gelees nie (een van my kriteria vir 'n vyfster toekenning). Ek kon ook nie wag om hom verder te lees nie. Nee, ek het eerder uitgestel en bietjies vir bietjies in die smart en tragedie myself begewe. Oor laasgenoemde kry die boek 'n vyfster instede van 'n vier. Die boek was vir my so ontstellend dat ek nie met gemak weer die boek kon optel nie. Ek het hom eerder in 'n Jellytot-pakkie gelees (ek het asma en enigiets meer as drie jellytots lei tot 'n aanval). Ek het net genoeg gelees om myself te beskerm teen 'n psigiese asma-aanval.
Gisteraand, toe besluit ek, ek het nou lank genoeg oor die storie gehuiwer en getalm. Dit is 'n briljante boek, een wat altyd by my sal spook.
Daar is ’n Engelse uitdrukking wat lui: to get more than you bargained for. Dit som goed op hoe ek voel nadat ek Juliana Coetzer se outobiografie gelees het. Bloedvreemd was véél meer as dit waarop die agterplat my voorberei het. Ja, die leser kry indiepte insig in hoé ’n lewenslustige sewejarige deur ’n siekte wat begin by ’n virus, afgetakel word na ’n aggressiewe, psigotiese gestremde jongmens. Ook hoe ’n ernstige siekte in ’n gesin die dinamika verander en niemand onaangeraak laat nie. Dit word aangebied in ’n gemaklike skryfstyl, sonder onnodige drama of sentimentaliteit.
Wat egter daardie ekstra boeiende element verskaf, is die oopvlek van Juliana se geheim, dit wat aan haar ’n bedelvrou-mentaliteit gegee het. Daardie beeld bly by mens spook en dra daartoe by dat die boek hom nie laat neersit nie.
Mens sal baie grepe uit die boek kan aanhaal, maar dan moet jy dit byna herskryf. Ek sal volstaan met: "En nou het ons nie net te doen met Anneke se agteruitgang nie, maar ook met ons eie onvermoë om dit te hanteer. Albei se unfinished business is besig om uit die kas te tuimel" (p.65) en "Hy wil fisies aan my kan vat en ek wil hom emosioneel naby my voel. Ek wil hê hy moet my sien, my hóór. Hy wil seker dieselfde hê." (p. 60)
Juliana Coetzer is die dapperste, sterkste vrou wat ek ken. In Bloedvreemd maak sy haar huis en hart oop vir die leser. Haar eerlikheid, weerloosheid en sin vir humor is alles dinge wat hierdie boek uiters suksesvol maak. Sy erken prontuit dat sy nie 'n gestremde kind wou hê nie, dat sy haar eie drome moes opgee daarvoor. Sy wou dikwels wegloop. Maar sy het nie. Sy het gebly en haar eie vrese sowels as die vrese van haar dogtertjie Anneke, wat met Landau Kleffner-sindroom gediagnoseer word, hardnekkig beveg. Bloedvreemd sal die leser nie onaangeraak laat nie; dit is 'n aangrypende verhaal wat brutaal eerlik, maar met baie deernis, vertel word.
'n Ware verhaal, outobiografies, maar nie tranetrekkerig nie. Bloedvreemd is op soveel vlakke die boek wat my die diepste geraak het in 'n baie lang tyd.
'n Ware verhaal, outobiografies, maar nie tranetrekkerig nie. Bloedvreemd is op soveel vlakke die boek wat my die diepste geraak het in 'n baie lang tyd.