#KapteinOnderbroekEnDieWraakVanProfessorPoepenpoel – Dav Pilkey
#HumanenRousseau
George en Harold is verantwoordelike kinders: “Die enigste probleem is dat hulle verveeld raak by die skool.” (13) Naas poetse bak, is hulle gunsteling tydverdryf die skryf en teken van hulle eie strokiesboeke. Hulle fokus op superhelde soos ‘Hondman’; ‘Timmie die Tjommeltoilet’ en ‘Die verstommende koeivrou’. Hulle is ook alleenhouers van ‘n groot geheim: Hulle mislike skoolhoof verander in ‘n superheld, geklee in slegs ‘n onderbroek en ‘n rooi gordyn as mantel, indien hy vingers hoor klap; die befaamde Kaptein Onderbroek.
Weens die ontydige bedanking van Leergierig Laer se wetenskaponderwyser, mnr. Feite, word ‘n slim uitvinder van bisarre items, professor Poepenpoel as nuwe onderwyser aangestel. Die kinders se gespot met sy naam lei tot ‘n onbeheersde woede-uitbarsting en ‘n besluit om die planeet ‘n les te leer met sy uitvindsels wat alles of baie groter, of baie kleiner, kan maak. Daar is net een superheld wat die wêreld moontlik kan red..... (tromgeroffel)...Kaptein Onderbroek !
Dav Pilkey het as kind reeds sy eie strokiesprentboeke uitgedink, geskryf en geteken, wanneer hy gestraf was weens sy aandagafleibaarheid en disleksie. Vandag is sy werk internasionaal beroemd en dis heerlik om dit ook in Afrikaans te kan geniet. Hierdie titel, die vierde in die reeks, is in Engels gepubliseer as “Captain Underpants and the Perilious Plot of Professor Poopypants” en die Afrikaanse vertaling is deur Kobus Geldenhuys.
Strokiesverhale is al dekades lank die wortel voor die neus van onwillige lesers en Kaptein Onderbroek sal selfs die onwilligste jong leser verlei om minstens die blaai-en beweeg insetsels te probeer – wat jong lesers toelaat om hulle eie animasiefliek te maak, en hulle aanmoedig om hulle eie byklanke te skep Verdere bonusmateriaal sluit ook ‘n kort Hondman-strokie,‘n lys pretfeite en ‘n speletjie wat alledaagse name in humoristiese weergawes omskep, in.
Die reeks word aanbeveel vir trae en sukkelende lesers van 6-9 jaar.
#uitdieperdsebek